As gevolg van nuwe tegnologie en sosiale media platforms, word bruide deesdae oorweldig met ʼn reuse verskeidenheid trou inspirasie, temas en style. Uiteenlopende prentjies en idees lei tot ʼn verwarde bruid wat nie weet hoe om al die style bymekaar te bring nie. Annika het egter nié in die strik getrap nie. Haar trou inspirasie was drie eenvoudige woorde: Roos-goud geometriese vorms. Maar moenie dink dís waar die dekor gestop het nie! Haar aanvanklike trou inspirasie het gedien as ʼn basis waarop haar dekor gebou is. Sy het helder, diep kleure gekies om daarby aan te pas. Asemrowende blommerangskikkings, kleurvolle kerse en ʼn dak gevul met “fairy lights” het gesorg vir ʼn pragtige trou omgewing en ʼn romantiese atmosfeer.
Rol af vir foto’s van Gideon en Annika se spesiale dag. Wie weet, dalk ontdek jy daardie een woord waarop jy jou trou inspirasie kan baseer!
Paartjie se Liefdesreis
Ek en Gideon het op skool ontmoet en in graad 11 het hy my gevra om sy meisie te wees. Ons het albei by Tuks gaan studeer, waar ons deel van ʼn koshuis was. Ons het albei in 2018 begin werk en op 1 Junie 2019 het ons verloof geraak. Gideon het my bederf met ʼn wegbreek naweek na die Bosveld – my gunsteling plek. Die Saterdagoggend het hy my verras met pannekoek en koffie in die bed en sy hart voor my kom neerlê. Ek kon nie anders as om dadelik ja te sê nie!
Die Verlowing Tydperk
Ons was vir 7 maande en 24 dae verloof, waartydens ons die troue self beplan het. Dit was nog altyd my en my ma se droom om my troue eendag self te beplan. My ma was aan die hoof van die beplanning en die strooimeisies en strooijonkers het uitgehelp waar nodig. Gideon het al die administrasie rondom die gaste se verblyf gedoen en die Pa’s het ‘n wonderlike wynlys bymekaargesit. Die venue gee ook outomaties vir jou ʼn koördineerder wat help met al die reëlings by die venue op die groot dag.
Paartjie se styl
Ek het beplan om ‘n rok te laat maak, maar was nie seker van my styl nie. Dus het ek en my ma eers rokke gaan aanpas en aan die einde van ‘n lang dag het ek my droom-rok gekry. Ek het dadelik geweet dit is my rok en het daar en dan die rok gekoop. Gideon se pak was donker grys met ‘n fyn blou lyn en dit was gekomplimenteer deur ‘n blommetjie das. Ons albei het roos-goud trouringe. Gideon het my verloofring en trouring laat maak en ek het sy ring by dieselfde juwelier gekoop.
Merkwaardigste Oomblikke
Bruid: Ek sal nooit die gevoel vergeet toe ons ons ringe aangesit het nie. Daar is iets nostalgies daaraan – ʼn mooi teken van uiteindelik ‘n eenheid.
Bruidegom: Die oomblik to Annika by die kerk in stap was vir my die merkwaardigste oomblik. My eerste gedagte was: “Nou is dit werklik. Sy het besluit om met my te trou. Hier begin ons lewe saam.”
Die Besluitnemingsproses
Ons albei was betrokke by die groot besluite van die troue. Die venue, gastelys, musiek, huweliksbevestiger, huwelikskontrak, vermaak en wittebrood. Ek het die besluite geneem by dekor, blomme, my rok en juwele, strooimeisies se rokkies en troukoek. Gideon het sy pak en die strooijonkers se klere uitgekies en ek het bietjie raad gegee oor die blommetjie-das. Ons familie en vriende was baie ondersteunend oor ons keuses en het raad gegee. Op die ou einde, het almal gehelp waar hulp nodig was. Ons is ewig dankbaar vir die mense in ons lewens.
Finansiële Aspekte
Die troue so kostes is gelyk verdeel tussen beide ouer-pare. Kostes ten opsigte van die bruid se rok, hare, grimering ensovoorts, die strooimeisies, die bruidegom se klere en die strooijonkers is afsonderlik deur die ouerpare gedra. Ek en Gideon was verantwoordelik vir die venue se deposito en al die kleiner detail wat ons deel van ons dag wou hê. Gideon het die begroting bestuur deur alles deur een rekening te beheer. Hy het dus seker gemaak ons hou by die begroting. Ons het 131 gaste gehad. Ons advies is: doen jul huiswerk vooraf goed, stel jou begroting op en hou dan daarby! Dit werk ook goed as een persoon dit hanteer.
Wittebrood
Ons het ons wittebrood op die strande van Maldives Klub Med Kani geniet. Ons droom vakansie was nog altyd om op ʼn eiland vakansie te gegaan het. ʼn Trou geskenk geldjie het dit vir ons moontlik gemaak. Dit was ‘n fantastiese vakansie gewees! Ons was selfs deur ‘n afrikaanssprekende Klub Med Kani werker verwelkom. Ek het ook my 25ste verjaarsdag op die eiland gevier met ʼn wit strand-ete en ʼn partytjie na die tyd saam al die hotel gaste. ʼn Verjaarsdag wat ek nooit sal vergeet nie!
Venue & Dekor
Ek het van Rosemary Hill ‘n paar jaar voor ons verloof geraak het, gehoor. Dit was vir my ‘n ongelooflike mooi venue en dit het ʼn droom geword om eendag daar te trou. Na ons verlowing het ons begin kyk na verskeie venues, maar toe ons deur Rosemary Hill se gronde loop, het ons albei geweet dit is waar ons wil trou. Die kerk, onthaal-saal, tuine en verblyf vir ons gaste was presies wat ons wou gehad het!
Wat die dekor betref, was roos-goud geometriese vorms my trou inspirasie. Die blomme en tafel dekor is daarvolgens beplan.
Gunsteling Diensverskaffers
Ek sal dit moet opdeel in 3 kategorieë; Die gaste se gunsteling was ons vermaak. Almal het na ons toe gekom vir ‘n Pel van My se besonderhede. Tweedens, is ons ongelooflike fotograaf. Annelize en haar man het ons dag so mooi vasgevang sodat ons dit vir ewig kan koester. Derdens is Rosemary Hill se ongelooflike span. Ons trou koördineerder, Karen, en haar span het seker gemaak alles verloop glad. Hulle het ons ook baie rustig gehou gedurende die reënval die oggend van die troue.
Vermaak
Die venue sluit ʼn platejoggie in wat tydens die kerk en die onthaal gespeel het. Ons het ‘n sanggroep tydens die verwelkoming-drankies gekry vir ons gaste se vermaak. Hulle was ‘n absolute wenner gewees! Almal het vir ons kom sê hoe lekker hulle gekuier en saam gesing het. Hulle het selfs vir ons rooiwyn gegee as ʼn trougeskenk. Ons sal hulle definitief voorstel as vermaak by enige persoonlike byeenkoms.
Eerste Dans
Ons het ʼn eerste dans gehad en ons liedjie was gekies vir sy mooi woorde en vinnige ritme. Ek en Gidoen hou van sokkie en toe ons Joe Foster se ‘Vir My Gemaak’ hoor, was dit ‘n maklike keuse gewees.
Ons het nie vir danslesse gegaan nie, omdat ons besluit het ʼn uitgewerkte roetine gaan net onnodige druk op ons plaas. Ons dans juis beter as ons impulsief die ritme van ‘n liedjie volg. Wat ons wel gedoen het, was om in my ouers se kombuis ‘n paar keer op die liedjie te dans om ons litte lekker los te kry.
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme
Bruid:
Dames, jy trou net eenkeer so staan trek oor wat jy wil hê en doen. My tweede advies sal wees om gedurende die trou-beplanning én die dag self, rustig te raak en alles in te neem. Die hele proses gebeur so vinnig en mens vergeet om net vir ‘n oomblik alles in te neem.
Bruidegom:
Manne, my beste raad sal wees om nie in te meng waar dit nie nodig is nie. Jou bruid droom al van kleins af oor haar troudag. Wees haar beste ondersteuner en help meer met die praktiese dele van die troue; Los die dekor vir haar.
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
- Fotograaf: Anne Grace Photography
- Blomme: Bride in Bloom
- Bruidegom-pak: Khaliques
- Dekor: Bride in Bloom
- Grimering: Beautiful Change
- Hare: Captivating Hair
- Huur dienste: Wilde Bloem
- Onthaal tafels: The Table Cloth Hiring Company; Softlight Decor Events & Rental
- Huweliksbevestiger: David Barnard
- Juweliersware: Lovisa
- Trouring: Vienna Jewellers
- Troukoek: Cakes by Mariana S
- Musiek: ʼn Pel van My
- Platejoggie: MultiMusic Entertainment
- Skoene: H&M
- Strooimeisie-rokke: Alta Theron
- Trourok: Trés Jolie Bridal and Evening Wear
- Venue, akkommodasie & vervoer: Rosemary Hill
- Huwelikskontrak: Barnard Incorporated Attorneys
- Wittebrood plek: Klub Med Kani – Maldives