Die vele voordele van klein troues

Kleiner troues het oor die jare meer en meer populêr begin word.  Daar is verskeie redes hoekom paartjies na kleiner troues beweeg; Van hierdie redes is binne mens se beheer, maar ander is in die hande van die noodlot.  Niemand sou in 2019 kon raai dat byna die hele 2020 gekanselleer sou word as gevolg van ʼn pandemie nie!  Dit forseer paartjies om af te skaal met hul gastelys, of hulle nou wou of nie.  Maar, 2020 het ons ook geleer om op die positiewe eerder as die negatiewe te fokus.  In hierdie artikel gaan ons kyk na ʼn paar redes waarom paartjies in die verlede besluit het op ʼn kleiner gastelys vir hul troudag.

Een van die reuse voordele is dat baie diensverskaffers op die oomblik spesiale promosies aanbied, waarvan Mooi Troues se lesers die eerste is om uit te vind!  Klik hier om na die promosies op Mooi Troues se webblad te kyk.  Hierdie veranderde tye het ook mense gedwing om aan te pas by die tye waarin ons onsself bevind.  Trou koördineerders het oulike pakkette bymekaar gesit, spesiaal vir kleiner troues.  Ons hier by Mooi Troues is baie opgewonde om te sien met watter idees julle vorendag gaan kom vir julle pandemie-aangepaste troues.  Vir nou, geniet die voordele van kleiner troues hieronder.

Klein troues gaan hand-aan-hand met selfdoen troues


Troues tussen 20 en 50 gaste is gewoonlik baie makliker om te self beplan as groot troues.  Daar gaan baie minder dink werk en beplanning daarin om ʼn klein troue se dekor self te doen, as byvoorbeeld ʼn troue van 120 tot 250 gaste.

Vinniger om te reël


Meer gaste beteken meer om te reël.  Wanneer dit kom by spyseniering, tafel uitlegte, dekor, verblyf ens. kan dit vinnig ʼn ingewikkelde storie raak wanneer jy geen ervaring in trou-beplanning het nie. Hoe meer gaste jy het, hoe meer georganiseerd moet jy wees om seker te maak dat alle elemente in ag geneem is vir jou groot dag.

Spandeer meer geld op die dinge wat jóú gelukkig maak


Baie paartjies moet hul begroting vir seker dele van hul troue sny, omdat hulle so baie gaste het.  Met ʼn kleiner gastelys, kan jy die bietjie duurder spyskaart kies, daardie asemrowende dekor wat jy eintlik wil hê en jou gaste meer bederf op jou troudag.  Ons het al soveel gehoor van paartjies wat droom oor ʼn luukse troue, maar omdat hulle baie gaste genooi het, moes hul afskaal met die luukshede.  Nou is jou kans om jou gaste lekker te bederf!

Dit hoef nie nét jou gaste te wees wat bederf word nie, maar jouself ook.  Die ekstra fooitjies wat hier en daar gespaar word, kan vinnig optel tot ʼn groot bedrag.  Met hierdie geld in jou spaar-varkie, kan jy nou jou droom wittebrood beplan.

Bespaar op onkostes


Dit is al menigmaal bewys hoe baie mens spaar as jy ʼn kleiner troue het.  Dit kos geld om ʼn groot troue met baie gaste te hê.  Meeste bruide kry ʼn reuse skok wanneer hulle vir die eerste keer sien hoe groot uitgawes vir ʼn troue kan wees.  Wat dalk klink soos klein goedjies, tel gewoonlik op tot ʼn aardige bedrag wanneer jy die begroting begin uitwerk.  Meer gaste sal lei tot ʼn groter venue spasie, meer tafels sal lei tot meer dekor, ens.

Spandeer meer tyd met gaste


Met minder gaste by jou troue kan jy nou tyd maak om kwaliteit tyd met almal te spandeer.  Jy hoef nie nou as paartjie oral rond te hardloop om almal te groet nie.  Dit is binne bereik en maklik om almal te groet en geselsies mee te maak.  As julle mense is wat hou daarvan om kwaliteit tyd met jou naaste familie en vriende te spandeer, sal jy mal wees oor ʼn kleiner troue.

Jy hoef nie onnodige gaste te nooi nie


Baie paartjies nooi gaste net om familie en vriende gelukkig te hou.  Paartjies voel dikwels sleg as hierdie niggie ʼn metgesel mag saambring, maar nie daardie niggie nie. Of hierdie skoolvriend word genooi, maar nie daardie een nie.  Met ʼn klein troue, hoef jy nie skuldig te voel wanneer jy nie almal nooi nie.  Dit is maklik om te sê julle het ʼn intieme troue gehad met byvoorbeeld 50 gaste.

Bespaar kostes op skryfbehoeftes


Noudat jy minder mense gaan nooi, sal jy minder uitnodigings hoef te stuur.  Sodoende bespaar jy op skryfbehoefte onkostes, omdat jy minder laat druk.  Baie paartjies beweeg na digitale uitnodigings, omdat gedrukte skryfbehoeftes so duur is.  Alhoewel ons dink jy kan nou bietjie meer begroot vir jou skryfbehoeftes omdat jy minder gaste het.

Buite troue kan ʼn opsie wees


Gewoonlik hou paartjies nie sommer ʼn buite troue as hulle baie gaste het nie.  Die rede hiervoor is spasie en ook die beplanning daarvoor.  ʼn Buite troue onder die sterre klink idillies.  Dit is net soveel makliker om ʼn troue buite te hou as jy ʼn kleiner groepie mense is.   Alhoewel dit idillies is, moet jy ʼn plan B hê indien dit onweer is.   Omdat jy minder gaste het, is dit maklik om vir ʼn plan B te beplan.  Jy het dan baie minder opstel werk wanneer jy noodgedwonge al die dekor moet skuif as gevolg van onweer.