By Mooi Troues is ons opgewonde om Morné en Maryke se klassieke troue, met groen as hoofkleur wanneer dit kom by dekor elemente, met ons lesers te kan deel. Die rou baksteen van die venue pas so mooi in met die skakerings van Groen en die roosgoud. Groen is ‘n pragtige en klassieke kleur wat nuwe lewe verteenwoordig. Die gebruik van geometriese lyn kersstaanders gee die tafel onmiddellik ‘n moderne gevoel. Blomme ontwerpe wat gelug word met ‘n lang voetstuk skep hoogte vir die tafel.
‘n Belangrike punt is dat jy diensverskaffers moet gebruik wat goed oor die weg kom verduidelik die paartjie. Ons stem heeltemal saam hiermee. As jy diensverskaffers gebruik wat gelys is in Mooi Troues se Trougids sal jy nie spyt wees nie. By Mooi Troues maak ons seker ons lys goeie diensverskaffers wat jou troue stresvry sal maak.
Maryke het pragtig gelyk in haar prentjie mooi trourok en lang sluier en Morné in sy goed gepaste pak. Jy kan sien die paartjie het elke sekonde van hul troudag vreeslik geniet. Lees meer oor Morné & Maryke se troue en hul liefdesverhaal hieronder.
Paartjie se liefdesreis:
Ons storie begin eenvoudig. Een woord om presies te wees… Instagram! Daarna was dit net nog makliker, ons het van die begin mekaar verstaan en tot vandag toe nog vul ons mekaar perfek aan. Ons is nie net huweliksmaats nie, maar mekaar se beste maats.
Morné is baie goed met geheime hou, te goed. Hy het ʼn vriendin (ʼn plaaslike fotograaf) genader om met ons ʼn fotosessie te reël. Morné het tydens die fotosessie op sy knieë gegaan en die vraag gevra. Ek het letterlik niks vermoed of verwag nie.
Verlowing tydperk:
Ons het die 8ste Desember 2018 verloof geraak en ons het 11 maande daarna getrou, 9 November 2019. Ons het nie gebruik gemaak van ʼn trou beplanner nie, ons het self alles gereël saam met die verskillende diensverskaffers.
Finansiële aspekte:
Begroting was seker die moeilikste aspek, maak nie saak hoe goed mens probeer om binne die begroting te bly nie, daar is altyd iets ekstra, ʼn ietsie wat mens vergeet het. Ons het ʼn bedrag in ons kop gehad wat ons nie graag wou oorskry nie. Ons het geweet trou is nie perde-koop nie, maar julle … trou is duur. Op die ou einde het ons ±R 160 000.00 spandeer, heelwat oor ons begroting, maar ons het heelwat bydraes ontvang van ons ongelooflike ouers en ander familielede. Die gaste was in totaal 112, ingesluit die diensverskaffers.
Ons raad sal wees:
1. Maak seker dat jy en jou verskaffers mekaar reg verstaan sodat jy nie verassings op jou groot dag kry nie
2. Stel ʼn begroting op en hou ʼn ekstra geldjie vir die onvoorsiene goed, wat gewoonlik op die laaste nippertjie opduik.
3. Almal het vir ons gesê neem alles in op die dag en geniet dit, doen dit.
4. Probeer om nie skuld te maak nie, nooi eerder minder gaste.
Merkwaardigste oomblikke:
Ek het ʼn vooraf opgeneemde boodskap spesiaal vir my bruidegom laat speel net voor ek die seremonie binne getree het. Dit het nie net die bruidegom in trane gehad nie, maar baie van die gaste ook.
Dan – die oomblik toe die deure oop gegaan het en ons mekaar vir die eerste keer sien. Dit was, sonder twyfel die beste gevoel ooit.
Morné se oudste broer het ons in die huwelik bevestig.
Paartjie se styl:
Ons wou graag, in terme van my trouring anders wees. My trouring is roosgoud en is spesiaal ontwerp. My ouma het die diamant van haar verloofring vir my as geskenk gegee en dit is die steen wat nou in my ring pronk. Morné se ring is ook roosgoud, hy wou aanvanklik ʼn goue ring gekies het, maar is baie in sy noppies oor sy uiteindelike keuse. My trourok was nie frille en valle nie. Net eenvoudig, maar tog elegant. Die bruidegom se pak het ons by Woolworths gekoop aangesien hulle ʼn goeie verskeidenheid style aanhou van goeie gehalte en presies wat die bruidegom in gedagte gehad het.
Die besluitnemingsproses:
In ons geval was die besluite meestal gesamentlik geneem. Morné het uit en uit sy kant as bruidegom gebring. Ons ouers, familie en vriende het heelwat insette gelewer met betrekking tot my rok, dekor en blomme – dit het baie van die besluite makliker gemaak.
Vermaak:
Ons het ʼn platejoggie gehad wat musiek gemaak het van die begin tot die einde asook ʼn dans kompetisie waar een persoon van elke tafel moes dans totdat daar net een wenner was. Die ouer garde het beslis die jonges ʼn ding of twee gewys.
Nog ʼn speletjie: ons as bruidspaar moes rug teen rug sit, met ʼn skoen van elkeen in ons hand. Ons is vrae gevra, en ons antwoorde het verseker baie vermaak verskaf.
Gunsteling Diensverskaffers:
Definitief die fotograwe en videograwe. Hulle het ons as bruidspaar, sowel as ons gevolg op ons gemak laat voel en soveel emosie op die fotos vasgelê. Hulle was professioneel, maar steeds spontaan.
Eerste Dans:
Ons het gegaan vir danslesse en toe vir onsself ʼn dans roetine uitgewerk, met die toertjies wat ons geleer het. Ons het aanvanklik op ʼn Engelse liedjie besluit (wat ons dan op moes “slow dance), maar het toe op die laaste nippertjie op ʼn liedjie van Kurt Darren besluit met die naam: “Onbeskryflik”.
Venue & Dekor:
Beslis die groot (liggie) boom! Dit het ons aandag dadelik getrek. Ons inspirasie agter die dekor – simplisties, tog stylvol. Ons het besluit op die “classical greenery”, wit en roosgoud dekor.
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:
Bruid:
Aanvaar dat dinge soms verkeerd kan loop op die dag.
Maak jou ma deel van die proses.
Geniet elke oomblik van jou spesiale dag. Voor jy hou oë uitvee is alles verby.
As mens eers op iets besluit het, hou op kyk na ander opsies.
Bruidegom:
Geniet die hele proses saam jou bruid en neem deel aan die besluitnemingsproses.
Kies jou gevolg wys. Jou manne speel ook ʼn baie belangriker rol in die toeloop tot die spesiale dag en nie net die troudag self nie.
Wittebrood:
Ons was in die gelukkige posisie dat twee van ons familielede vir ons verblyf gereël en betaal het. Morné het van die begin af gesê hy wil in beheer wees van die wittebrood. Alle reëlings was in sy hande, en mag ek net sê hy het hom goed van sy taak gekwyt. Ons het ʼn onvergeetlike wittebrood gehad in KwaZulu-Natal (Umhlanga) wat 12 dae geduur het.
Dit is ʼn spesiale tyd wat mens afgesonder is van jou alledaagse roetine en net kan ontspan – hoe mens die begin van jou huwelik wil vier. Net julle twee met ʼn glasie wyn en die see in die agtergrond.
Die ʼnie-so-perfek’ oomblikke:
Ons het na die tyd besef ons het nooit die ruiker of die kousband gegooi nie, iets wat ons eintlik sou wou doen. Ons wens ook dat daar meer ure in die dag was sodat ons by meer van die gaste kon kuier.
- Trourok: Timeless Bridal Couture
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: L’afrique Photography
- Videograaf: Tydloos Films
- Koek: Baker Boys
- Platejoggie: Ama Promotions
- Venue: De Harte
- Ringe: Style Manufacturing Juwellers
- Blomme + dekor: La Vie Est Belle
- Bruidsmeisierokke: Gelique Couture
- Bruidegom pak: Woolworths
- Bruid skoene: Call it spring