Mooi Troues is ons opgewonde om Jacques en Inge se pragtige plaastroue in Wellington met ons lesers te kan deel. Die paartjie het ʼn pragtige trou seremonie gehad in die buitelig. Gelukkig vir hulle was die weer heerlik gewees op die dag. In Suid-Afrika kon ons regtig gelukkig wees met mooi weer meeste van die kere. Dit is ook belangrik om altyd ʼn plan B te hê indien jy wel ʼn buite troue beplan. Net om seker te maak dat jy nie onnodig stres nie.
Ons is mal oor Inge en Jacques se troudag. Die hele dag het so ʼn lekker gemaklike gevoel. Niks was oordoen nie en daar was ook nie te min gedoen nie. Alles het net so mooi ingepas bymekaar. Van Inge se pragtige trourok wat ingevoer is tot Jacques se elegante swart pak.
Wanneer dit kom by die keuse van diensverskaffers het die paartjie genoem hul meer gekyk het of die diensverskaffer inpas by die gevoel van hul dag. Dit is ʼn belangrike punt. Mens moet die begroting in ag neem, maar kies ook diensverskaffers wat pas by jou troudag se visie. As jy hou van ʼn seker fotografie styl kies iemand met so ʼn styl. Moet nie gaan vir diensverskaffers wat jy nie regtig mee kan werk nie. Vir fantastiese diensverskaffers besoek ons trougids.
Hoe het julle mekaar ontmoet?
#tindersuccess: My vriendekring het hoofsaaklik bestaan uit reeds getroude vriendinne en dit was moeilik om nuwe mense te ontmoet. 2 Vriendinne het een naweek vir my ʼn Tinder profiel geskep. Ek en Jacques het in Januarie begin gesels en kort daarna op ons eerste afspraak gegaan. ʼn Jaar later, het ek Jacques bederf met ʼn weggaan naweek vir sy verjaarsdag en hy het my verras met ʼn verlowing. Ek het van niks geweet nie – nie eers dat ʼn ring al ʼn oorweging was nie.
Hoe lank was jul verlowing tydperk?
Ons was presies 6 maande en 1 dag verloof. Ek dink nie dit is nodig om veel langer as dit verloof te wees nie. Mens kan baie vinnig ʼn troue reël – as jou belangrikste diensverskaffers bespreek is, kan daar oor die kleinere detail baie vinnig besluit word. Ons het alles self beplan.
Vertel ons meer oor jul begroting
Ons het nie op ʼn spesifieke bedrag vir enige iets besluit nie, maar wel ʼn paar kwotasies vir elke diensverskaffer oorweeg. Ons het nie net na die prys gekyk nie, maar ook oorweeg of die diensverskaffer regtig by ons gevoel van die dag gaan inpas. Daar was 150 gaste genooi. My enigste advies is – ʼn troue hoef nie peperduur te wees nie. Ek stel wel voor om op een ding te besluit waarop jy nie gaan “compromise” nie – vir my was dit my rok.
Wat was vir julle albei onderskeidelik die merkwaardigste deel van die dag?
Die weer,waaroor ons geen beheer gehad het nie,was ʼn groot faktor en kon ons dinge lelik deurmekaar krap. Ons het ʼn Plan A, B, C en D gehad. Plan A was dat alles buite sou plaasvind indien dit ʼn pragtige winterdag sou wees. Vir my was die merkwaardigste deel toe ek die oggend net na 6 uur die gordyne ooptrek en besef dat ons geseën gaan word met die perfekte dag – presies waarvoor ek elke dag gebid het.
Vir Jacques was die merkwaardigste deel toe hy my in die lang paadjie na hom sien aangestap kom.
Vertel ons oor julle as paartjie se spesifieke styl
Ek het geweet ek wil nie ʼn rok vol “frilletjies, kantjies en kraaltjies” hê nie. Nadat ek ʼn Jesus Peiro rok op Pinterest gesien het, het ek geweet dat ek in geen ander rok wou trou nie. Op Jacques se pak het ons baie vinnig besluit – klassiek swart met ʼn wit hemp. My ring is presies gemaak vanaf ʼn prentjie wat ek een dag gesien en van toe of bewaar het. Vir Jacques se ring het ons sy oupa se seel-ring laat smelt en ʼn plein ring sonder detail laat maak.
Besluitnemingsproses
Jacques se enigste vereiste was dat daar genoeg kos moet wees en dat dit ʼn lekker informele kuier moet wees. Hy het my vertrou om self al die besluite te neem.
Vermaak
Ons het nie ʼn dansbaan gehad nie. Stuart Reece het heel dag gesing en kitaar gespeel en gesorg vir die perfekte atmosfeer. Hy het tussendeur musiek gespeel van sy rekenaar af. Ek kan hom baie sterk aanbeveel.
Die “nie so perfekte” oomblikke
As iets verkeerd sou loop, moes my diensverskaffers dit uitsorteer. Ek wou nie daarvan weet nie.
Het julle enige advies aan ander paartjies wat besig is om ʼn troue te beplan?
Geniet die beplanning. Dit kan baie stresvol wees, maar onthou elke nou en dan dat dit ook deel vorm van die groot dag – want die dag gaan so verskriklik vinnig verby.
Venue & Dekor
Die venue kon vir ons presies bied wat ons wou hê – ʼn gemaklike atmosfeer met ʼn lekker groot kuier area. Ons het nie ʼn stywe, tradisionele, “sit down” onthaal gehad nie. Daar was geen gedekte tafels met toegekende sitplekke nie . Ons het “lounge pockets” in spesifieke kleure van Goeters gehuur wat ook hoofsaaklik as die dekor gedien het. Kos is informeel bedien deur kelners wat tussen die gaste daarmee rondgeloop het.
Wittebrood
Ons was gelukkig genoeg om Mauritius toe te gaan vir wittebrood. Ek sal elke paartjie aanraai om net ʼn paar dae weg te gaan na die groot dag om te reflekteer, te ontspan en te rus.
Eerste dans
Ons het nie ʼn eerste dans gehad nie. Ek het wel Juan Boucher se gedig, “Ons het dit gebou”, gespeel voor ek in die paadjie af gestap het. Dit was baie treffend en het baie van die gaste in trane gehad.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf – Matthew Carr Photography
- Venue en Spyseniering – Au d’Hex Estate, Hexberg Road, Wellington
- Meubels – Baie Goeters
- Blomme en Ruikers – Vriendin
- Musiek – Stuart Reece Band
- Grimering – Bruid en moeders – Martie Olivier
- Strooimeisies – Marlé Boltman
- Bruid se hare – Erica Jordaan
- Bruid se rok – Jesus Peiro (ingevoer vanaf Spanje deur Cathrine’s Bridal Couture – enigste groothandel in Suid-Afrika van die ontwerper se rokke)
- Bruidegom se pak – Grays, Canal Walk
- Strooimeisies se uitrustings – Kameo Clothing