Dak verlowingfotosessie, Engels bekend as Rooftop Engagement photosession, is ‘n tendens wat ons veral baie by buitelandse paartjies sien. Willie en Delmarie wys hoe ‘n dak verlowingfotosessie in Suid-Afrika lyk. Ons is opgewonde om dié paartjie se fotosessie met ons lesers te deel. Willie en Delmarie het die aand in die sonsondergang oor die pragtige stad van Pretoria uitgekyk. Hulle het albei baie gemaklik gelyk voor die kamera.
Die paartjie se verlowingfotosessie was absoluut betowerend! Mooi Troues se lesers kan nou afrol om hul verlowing foto’s te waardeer.
Die paadjie wat gelei het tot die verlowing
Ons was saam op skool sedert 2009 en was redelike goeie vriende. Niks meer nie, want ons het albei iemand anders in ons lewens gehad.
In 2012 het ons saam vriende gaan fliek en dit was Willie se beurt om my by die huis te gaan af laai. Onwetend tot Willie, het ek die laaste paar weke ʼn redelike groot crush op hom ontwikkel en het dit hard probeer wegsteek.
Ons het voor my hek gestop, ek was op pad om bye te sê toe hy na my toe draai en sê dat ons nou al ʼn paar keer saam uit is en of ek sy meisie sal wees. Heeltemal onkant gevang kon ek nie ʼn antwoord gee nie en het hom maar ingenooi vir koffie. (Ek kon hom sekerlik nie buite in die donker los sonder ʼn antwoord nie.)
Hy het elke aand kom kuier tot 2 uur in die oggende tot ek – uiteindelik – ja gesê het.
7 jaar se herinneringe skep later was ons al saam in Dubai en het ons eie woonstel gekoop. Ons het saam gegroei, baklei, deur moeilike en goeie tye gegaan, maar ons was altyd aan mekaar se sy.
Dit was met ons 7 jaar herdenking wat ons begin praat het oor verloof raak, maar niks regtig ernstig nie.
Die groot vraag
Ons het saam met sy familie op die MSC Orchestra gegaan op vakansie die Desember na ons 7 jaar herdenking. Hy het vooraf gesê dat hy vir ons ‘n pakket gekry het waar ons veronderstel was om iets te ete te kry sowel as souvenirs maar dit het nooit gekom nie.
Die Saterdag middag het hy gesê dat hy die pakket uitgesorteer het en dat hulle dit sal bring. Hy het ook bygevoeg dat ons moet mooi aantrek omdat ons ‘n show saam sy sussie en haar verloofde gaan kyk.
Sodra ek uiteindelik reg was om te gaan, het hy my begin aanjaag om eers na een van die ander kamers te gaan waar hulle ons pakket opgestel het. Nadat ons by die kamer ingestap het, het hy my gevra om dit te soek omdat hy nie seker was waar hulle dit gesit het nie.
Op die balkon het ek die pakket gekry (sjampanje en sjokolade op ‘n tafeltjie uitgesit), halfhartig vir hom geskree dat dit buite op die balkon is en net half gewonder of iets aangaan omdat hy my nie direk uitgevolg het nie. Ek het omgedraai om hom te soek en hom op een knieg neer met ‘n (onderstebo) ringboksie in sy hande gekry reg agter my.
Ek het dadelik begin huil. Die oomblik was regtig ryk van emosie en ek het nie geweet wat om te voel of hoe om te reageer nie. Tussen ek wat huil en hom te veel kere “rêrig?” gevra het, het hy my gevra om met hom te trou. Nie een van ons is heeltemal seker of ek nou regtig ja gesê het nie.
Tydperk voordat die knoop deurgehak word
Ons beplan om April 2021 te trou. Willie wou graag ‘n herfs troue hê en ons wou nie ‘n troue in te kort ‘n tydperk probeer beplan nie. Siende dat sy sussie ook verloof is wou ons ook wag dat sy eers trou en genoeg tyd vir die familie gee om te herstel voor die volgende troue.
Die verloofring
Ons het oorspronklik saam gaan kyk na ringe, alhoewel hy vinnig daarna gesê het die tyd en finansies is nie nou reg daarvoor nie.
Tot my verbasing het hy wel die ring gekoop waarna ons saam gaan kyk het, ‘n witgoud, ronde tanzaniet ring met ‘n diamant halo daarom. Ek het hom van die begin af gesê solank ek ‘n blou steen kan kry sal ek gelukkig wees.
Rede vir die verlowing fotosessie
Ek wou foto’s gehad het wat ons kan gebruik om ‘n trou webtuiste en uitnodigings te maak. Maar ook om iets te hê wat ons kan laat druk en in ons woonstel ophang.
Inspirasie agter die verlowing fotosessie
Ek wou graag iets gedoen het met ‘n mooi uitsig maar wat steeds ‘n bietjie van ‘n industriële gevoel het. Gelukkig vir my werk my pa by Unisa en kon ons reël om op die dak te gaan neem. Met ‘n stad uitsig aan die eenkant en berge aan die anderkant, met die Voortrekker Monument in die verte sigbaar.
Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk
Ek dink die grootste ding wat ons sover aan gedink het … Is hoe kan ons ‘n lekker troue hou in die styl wat ons soek. Sonder om te veel geld te spandeer. Ons wil probeer om geen lenings vir die troue uit te neem nie … Net te reël volgens wat ons kan spaar en familie bydraes.
Ons het wel ‘n verwagting dat om hierdie viering van ons huwelik te reël, sal ons nader bring aan mekaar en ons families, soos wat ons idees uitruil en bou.
Visie vir droomtroue
Sover is ons baie geïnspireer deur industriële gevoel troues. Goud, swart en blougroen saam met groenigheid sowel as tulpe en rose hier en daar. ‘n Amper “moody” gevoel in die onthaal saal met baie kerse en so paar goue geometriese elemente op die tafels.
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
- Fotograwe – Birdhouse Photographic
- Rok – Cocoberry
- Grimering – L’Amore Makeup Artistry