Ons by Mooi Troues is baie opgewonde om met ons lesers Derius en Melanie se tydlose troue met julle te deel.
Melanie deel met ons dat sy een van Mooi Troues se daaglikse WhatsApp nuusbrief intekenare is. So het sy daagliks inspirasie vir hul troue reg op haar slimfoon ontvang en nie een van Mooi Troues se artikels gemis nie. Wil jy ook daagliks ons nuwe artikels reg op jou slimfoon ontvang? Klik hier om op te teken.
Die paartjie se troue was gevier by die Vrystaat trouvenue en Mooi Troues adverteerder, Welgelegen Cherry Estate. In die foto’s hieronder sal ons lesers sien hoekom die paartjie juis die venue gekies het vir hul droom troue. Die venue se dekor was elegant opgestel met wit orgideë en tafel lopers af gerond met glas element op die tafels.
Paartjies wat hul trou beplan en se styl elegant is sal Derius en Melanie se tydlose troue hier onder baie geniet.
Paartjie se Liefdesreis
Derius was een van die Top 5 Boere wat gekies is om op die KyKNet-reeks, Boer soek ʼn vrou in 2015, seisoen 8, te wees. Ek het so skelm-skelm meer begin oplet wanneer hy op die televisie skerm was, veral wanneer hy so lekker gelag het. Al het ek nie vir hom ʼn brief geskryf nie, het ek so na ses maande na die reeks moed bymekaar geskraap en uit nuuskierigheid vir hom ʼn friend request op Facebook gestuur (ek skaam my dood om dit te erken). Ek het niks verwag nie, want ek het in Pretoria gewerk en gebly en hy het geboer in die Noord-Kaap.
Daar het maande verloop totdat hy een dag uit die bloute ‘n boodskap aan my gestuur het. Ons het net onmiddellik gekliek. Stemboodskappe het lang telefoongesprekke geword en telefoongesprekke word toe langafstand kuiers. Wie sou kon dink dat ‘n onskuldige nuuskierigheid van Facebook-uitnodigings ‘n gelukkige huwelik sou word?
Ek kan tot vandag toe nie glo dat Derius daarin kon slaag om die verlowing ‘n totale verrassing te hou nie. (As ek sou geweet het, sou ek mooier skoene gedra het haha). Ons het gaan stap totdat ons tot heelbo op die koppie van die plaas was. Die uitsig van bo is asemrowend en kyk af op al die besproeiing gewasse – die sonsondergange van daar bo af is prentjiemooi. Hy weet dat dit een van my gunsteling plekke op die plaas is. Ek het op ‘n rots gestaan (ek noem dit die Lion King-rots) en toe ek omdraai om na hom toe te loop, was hy al op sy knieë. Ek sal altyd die opwindende, liefdevolle en warm gevoelens wat ek tydens ons verlowing gevoel het koester.
Die Verlowing Tydperk
Ons was 7 maande verloof. 15 September 2018 verloof en 11 Mei 2019 getroud.
Nee, ons het nie ʼn aangestelde troubeplanner gehad nie, maar Lucretia Schabort van Country Flair (sy is nou familie) het beslis ʼn aandeel gehad in ons troue wat vlot verloop het.
Sy het ons blomme en decor gedoen, maar het ongelooflike raad en wenke vir ons gegee tydens die beplanning. Na regte is sy eintlik in ʼn troubeplanner. Dit het vir my gevoel asof sy ons onbeplande engel uit die Hemel troubeplanner was 😊
Inspirasie van Mooi Troues
Ek het elke dag na Mooi Troues se publikasie gekyk d.m.v. die Whatsapp uitsending lys om te sien watter verskaffers ander bruide gebruik het. Die bruide se idees het my inspireer en soms het hulle keuses my gehelp om my finale besluit te neem as ek gesukkel het om tussen iets te kies.
Merkwaardigste Oomblikke
Ek het ingestap op ʼn unieke liedjie, “Just show me how to love you”, van Sarah Brightman. Beide van ons koester hierdie liedjie al vanaf ons uitgaan jare en dit was hoendervleis mooi/lekker om in die kapel in te stap met die liedjie wat soveel betekenis dra vir ons.
Vir my was die lekkerste deel om uiteindelik voor in die kerk langs my toekomstige man te staan. Die emosies is oorweldigend maar ek het meestal verlig en veilig langs hom gevoel met die wete dat ons op die punt is om ons avontuur saam te begin.
Vir Derius was die groot oomblik toe ek in die kerk instap vreeslik oorweldigend. Dit was ons oomblik en dit was perfek. Ons oë het mekaar nooit verlaat nie en ek het geweet dat dit die oomblik is waarop ons gewag het en nou is dit ‘n werklikheid. Hy het heerlik gehuil haha. Hy kry nou nog hoendervleis as ons daaroor praat.
Die Besluitnemingsproses
Ons het al die groot besluite saam geneem soos bv “venue, liedjies, fotograaf, gastelys ens”, maar die besluite oor die fynere detail het ek geneem.
Ons het presies geweet wat ons soek wat die besluitnemings proses vergemaklik het. My ma het saam met my my rok gaan uitkies, maar verder het ons hier en daar slegs opinies gevra en na menings geluister, sonder dat besluite namens ons geneem word.
Vermaak
Con Grazia het lewendige musiek gespeel voor die seremonie en ook tydens die verwelkoming drankies. Dit was ongelooflik mooi en ons glo vandag nog dit het ons troue se atmosfeer afgerond.
Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke
Daar was geen “oh nee” oomblikke tydens die seremonie of onthaal nie. Maar die oggend na die troue toe ons na ons wittebrood wil vertrek, het ons gesien dat ons voertuig met Vaseline en toiletpapier gesmeer is. Ons het beslis gedink “Ag nee” ons gaan ons wittebrood vlug mis! Ons weet nou nog nie wie dit gedoen het nie haha.
Gunsteling Diensverskaffers
Al ons diensverskaffers was ongelooflik goed en ek kan almal met ʼn geruste hart aanbeveel. Maar as ek iemand kan uitsonder is dit absoluut Lucretia Schabort van Country Flair. Sy het haarself oortref met ons blomme en decor. Dit werklikheid was mooier as wat ek myself ooit kon indink. Sy het uit haar pad gegaan vir ons en ons is haar ewig dankbaar daarvoor. Sy is gebore met ʼn talent en aanvoeling vir die industrië in alle opsigte. Ek staar nou nog met ʼn groot glimlag na ons onthaal se foto’s.
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme
Melanie se raad:
Geniet die trou beplanningsproses saam met jou man. Mens sal verbaas wees dat hulle ook wonderlike idees het. Mens moet hulle net op die regte manier nader. Moenie die perdekar omgooi oor die klein dingetjies nie.
Toe ek oorweldig begin voel, het my man heeltyd vir my gesê, “prioritiseer, prioritiseer, prioritiseer!” Dit het my beslis gehelp om te fokus op die dinge wat werklik saak maak.
Deeglike beplanning sal verseker dat jy ‘n meer ontspanne en aangename dag beleef. Maak seker dat almal wat wel betrokke is presies weet wat om te doen en wanneer om dit te doen.
Tafelplasings kan jou troue maak of breek – maak seker dat julle betyds begin. Dit sal die moeite werd wees, glo my.
Derius se raad:
Moenie bang wees om jou eerlike opinie te gee, wanneer daarvoor gevra word nie. Dit is dan juis hoekom sy jou kom vra. Sy het reeds 20 verskillende opsies gefiltreer om uiteindelik by twee opsies uit te kom. Help haar maar geduldige met die finale keuse. Wees beslis betrokke en geduldig tydens die proses, en vertrou haar met die fynere detail.
Paartjie se styl
Ons styl wat ons gekies het was tydloos met ʼn klassiek element.
Eerste Dans
Bruce Springsteen se “Tougher than the rest”.
Ons het nie vir danslesse gegaan nie, ons het sommer net die oomblik geniet en heerlik gedans en gelag terwyl die gaste rondom ons gestaan het met “sparkles”.
Venue & Dekor
Beide van ons wou nog altyd in die Oos-Vrystaat trou. Ons is natuurliefhebbers en die natuurskoon in die Oos-Vrystaat is net van onskatbare waarde. Die oomblik toe ons ons voertuig by die Welgelegen Cherry Estate stop, het ons geweet – dit is dit! Die enorme berge, omring met die water en die groot groen grasperk het ons die gevoel gegee dat ons in die middel van die paradys is. Dit is asemrowend mooi en ons het geweet dit gaan pragtige troufoto’s neem. Ons wou ook ‘n naweek troue hê om soveel moontlik uit die spesiale dag te kry. Ek dink die feit dat + – 80 gaste op die plaas kan slaap, het die ooreenkoms vir ons verseël. Ons het geweet ons gaan ‘n onvergeetlike huweliksbevestiging naweek hou saam met vriende en familie.
Ek is mal oor blomme (veral orgidee en tulpe), liggies en baie kerse! Van die begin af het ek presies geweet waarvan ek hou, maar die uitdaging was om alles bymekaar te pas sodat dit die geheel prentjie kan komplimenteer. My styl vir die troue was wit blomme met ʼn groenigheid wat opgehelder was met kerse. Ek wou graag gehad het dit moes stylvol en elegant wees, maar moes tog ʼn warm atmosfeer uitstraal.
Finansiële Aspekte
Ons het 164 gaste by ons troue gehad.
Ons het nie ʼn vooropgestelde begroting gehad nie, maar omdat ons self die troue betaal het moes ons baie verantwoordelik optree en mooi beplan.
Daar was sekere aspekte van ons troue wat vir ons baie belangrik was waarop ons vooraf besluit het ons nie op gaan spaar nie. Ons het gevoel omdat dit vir ons belangrik is, dit die dinge wat ons gaan onthou en koester.
Ek hou glad nie van tierlantyntjies en fieterjasies nie. Ek glo meeste bruide spandeer onnodig geld op dinge wat hulle nooit weer kan en gaan gebruik nie. Ons het geprioritiseer en saam besluit wat is werklik nodig en ek glo ons het baie gespaar dmv alles eenvoudig maar tog klassiek en stylvol te hou – “less is more”.
Wittebrood
Ons het na “delicious Mauritius” gegaan vir ons wittebrood. Ons oord was fantasties, Veranda Paul et Virginie in Grand Baie. Dit was ‘n avontuur en ‘n paradys almal saam.
Die snaakste deel vir my was om hierdie suiwer Noord-Kaapse Karoo boer in die vreemdes te ervaar. Die warm/brand kos en Engels het gesorg vir genoeg vermaak. Eers hier aan die einde van ons wittebrood het sy Afrikaanse tong begin los en gemaklik geraak. Toe is daar geen keer aan hom nie.
- Venue: Welgelegen Cherry Estate
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
- Fotograaf en Videograaf : Frank and the Misses
- Dekor & Blomme : Country Flair
- Troukoek : Stories Restaurant – Frankfort
- Trourok : PRONOVIAS / Veil Bridal Couture, Sandton City
- Pak : Awerbuchs in Bloemfontein
- Strooimeisies : Bridal Emporium Boutique, Bloemfontein
- Strooijonkers : Eden & Co
- Hare : Genesis Hair Design – Christine Buys
- Grimering : Skin Science Aesthetics Clinic – Alex Sterley
- Musiek : Creative Kilowatt – Bloemfontein
- Lewendige Vermaak : Con Cratzia
- Wyn : Arendskloof / Arendscliff