Mooi Troues deel die prentjie mooi Bon Cap guestfarm and wedding venue troue van Christopher & Elda. Dit was op ‘n lieflike reënerige dag in die pragtige Robertson-vallei. Iets merkwaardig, omdat Robertson nie gewoonlik reën kry in September nie. Dit is definitief ‘n teken van geluk.
Elda is ‘n pragtige bruid met so ‘n vloeiende trourok wat perfek sal werk as ‘n somerrok. Sy het ‘n bypassende baadjie gehad wat sy dan aangetrek het indien die rok bietjie te koud gevoel het op die dag. Dit het net so mooi ingepas by die res van hul troudag en ‘n goeie idee vir ander bruide om te doen.
Die dekor was sagte skakerings van vuil-pienk en groen elemente. Die mooi groot proteas het definitief ‘n plaaslike element geskep. Nie net ‘n plaaslike element nie, maar het ook ‘n bietjie kleur ingebring. Die spierwit tafeldoeke en glas kandelare gee ‘n luukse gevoel aan die dekor. Alles pas perfek in bymekaar en het die perfekte omgewing geskep vir die trou-gaste om hulself gate uit te geniet.
Gelukkig is Bon Cap ‘n veelsydige trou-bestemming waar jy ‘n fantastiese Somer troue of ook ‘n intieme Winter troue kan hê met kaggelvuur en heerlike hartskos. By Mooi Troues het ons die voorreg gehad om self Bon Cap se heerlike hartskos te proe. Dit is nie jou gewone trou-kos nie. Inderdaad sal jy baie verras wees. Die kos spyskaart word haarfyn beplan. Met kosse wat lyk soos die van uit ‘n tydskrif en smaak soos ‘n kulinêre meesterstuk sal jy nie teleurgesteld wees nie. Christopher en Elda se kosse het ons definitief honger gelaat en opgewonde gemaak om sommer gou weer by Bon Cap se gaan kuier.
Ons wil hê jy moet Christopher & Elda se prentjie mooi Bon Cap venue troue geniet.
Paartjie se Liefdesreis
Christopher en Elda het baie lank gelede by die kerk ontmoet. Hy was ʼn jeugleier waar sy jeug bygewoon het. Christopher was ook in die kerk se musiekgroep gewees en hy was salig onbewus van die bewondering wat Elda vir hom gehad het. Elda het elk geval gedink sy gaan eendag met ʼn boer trou.
Na ʼn paar jaar van jeug bywoon, het hulle vir die eerste keer in 2014 begin gesels nadat Christopher kommentaar gelewer het op Elda se Facebook profiel foto. Van daar af was dit Whatsapp geselsies wat weer gelei het na huis kuiers en uitstappies saam met vriende. Kort nadat hulle begin gesels het, het Elda vir Christopher ʼn tuisgebakte suurlemoentert vir sy verjaarsdag gemaak en dit is seker waar die skoot deur is.
Na baie saam kuier het Christopher vir Elda op 3 Oktober 2014 gevra om sy meisie te wees. Dit het bestaan uit ʼn uitstappie see toe met roomys en ʼn selfgemaakte boekie met die woorde: ”Sal jy asb. my meisie wees?” Van daar af moes Elda in Wellington gaan studeer en in die koshuis bly, so toe kon hulle mekaar net naweke en vakansies sien. Dit was ʼn swaar tyd, want die twee se gunsteling tye is om saam te wees. So af en toe kon Christopher deur die week deur ry koshuis toe vir die aand om te kuier en dan weer terug ry dieselfde aand.
Hoe het julle verloof geraak?
Christopher en Elda het eendag op ʼn mooi somersdag saam met ʼn paar vriende op ʼn wynproe avontuur gegaan. By een van die wynplase was daar ʼn trou klok. Elda besluit toe om die klok kliphard te lui sodat almal wat op die wynplaas was hoor dat daar iemand is wat reg is om te trou. Christopher het duidelik daar die boodskap gekry. Een oggend, middel 2018 het hulle gedoen waarvan hulle hou en ʼn bergfiets roete gaan ry. Christopher het meer planne gehad as om net bergfiets te gaan ry. Daar wag toe ʼn kombers, piekniekmandjie, blomme en ʼn verlowingsring by die einde van die roete. Christopher het vir Elda die mooiste boodskap gelewer met die ring aan die einde. Die oomblik was so mooi dat albei trane in hul oë gehad het. Dis ʼn oomblik wat vir altyd gekoester sal word.
ʼn Paar maande later, toe staan die twee voor die kansel waar hulle vir ewig trou voor God beloof. Drie dae na die troue het hulle Nieu-Seeland toe gevlieg waar hulle hulle lewe saam begin as man en vrou.
Die Verlowing Tydperk
Ons het verloof geraak op 24 Junie 2018 en het getrou op 29 September 2019, so ons was verloof vir ʼn jaar en 3 maande. Michelle du Preez van Bon Cap guestfarm and wedding venue het meeste van die werk ingesit met die trou beplanning. Elda het net haar idees op Pinterest met Michelle gedeel, Michelle het verder alles beplan.
Finansiële Aspekte
Begroting:
Ons begroting beplanning het begin by R80 000 en het later verander na R100 000. Die belangrikste items in ons begroting was die venue en fotograaf. Daarna kon ons sien hoeveel geld ons het om te spandeer op kos en dekor en platejoggie. Toe ons sien dat daar nog geld oor was kon ons geld uitsit vir ʼn videograaf. Soos die trou beplanning aangegaan het, was daar heeltyd iets wat bygekom het, so ons moes heeltyd kophou van hoeveel geld ons beskikbaar het, waar ons iets kon bysit en waar ons iets moes sny. Wat baie gehelp het was dat Bon Cap guestfarm and wedding venue ʼn vooropgestelde sigblad gehad het wat ons op gewerk het om ons begroting te beplan.
Gaste:
Ons het ongeveer 60 gaste gehad.
Advies:
Sit ekstra geld weg vir onvoorsiene uitkomstes en moenie te veel geld uitgee op items wat net die volgende dag weer weggegooi gaan word nie. Wees bereid om ʼn goeie fotograaf te kry, want dis die lekkerste om terug te kyk na die spesiale dag met pragtige foto’s.
Merkwaardigste Oomblikke
Bruidegom:
Die grootste en mooiste oomblik vir my was toe my bruid na my toe aangestap kom. Ek kon nie die emosies inhou nie. Dit was ʼn baie spesiale oomblik om te weet die oomblik het uiteindelik aangebreek vir Elda om my vrou te word. Die kuier, gelag en geselsies saam met ons familie en vriende was ook een van my hoogtepunte.
Bruid:
Daar was verskeie merkwaardige oomblikke, maar ek dink die heel beste deel was tydens die fotosessie. Robertson kry nie sommer in September reën nie en dit was heel week “oorvloedige sonskyn” soos wat die weertoepassing gewys het. Op ons troudag het dit toe gesous van die reën. Ek was stil-stil bekommerd, maar tydens die fotosessie het dit opgehou met reën en net toe ons klaarmaak toe gaan die hemel se sluise weer oop. Ons was ook aan die einde van die fotosessie geseën met ʼn pragtige reënboog.
Die Besluitnemingsproses
Dit was eintlik maklik vir my as bruid om die besluite te neem, want Christopher is nie veel gepla oor dekor, ens. nie. Hy was ook nie tydens die troubeplannings tydperk in Suid-Afrika nie. Hy was in Nieu-Seeland vir werk. Ek het maar net gereeld foto’s gestuur. My ouma en ma was deel van die groot beplanningsproses saam met Michelle van Bon Cap guestfarm and wedding venue. Daar het ons baie besluite geneem en die hele dag beplan. Ek wou hulle graag deel gemaak het van die proses en help met besluite, veral kos. Hulle opinies het vir my baie beteken en ek is bly ek het hulle raad gevra.
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme
Bruid:
Neem elke liewe oomblik in. Alles gaan so gou verby. Gaan die ekstra myl om ʼn goeie videograaf en fotograaf te kry, want dit, saam met die herinneringe, is al wat oorbly van die spesiale dag. Moenie dat ander jou beïnvloed of vertel hoe jy dinge moet doen nie. Dis jou en jou man se troue, so doen wat julle harte begeer.
Bruidegom:
Begin so vroeg as moontlik spaar en sit elke bietjie weg wat jy kan. Maak seker julle het ekstra finansies vir die onvoorsiene uitgawes. As dit kom by die gaste is dit nie nodig om elke persoon uit te nooi wat op jou Facebook blad is nie. Nooi net jou naaste vriende en familie met wie julle gereeld kontak het.
Venue & Dekor
Ons het verskeie venues besoek. Bon Cap guestfarm and wedding venue was ons heel eerste besoek en dit het dadelik ons harte gesteel. Ons het nog steeds na die ander gaan kyk. Bon Cap guestfarm and wedding venue het alles vir ons beplan en gedoen. Hulle is werklik ʼn uitmuntende span! Ek het al my dekor idees van Pinterest af gekry. Ons fokus was sag, elegant en oorlaai met proteas. Proteas is ons as paartjie se liefdesblom en dit speel al van die begin af ʼn groot rol in ons verhouding. Bon Cap guestfarm and wedding venue het ons dekor drome meer as net waar gemaak.
Gunsteling Diensverskaffers
Sonder twyfel was Bon Cap guestfarm and wedding venue ons heel gunsteling diensverskaffers. Hulle maak troubeplanning stresvry vir enige bruid. Alles was perfek op die dag en daar was nie een ding wat skeefgeloop het nie. Hulle het die dekor, kos, handruiker en vele meer gedoen en dit was ʼn finominale werk. Een van die assistente het selfs op die dag met ’n sambreel aangehardloop gekom om my uit die troukar uit te help terwyl die reën. Hulle het orals gehelp en hulle kan letterlik enige iets vir jou doen. Nie net is dit ʼn mooi venue nie, die diens wat jy by hulle kry is ongelooflik.
Eerste Dans
Ons het besluit om nie ʼn eerste dans te hê nie, want ons wou eerder die tafels so spasieer dat almal lekker saam kan kuier, eet en fees vier. Ook is ons nie groot op dans nie en ons het besluit om nie goed te doen waarmee ons nie gemaklik is nie. Ons troue was intiem, so ons fokus was om saam met ons familie en vriende te kuier. Dit is hoe hulle ons ken en ons is groot op familie- en vriende kuiers.
- Venue, kos en dekor : Bon Cap guestfarm and wedding venue
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Trourok : Elizabeth Stockenstrom
- Grimering + Hare : Evelyn Francis
- Platejoggie, Klank en Beligting : Prime Audio
- Fotograaf : Jané Ulla
- Videograaf : Popped Red Balloon Productions