Francois en Juanè is uiters gemaklik in hul eie spesifieke styl en wie hulle as paartjie is. Hulle het dus ʼn duidelike plan en visie vir hul plaas verlowing fotosessie gehad wat hulle persoonlikhede sal komplimenteer. Met die einddoel van hul groot dag in sig, het hulle die tema en kleurskema van hul verlowing fotosessie op hul troue gebaseer. Dié twee het alreeds vroeg besluit dat hulle ʼn rustieke tema gaan volg. Dus was ʼn verlowing fotosessie op ʼn plaas ʼn gulde geleentheid om die bal aan die rol te kry! Hierdie spontane foto’s gaan op verskeie plekke by hul troue gebruik word om hul troudag so persoonlik as moontlik te maak en met hul gaste ʼn stukkie van wie hulle is, te deel.
Rol af om te kyk hoe Francois en Juanè hul eie spesifieke styl in hul plaas verlowing fotosessie inkorporeer.
Die paadjie wat gelei het tot die verlowing
Francois het vir 4-jaar in Amerika gewerk, terwyl ek (soos elke ander vrou) opsoek was na ware liefde. Toe Francois terug kom na Suid-Afrika, het ek een van my vriende genooi vir ʼn braai en hy het vir Francois saamgebring. Na ʼn paar weke het ek en ʼn vriendin besluit om te gaan drankies drink, terwyl Francois en die einste vriend dit óók goed gevind het om ‘n drankie te gaan drink! Toe ek by die kroeg instap het Francois uit gestap. Ek het hom voorgekeer, my vriend gegroet, Francois aangespreek as ‘Stefan’ en hulle genooi vir ʼn drankie. Na 2 jaar, 1 maand en 25 dae van verlief wees, het Francois ʼn dieper liefde aan my verklaar en my uiteindelik gevra om te trou.
Die groot vraag
Alhoewel die verlowing ʼn groot verassing was, sien ek nou dat al die tekens daar was! Ons het op ʼn plaas gebly en vir die naweek van 15 Desember 2018 by Francois se ouers in die dorp gaan kuier. Ek en Francois het nog altyd ʼn plekkie op die rotse by die dam gehad, waarheen ons gevlug het wanneer die lewe bietjie swaar raak. Francois se ma het my basies gedwing om my plaas-naels netjies te maak en te verf, terwyl Francois en sy pa vullis weg gery het. Daarna, het ons ʼn middagslapie gevat. Francois het my wakker gemaak en gesê dat ek myself moet mooimaak, want ons gaan roomys maak! Tot my bittere spyt, het ek net my hare gekam en geen grimering aangesit nie.
Ons het in die bakkie gespring en gery. Toe ek besef ons ry uit dam toe, het Francois aanhoudend gesê dat hy net iets wil gaan kyk. Toe ons by die dam stop, het Francois die liedjie Truly Madly Deeply gespeel en gesê dat hy iets vir my wil gee wat uit sy kinderdae kom. Ek het ʼn sakkie oopgemaak en ‘n Bybel met ʼn dik boekmerk daarin gevind. Toe ek die Bybel by die boekmerk oopmaak, was 1 Korintiërs vers 4 tot 11 verlig. Die ring was aan die boekmerk se lint vasgemaak en het in die boek gelê met ʼn nota wat sê: “Trou met my?” Francois het op sy knie gesak, ek het ja gesê en ons het 20 foto’s geneem en gehuil! Daarna, het ons die sjampanje geskiet en die nuus met die res van die familie gedeel.
Hoekom ons mekaar liefhet
Juanè:
Francois kan my altyd laat lag. Hy is die snaaksste persoon wat ek ken! Ek weet ek kan altyd by hom afpak en gesels. Hy is die rede dat ek nie laat wil werk nie, omdat ek elke moontlike sekonde saam met hom wil spandeer. Francois is sagmoedig en verdraagsaam. Hy is liefdevol en hoopvol. Hy hou my positief en ons kan saam drome droom. Ons is beide standvastig in die Here, en daarom ook in mekaar.
Francois:
Ek is lief vir Juanè want sy praat altyd my ore van my kop af en het ‘n helder persoonlikheid. Sy is oulik en sy hou my op my plek. Ek is lief vir haar omdat sy is wie sy is.
Tydperk voordat die knoop deurgehak word
Ons het amper onmiddellik na die verlowing begin rondkyk na venues en kostes. Dit is ongelukkig realiteit dat ons eers moes spaar om ons droom dag waar te maak. Ons het sommer een dag nadat ons na ʼn pragtige bekostigbare venue gaan kyk het, besluit dit is nou of nooit! Op ons troudag sal ons dus 1 jaar, 4 maande en 10 dae verloof wees.
Die verloofring
Dit was ʼn absolute verassing vir my! Ek het egter konstant vir Francois gesê dat my ring asseblief nie rond moet wees nie, maar vierkantig.
Rede vir die verlowing fotosessie
Ons het eintlik twee verlowing fotosessies by dieselfde fotograaf laat neem. Die eerste een was bloot uit opgewondenheid en om die stralende oomblik in ons lewens vas te vang. Dié plaas verlowing fotosessie was gemik op die troue. Ons het aangetrek volgens die kleurskema van ons troue en ʼn pragtige sessie laat doen. Die foto’s is nie op die uitnodigings gebruik nie, maar ons het wel een van die foto’s op ʼn doek laat druk en gaan dit gebruik as ʼn gasteboek. Ons het ook van die foto’s gedruk om dit tussen die tafel-plasings en konfetti te hang.
Inspirasie agter die verlowing fotosessie
Ons hele troue is rustiek. Dit is wie ons is. Ons wil hê alles van ons groot dag moet ʼn stukkie van ons weerspieël. Daarom het ons besluit om die fotosessie ook só te doen. Ons fotograaf was hier van groot hulp! Sy het ʼn pragtige land gekry waar ons die foto’s geneem het. Sy is energiek, kreatief en sy het ʼn passie vir foto’s neem. Ek het vir haar idees gestuur en sy het foto’s ver bo my verwagtinge geneem!
Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk
Ons verwag om in hierdie tydperk nader aan mekaar te beweeg. Elke persoon het sy eie verwagtinge en dit is onmoontlik om te veralgemeen, maar verwagtinge wat ons beide vir die verlowings-tydperk gehad het, is om saam te groei – beide emosioneel en geestelik. Daar is van beide die verwagting om aangevul en aanvaar te word. Daar is die verwagting dat beide na dieselfde doelwitte streef, dieselfde lewenswyse kan deel en dieselfde dinge uit die lewe wil hê. Vrese is dat die verwagtinge nie realiseer nie of dat jy halfpad deur deur hierdie proses skrik of koue voete kry! Dit is ‘n groot stap en dit is vreesaanjaend.
Visie vir droomtroue
Ons visie vir die groot dag is dat ons wil hê die prentjie aan die einde, moet ook ʼn prentjie skep van wie ons is. Dit moet ons storie vertel. Dít is waarom ons foto’s van die verlowing fotosessie tussen die konfetti en die tafel plasing wil vassit en waarom ons gasteboek ʼn foto van ons is. Ek en Francois is plat op die aarde en eenvoudig. Ons hele tema vir die troue is rustiek. Die venue is rustiek, ons konfetti word uit ou boeke geknip en ons koek staan op ʼn hout tafel. Ons het nie vreeslike blomme en rose nie, inteendeel, daar is glad nie rose nie! Die blomme is baie aards, oorheersend blare en bessies. Ons wil hê ons dag moet prettig wees.
Fotograaf: Lianè de Necker