ʼn Perfekte Bosveld troue vir twee veld-kinders! Dís hoe Armand en Marné hulself beskryf – avontuurlustige, eenvoudige, natuurliefhebber veld-kinders. Hierdie paartjie het dus onmiddellik aanklank gevind by ‘n venue in Limpopo. Toe hulle die eerste keer na die venue gaan kyk, het hulle hul harte op die groot vyeboom en die prentjiemooi uitsigte verloor. Armand en Marné was na die troue selfs meer vol lof oor dié venue en is van mening dat Kuthaba Bush Lodge hul gunsteling diensverskaffer op hul groot dag was. Die paartjie het nie ʼn troue-beplanner of koördineerder aangestel om te help met die uitvoering van hul troudag nie. Dus, kon alles wat hul so deeglik beplan het, maklik op die dag skeefgeloop het. Gelukkig vir hulle, is die span by Kuthaba Bush Lodge uiters georganiseerd en het ingespring en gehelp om hul spesiale dag seepglad te laat verloop.
Rol af vir tonne inspirasie rakende ʼn pragtige bosveld troue.
Paartjie se Liefdesreis
Ons het mekaar in ons albei se finale jaar by die Universiteit van Pretoria ontmoet. Ons het mekaar egter op Instagram gevolg voor ons ontmoet het. Wat ons na mekaar se profiele getrek het, was ons albei se duidelike liefde vir die natuur. Armand het al voor hy my in die werklike lewe ontmoet het, besluit dat ek sy trou vrou is! Op Valentynsdag het beide van ons saam ons vriende vir die aand uitgegaan en heel toevallig by dieselfde plek op geëindig. Ons het heelaand vir mekaar van ʼn afstand af geglimlag, maar nooit die moed gehad om met mekaar te praat nie. Ek het egter die volgende dag ʼn boodskap van Armand af op Instagram gekry en ons het ʼn koffie saam gaan drink. Een koffie het twee en toe drie geword. Toe ons weer kyk, is ons getroud!
Die Groot Vraag
Ek en Armand het aan die begin van 2018 Ellisras toe getrek. Ons het op Lentedag uitgery Marken se kant toe om kamstig jakkalse saam vriende op ʼn buite geleë plaas te gaan skiet. Op pad soontoe, bel die vriend en laat weet dat hy in die dorp vasgehaak het en laat gaan wees. Armand maak toe die voorstel dat ons by ʼn oord, Bataleur, stop om ietsie te drink.
Toe ons daar aankom, het Armand gevra of hulle wild-ritte aanbied en of ons op een kan gaan. Ek het dadelik gedink iets is aan die gang, want hy het nie eers gevra hoeveel die wild-rit gaan kos nie – iets wat hy altyd doen. So gaan sit ons by die kroeg en drink elkeen ʼn koeldrank terwyl ons vir die gids wag. Langs ons was daar ʼn groepie mense, al lekker jolig, en die een vrou skree kliphard uit: “Is julle die paartjie wat verloof gaan raak?” Net daar kyk ek na Armand en die teleurstelling op sy gesig het my hart gebreek! My hart wou eintlik uit my borskas spring. Ek moes myself keer of ek het net daar ja geskree! Ek het gemaak of ek niks hoor nie en aangehou babbel om sy aandag daarvan af te trek.
So gaan ons op die wild-rit en sien Njalas, Koedoes, Gemsbokke, Blesbokke, Rooibokke, Varke, Swartwildebeeste en die mooiste bome. Die gids se radio skree skielik: “Nog nie! Nog nie!” En so kort rukkie later hoor jy: “Skuus Wynand, ek dink nie my vorige boodskap het duidelik deurgekom nie. Ek sien jy het nog nie voer uitgesit nie, ons sal gou ry en dit gaan doen.” Ek wou myself doodlag, want dit was duidelik nie waaroor daardie “Nog nie! Nog nie!” gegaan het nie.
Ons ry toe verby ʼn watergat en die hoek van my oog vang kerslig, blomme en hartjies wat in ʼn boom opgehang is. Die gids het probeer om my aandag af te trek en vir ons gewys waar ʼn kameelperd deur die heining gebreek het. Ons het by die watergat afgeklim en Armand het op sy knie afgegaan en my gevra om met hom trou. Net toe hy die ring aan my vinger steek, het daardie einste kameelperd verby gehardloop so asof hy geluk wou sê. ʼn Liedjie het oor die voertuig se radio begin speel en ons het die oomblik ingeneem en waardeer. Ons het die aand om ʼn kampvuur gesit en geluister na uile, elande se bene wat knik-knak soos hulle verby ons loop, en ook ʼn heerlike aandete by ons Safari Tent geniet.
Die Verlowing Tydperk
Ons het die op 1 September 2018 verloof geraak. Dus was ons ongeveer 9 maande verloof. Ons het die troue, met familie en vriende se hulp, self beplan. Alles was ook self gedoen – ek het byvoorbeeld die origami diertjies gevou, my ouma het die blomme gedoen, my ma het die bruidsmeisies se rokke gemaak en die uitnodigings en die trou-koerantjie het ek en Armand self opgestel.
Merkwaardigste Oomblikke
Armand
Toe Marné in die paadjie afgestap het. Ek is maar ʼn man van min woorde, maar dit het my asem weggeslaan! Niks anders kon in daardie oomblik saak gemaak het nie. Die wêreld het stilgestaan en net daardie oomblik het saak gemaak. Dit was die grootste glimlag wat ek nog ooit op my gesig gehad het. Ek sal nooit vergeet hoe mooi sy gelyk het en hoe gelukkig ek was om te dink: “Dit is my vrou” nie.
Marné
- Armand se glimlag toe ek in die paadjie afstap. Die absolute blydskap op sy gesig het my só opgewonde gemaak oor dit wat nog alles vir ons voorlê. Hy het my eers gevra om in die rondte te draai, sodat hy mooi kan sien hoe ek lyk voor die seremonie begin het.
- Ek huil baie maklik en het myself belowe dat op my troudag ek nie ʼn traan sal pik nie – Ha! Tydens die seremonie toe ons ons beloftes aan mekaar aflê, het ek emosioneel begin raak. Armand het my gesig in sy hande gevat, my trane afgevee en my op die voorkop gesoen. Daardie oomblik sal ek vir ewig in my hart koester. Dit verteenwoordig so mooi hoe hy nog altyd my hart in sy hande dra, my koester en my lief het.
Paartjie se styl
Ons is albei veld-kinders en avontuurlustig, maar redelike eenvoudige mense. Ons is nie baie lief vir frilletjies en krulletjies nie. Armand se uitrusting het bestaan uit ʼn chino, doodgewone wit hemp met opgerolde moue, kruisbande, ʼn strikdas, ʼn leer-beld en sy gunsteling skoene – vellies. Armand is nie regtig iemand wat ʼn pak dra nie en dus het ons vir iets meer gemakliker gegaan. Al het ons in die winter getrou, was die Bosveld steeds warm. Sy skouer-ruiker het bestaan uit ʼn koeël-doppie. Dit het Armand se persoonlikheid so mooi vasgevang – my veld-kind. Ek hou ook van Armand met ʼn baard en het dit mooi in stand gehou vir die troue.
My rok was eenvoudig, sag en vroulik. Dit het fyn blommetjies van kant voor en agter op my rug en die sleep gehad. Ek het ʼn groot liefde vir fyn veldblommetjies en het dus ook van die fyn blomme van ons troue in my hare gedra. My lang hare was los om by die vroulikheid en sagtheid van die algehele styl te pas en Armand is mal oor my hare los. Ek wou nog altyd ʼn bosnimfie wees en het op my troudag beslis soos een gevoel!
Ons is albei sentimenteel en lief vir oudhede. Daarom het ons ons ringe laat smee uit ou familie ringe. Meeste van die diamante in my ring kom van ons ma’s af, maar die hoof diamant het hy self gekoop. My ring is fyn en verteenwoordig ʼn blaar-takkie, wat perfek by ons liefde vir die veld pas. Armand wou ook niks snaaks gehad het nie en daarom is sy ring ʼn doodeenvoudige goue band.
Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke
- Almal was laat! Die mense wat verantwoordelik was om die dekor op te stel het baie amper nie betyds klaar gemaak nie. Dus het ons fotograwe nie regtig foto’s van die venue alleen nie. As ek iets kon verander, sou ek eerder ʼn professionele derde party gekry het om die dekor op te stel.
- Ons platejoggie het 5 minute voor ek in die paadjie moes afstap opgedaag en dus het ons gaste nie musiek voor die tyd gehad nie. Die fotograwe moes hom help om op te stel, so daar was nie tyd vir foto’s neem van die venue nie. Die platejoggie het na drank geruik en op ons eerste dans het die liedjie 3 keer gehak en gestop.
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme
Armand
- Kies ʼn venue met lekker kos!
- Manne, ondersteun jou toekomstige vrou sover as moontlik. Dit is julle beide se dag. Moet nie alles vir haar los om op haar eie te doen nie. Elke bruid wil voel dat haar man ook uitsien na die dag en saam met haar opgewonde is.
- Wees aan jou bruid se kant gedurende die beplanningsproses. Mense se opinies kan soms te veel raak. Beskerm haar, maar tog nie so erg dat jy voel jy wil met die wêreld baklei nie.
- Hou jou gevolg betrokke van die begin af en doen moeite met hulle – jy wil hulle tog ook opgewonde hê oor jou troue. Ek het ʼn fantastiese gevolg gehad. ʼn Mengelmoes van persoonlikhede, maar elkeen het sy rol 100% vervul.
- Doen moeite op die dag met jou bruid. Stuur klein geskenkies of briefies sodat sy weet jy dink aan haar en sien uit om haar te sien.
- Geniet elke oomblik ten volle – dit gaan baie vinnig verby!
Marné
- Onthou waaroor die dag eintlik gaan – jy en jou man se belofte om mekaar vir ewig lief te hê en te koester. Soms raak almal se opinies en voorstelle te veel, maar die belangrikste is om te doen wat vir julle twee reg en goed is.
- Neem jou man in ag met alle besluite – dit is sy dag ook.
- Moet nie te veel op ander mense staatmaak om iets te doen nie. As jy iets gedoen wil hê, doen dit self of kry ʼn professionele derde party wat verantwoordelik gehou kan word.
- As jy ʼn gesellige atmosfeer wil skep, kies ʼn venue wat ʼn aanloklike element het. Ons kampvuur het almal aangetrek en gedwing om saam te kuier en dit het die mooiste oomblikke vasgevang.
- Vat 2 minute tydens die dag en neem alles in. Ek en Armand het na die seremonie net eenkant gestaan en mekaar en alles om ons waardeer.
- Maak seker die groot goed is lank voor die tyd reg om onnodige spanning die week van die troue te vermy. Ontspan oor die klein goedjies, niks gaan 100% perfek wees nie.
- Drink baie vitamiene voor die tyd! Mens kan maklik die dag na die tyd met ʼn slegte verkoue opstaan.
- Koester elke oomblik – voor jy jou oë uitvee is dit verby!
Gunsteling Diensverskaffers
Kuthaba Bush Lodge is by verre ons gunsteling! Jason en sy span is wonderlike mense en hulle diens was uitstekend! Om nie te praat van die heerlike kos nie!
Die Besluitnemingsproses
Ons het die familie en vriende se opinies en voorstelle waardeer en oorweeg. Ons het al die besluite saam geneem. Niks was besluit of gedoen voor albei dit nie goedgekeur het nie.
Vermaak
Ons het verwelkoming-drankies, ʼn platejoggie en ʼn kampvuur in die middel van die seremonie gehad. Die kampvuur het ʼn gesellige atmosfeer geskep en mense het heelaand langs die vuur met mekaar gekuier. Ons het ook ʼn Polaroid kamera gehad vir die gaste om foto’s te neem – dít het hulle vreeslik geniet!
Venue & Dekor
Armand se ooreenkoms met my ouers was dat ek eers my honneurs moes deurkom voor ons mag trou. Toe ek honneurs deur is, het Armand begin rondkyk na venues en op Kuthaba afgekom. Ek was egter aan die begin eers skepties, omdat ek reeds ʼn geruime tyd my hart op die ander venue gehad het. Die dag toe ons na albei venues gaan kyk het, het Kuthaba ons harte gesteel. Toe ons onder die dig bome op pad ontvangs toe gery het en die vyeboom sien, het dit my aan Feëtjieland laat dink. Die venue het perfek by ons persoonlikhede gepas en die intimiteit wat ons graag vir die seremonie wou hê, verskaf. Kuthaba het die opsie gehad dat al ons gaste vir die naweek daar kon vertoef. Ons het voorwaar ʼn heerlike naweek-bruilof saam al ons geliefdes geniet.
Die dekor is so eenvoudig as moontlik gehou. Die blomme was oor die algemeen wild, fyn en bosserig om by die Bosveld atmosfeer aan te pas. Daar was diertjies op die tafels – olifante, bokkies, renosters en voëltjies. Dit het mooi by die Bosveld tema aangepas. Ons het ook feetjie liggies en kerse bygevoeg om ʼn romantiese atmosfeer te skep.
Finansiële Aspekte
Die totale begroting was R 115 000, maar ons het op die ou einde slegs ongeveer R 90 000 spandeer. Ons het ʼn volledige begroting gehad en elke koste wat aangegaan is, by die begroting gevoeg.
Ons advies aan ander paartjies is om:
- Verskillende kwotasies vanaf verskeie verskaffers te ontvang voor iemand se dienste gekies word.
- Nie kostes aan allerhande snaakse elemente te spandeer nie – gaste onthou dit in elk geval nie. Spandeer eerder bietjie ekstra op die venue en die kos. Dit is tog die hart van die troue.
- Spandeer geld op ʼn goeie fotograaf wie se styl met julle s’n ooreenstem. Die foto’s is al wat oorbly van die dag.
- Kry eerder iemand, wat jy betaal, om verantwoordelikheid vir die dekor en opstelling te neem om te verseker dat alles betyds gedoen is.
Wittebrood
Ek en Armand het ʼn ongelooflike groot Plekke-Om-Te-Sien lysie, maar Griekeland was bo aan die lys! Ons het van die begin af ons wittebrood saam beplan, omdat ons gevoel het ons albei moet dit geniet.
Omdat ons wou wegbreek van die normale wittebrood bestemmings, het ons die eiland van Naxos van hoek tot kant met ʼn vier-wiel motorfiets verken. Ons het op die mooiste strande geswem en koppies uitgeklim wat die mooiste uitsigte gehad het. Ons kon met die vier-wiel plekke wat nie toeganklik was vir ander vorms van vervoer nie, verken. Dus het ons op die mooiste plekkies afgekom wat heeltemal versteek is vir die algemene publiek.
Interessante staaltjies van ons wittebrood:
- Ons het een dag verdwaal en op ʼn plaas by ʼn tannie wat besig was om haar wasgoed op te hang, gestop. Armand het probeer om met haar Engels te praat, maar dit was duidelik dat sy net Grieks kon praat! Armand het toe sommer in Afrikaans met haar gepraat en sy in Grieks met hom. Dit was nogal ʼn prentjie om te sien! Die twee het met gebare taal mekaar baie mooi verstaan en sy kon ons op die regte pad lei.
- Ons het ook ʼn plaaslike boer, Dimitris ontmoet. Dimitris was so opgewonde oor ons wat belangstel in sy tiemie heuning en die feit dat ons op wittebrood was dat hy ons oorlaai het met gratis geskenkies! Ons het weggestap met tiemie heuning, tiemie, origanum, appelkose, nartjies, ingelegde suur kersies, sy familie port (proe soos asyn), kitrons en rosyntjies. Ons het egter nie kleingeld gehad om vir die tiemie heuning te betaal nie en moes dus ry om kleingeld te gaan ruil. Armand wou vir hom sy bestuurderslisensie gee om as versekering te hou dat ons terugkom. Die Griek het egter geweier en gesê hier op Naxos vertrou mense nog mekaar – ons sorg vir mekaar. By ʼn vulstasie moes Armand weer met gebare verduidelik dat ons die kleingeld wou ruil.
- Tydens ons tweede-laaste dag op die eiland, het ek en Armand geloop en Afrikaans praat. Net daar stop ʼn tannie ons en vra skaam “Ekskuus, het julle nou net Afrikaans gepraat?” Tannie Annelien en Tannie Berdine van Carnavon in die Karoo is twee wonderlike mense! Ons was almal so opgewonde om mede Suid-Afrikaners raak te loop dat dit in ʼn heerlike kuier met Griekse danse en baie Raki en Ouzo ontaard het. Dit was vir ons so mooi dat maak nie saak waar ons in die wêreld is nie, dat Afrikaners na mekaar omsien.
- Daar was menigte mense wat ons voorgekeer het en vir ons vertel het watter mooi taal ons praat en hoe mooi ons aksente is.
- Tydens ʼn seiljag om die eiland, het ons Kanadese ontmoet. Toe ons noem dat ons van Suid-Afrika is het die vrou amper uit haar vel uit gespring en opgewonde gesê: “Oe! We love Die Antwoord!” (uitgespreek dye antwoerd.)
Eerste Dans
Ons het op Adam Tas se Lappieskombers gedans. Die woorde van die liedjie verduidelik ons liefde vir mekaar só mooi. Ons het die liedjie een aand by ʼn braai gehoor en dadelik geweet dit is ons trou liedjie. Ons het nie vir dans-klasse gegaan nie, maar ons het wel ʼn paar keer in ons kombuis op die liedjie geoefen. Omdat ons ons eerste dans natuurlik mooi wou gehad het, het ons nie ʼn spesifieke roetine uitgewerk nie.
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
- Fotograaf: Hulle Media
- Venue: Kuthaba Bush Lodge
- Videograaf: Lyte Films
- Trouringe: Kraai Fine Jewellery
- Bruid se rok: Enzoani, Big Bridal Popup
- Bruid se hare & grimering: Hair and makeup by Samuné van der Merwe
- Bruidegom & strooijonkers se leer bykomstighede: Leather Bros
- Bruid se skoene: Botterblom Decor & Gifts
- Selektiewe dekor: Bloom Decor and Events
- Strooimeisies se oorbelle: Oelala
- Donuts: Bakhuis, Nylstroom
- Platejoggie: Infinity x Infinity