Nina erken dat die beplanning van ʼn troue ʼn groot uitdaging kan wees en dat dit beslis nie altyd maanskyn en rose is nie! Indien jy weet dat jy van nature ʼn uitsteller is en sukkel om te delegeer, is dit ʼn goeie idee om hulp te vra eerder as om alles self te probeer doen. Alhoewel Nina gesukkel het om tyd af te knyp om aandag te gee aan die fyn details, het haar goeie smaak en styl gesorg vir die perfekte troudag. Sy het ʼn donker en misterieuse kleurskema gekies, met dekor wat uit interessante blomme en groen loof bestaan het. Hul venue, The One Heaven & Earth het op die dag verseker dat al die elemente wél bymekaarkom en dat geen detail afgeskeep of vergeet word nie.
Nina het, met liefdevolle aanmoediging van haar verloofde, die groot besluite self geneem en die uitvoering daarvan in haar bekwame diensverskaffers se hande gelaat.
Janco en Nina se troue het beslis ʼn paar versteekte elemente wat vir die sukses van hul troudag gesorg het. Rol af vir foto’s wat elkeen van hierdie details vasvang!
Hoe het ons ontmoet:
Janco se woonstelmaat was my niggie se kêrel (nou man) en hy het ons aan mekaar voorgestel. Ons het op Stellenbosch ontmoet, die aand van Vensters in 2014. Twee aande later, het ons mekaar weer in die dorp raak gekuier en die res is geskiedenis.
Ons het verloof geraak by Warwick Wine Estate in Stellenbosch. Ek was onder die indruk dat ons Janco se ma-hulle daarheen sou vat vir ‘n piekniek. Ons het gaan stap en ek het verwonderd na die ‘piekniek pods’ gekyk – dit was my eerste keer daar. Toe ek die een piekniek pod op die punt van die grasperk sien, versier vol ballonne en roosblare, het ek nog niks vermoed nie. Ek het net gesê: “Kyk, Janco, iemand verjaar!”
Toe ons nader kom, ek nog nuuskierig, loer ek na die pragtige pod en sien ‘n leë, oop, ring boksie op die tafel staan. Steeds het ek niks vermoed nie. Ek swaai toe om en sê vreeslik opgewonde: “Janco, iemand is verloof!” Hy trek my toe nader en begin met sy versies. Ek het regtig gedink hy maak ‘n grap! Net daarna het altwee ons gesinne opgedaag en ons het die beste piekniek ooit gehad.
Verlowing tydperk:
25 November 2017- 10 Augustus 2019. Byna twee jaar! Ons het die troue self beplan, met behulp van familie en vriendin. André Lambrechts van FAB Events het ons bygestaan met die koördinering op die dag.
Merkwaardigste Oomblikke
Bruid:
Vir my was dit die twee oomblikke toe my in-stap liedjie begin speel het net voor ek by die paadjie afgestap het, en ook toe ons buite die onthaal saal gewag het voordat ons ingegaan het. Teen daardie tyd was al die formaliteite verby en die feesviering saam met ons familie en vriende het voorgelê.
Bruidegom:
Toe sy by die paadjie afstap. Ek was baie emosioneel.
Paartjie se styl
My rok was baie vroulik, met baie gedetailleerde materiaal, maar tog ʼn eenvoudige snit. Janco se pak was donkerblou met ‘n bont, blomme das. Die strooimeisies het smaraggroen, fluweel rokke aangehad, wat gepas het by die strooijonkers se vlootblou broeke, wit hemde en strikdassies, wat dieselfde blom-motief as Janco se das gehad het.
My verloofring bestaan uit ‘n ovaal diamant met ‘n ‘halo’ van kleiner diamante rondom. My troupand is ‘n blommetjie / blaar motief wat soos ‘n kroon om die verloofring pas. Janco se trouring is silwer met ‘n ‘mat’-afwerking.
Die besluitnemingsproses:
Ek het meeste van die besluite geneem, maar die feit dat hulle wel geneem was, is te danke aan Janco wat my gehelp het om dit nie uit te stel nie. Anders sou ek nog baie keer van plan verander het!
Advies aan toekomstige bruide en bruidegomme
Bruid:
Ek het, in alle eerlikheid, die reël van die troue nie so baie geniet nie en het dit nogal uitdagend gevind. Dit het so uitgewerk dat die troue gereël moes word in die moeilikste jaar van my lewe en daarom het baie detail vir my onbenullig gevoel. Ek het ook op daardie stadium met ‘n nuwe werk begin en boonop dit, sukkel ek om te delegeer en ek is ‘n uitsteller van formaat as dit by persoonlike sake kom. So my advies is; Vra vir hulp, wees spesifiek, moenie uitstel nie en vertrou ander volkome. Ek is baie gelukkig om te kan sê dat God vir my die perfekte man gestuur het!
Bruidegom:
Geniet elke oomblik van die dag – dit gaan ontsettend vinnig verby! Moenie ‘n rekening by die bar oopmaak op jou pa se naam nie…
Venue & Dekor
Ek het deur ‘n vriendin uitgevind van die venue, The One Heaven & Earth. Teen daardie stadium, begin 2018, was die venue op pad om sy deure oop te maak. Sy het een van die eerste troues daar bygewoon. Ons het na die venue gaan kyk en was onmiddellik oortuig!
My idee vir die dekor was “dark and moody.” Daar was baie loof wat uit die dak gehang het, met moderne naakte gloeilampe. Die loof het bestaan uit bloekom blare, Delicious Monster blase, Ivy, Keiserskrone en vele meer. Op die tafels was orgideë en tulpe, met baie kerse en liggies. Die kleure was oorheersend donker groen, Boergondië, cerise pink en swart.
Finansiële Aspekte
Ons het 110 gaste gehad. Die koste het ongeveer R1 800 per persoon beloop.
Ons het sekere uitgawes uitgesny, byvoorbeeld dat ons nie ‘n troukoek gehad het nie. Ons het ander nagereg gehad ons wou nie die koek wou mors nie. Dit spaar al klaar ‘n paar rand! Ek was bevoorreg dat my ma my, met insette van my tannie en ouma, my rok kon maak. Dit was ongelooflik spesiaal en het ons begroting baie gehelp. Die kostes aan die rok verbonde, was my ma se geskenk aan my. Ons was ook bevoorreg om al die loof self te kon voorsien. Ons het byna 2000 voëltjies uit papier gemaak. Vriendinne, oumas en niggies het almal gehelp. Die voëltjies is in die woud waar ons getrou het, gehang – ‘n operasie op sy eie!
Die nie-so-perfek oomblikke
My onderrok – Terwyl ons besig was om te trou, het ek besef dat my onderrok wat my rok laat uitskop, nog by die gastehuis lê! My broer het toe inderhaas dit na die seremonie gaan haal.
Broer se belt – My broer, wie my ingebring het, het sy belt vergeet. My oupa was toe die redder en het vir hom ‘n beld geleen.
Gaste wat laat opgedaag het – Janco het bietjie senuweeagtig geraak toe die klok 4-uur slaan en ek stap nog nie in nie. Hy het toe besef dat al die gaste nog nie daar is nie. Ek moes weer terug klim in die kar en wegkruip tot almal gaan sit het.
Na ‘n baie harde Vrydag werksessie om al die voëltjies gehang te kry, het ons die nuus Saterdag-oggend gekry dat die dou die voëltjies almal onderste-bo laat hang het. Ongelukkig was daar te min tyd om dit reg te maak.
Eerste dans
Ons was so besig in die tyd wat ons die troue gereël het, dat ons omtrent net drie keer geoefen het. Ons het toe maar net besluit dat dit glad nie so erg is nie en nie perfek hoef te wees nie! Dit het toe in elk geval baie goed gegaan en was ‘n baie spesiale oomblik. Ons het op Westlife se “Hello My Love” gedans.
- Venue: The One Heaven & Earth
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
- Fotograaf: Mick Creative
- Videograaf (Student): Mijean Ludeman
- Platejoggie: DJ Arries (Armand Vermeulen)
- Dominee: Ds Marius Joubert
- Rok: Ma van die bruid (Lenca Bruwer)
- Grimering: Sunet Basson
- Verloofring: Carine Van Zyl Jewellery
- Trouringe: Talitha Oosthuizen
- Hare van moeders en bruidsmeisies: Cornel van Illusions (Robertson)
- Skryfbehoeftes: Tarien Bruwer (Suster van die bruid)
- Geskenke: Rialheim
- Spyseniering: Two Chefs Catering
- Dekor en blomme: FAB Events
- Wyn: Springfield Wines