Carl en Elsje het elke haas uit die hoed gepluk vir hul verlowing fotosessie! Nie net was hul albei geklee in pragtige formele drag nie, maar hulle het ook al die nodige rekwisiete en dekor gehad vir ‘n ongelooflike verlowing fotosessie. Helder blommerangskikkings van verskillende kleur rose anthuriums en ook pragtige pampas het dié fotosessie ‘n lewendige gevoel gegee. Verpersoonlikte sjampanje, spesiale skryfbehoeftes, ‘n reuse kersstaander en pragtige dekor elemente op ‘n gedekte tafel het ook bygedra tot ‘n romantiese atmosfeer.
Ons kan nie wag om te sien wat hierdie paartjie gaan optower vir hul troudag nie! Rol af om na hul professionele verlowing fotosessie te kyk.
Die paadjie wat gelei het tot die verlowing
Ek en Carl het mekaar in Potchefstroom ontmoet by die Mystic Boer. Ek het die vyftiende Januarie 2016 terug gekom van ‘n jaar in Nederland en hy het toevallig daardie selfde dag opgetrek van George af om ‘n nuwe begin aan te pak. Twee weke nadat ons albei in Potchefstroom aangekom het, het een van sy vriende ons aan mekaar voorgestel. Ek en ‘n vriendin was uit om te gaan Foozeball speel en sy vriend het gevra of hulle by ons kan kom aansluit. Carl was werklik moeg daardie aand en ek het weer vreeslik baie energie gehad! Ons het nie dadelik gekliek nie. Na ‘n paar aande se braai en saam kuier, het ons een aand lang ure gesit en gesels. Daar het ons besef dat ons dieselfde beginsels en waardes het.
‘n Sterk vriendskapverhouding het in ‘n romantiese verhouding ontwikkel. Ons was byna twee jaar saam voor hy my gevra het om te trou. Ons albei het geweet dat ons ons sielsgenoot gevind het.
Die Groot Vraag
Ons verlowing was klein bietjie ‘gat-kant-voor’. Ek en Carl het een middag vreeslik vasgesit en daarna net besef dat ons oneindig lief is vir mekaar en enige iets saam kan deurmaak. Ons het impulsief in die kar geklim en Sterns toe gery waar ons toe ‘n ring gekoop het. Daarna het ons direk by my ouerhuis gestop en die nuus aan hulle gebreek. Hulle was in die wolke daaroor!
Die ring was in die proses om kleiner gemaak te word, terwyl Carl se planne al hoe groter word. Ek het steeds nie geweet wanneer of waar hy my gaan vra nie. My beste vriendin en haar man het ‘n naweek deurgekom Potchefstroom toe om vir Carl te help met die laaste beplanning en om my besig te hou. Hulle het my na die plek geneem waar die groot oomblik gaan gebeur.
Hy het my gevra ‘n entjie uit die dorp op ‘n plaas. Ek was geblinddoek die hele pad op met die heuwel, waar hy my toe voor hom laat staan het terwyl hy op een knie gaan. Die oomblik was so mooi en perfek, ek sal elke dag weer ‘ja’ sê! My vriendin en haar man het dit vir ons vasgevang op kamera en saam ons ‘n glasie sjampanje geklink na die tyd. Dit was alles só spesiaal en kosbaar.
Hoekom ons mekaar liefhet
Ek en Carl vul mekaar aan soos ‘n handskoen. Ons albei het dieselfde beginsels en waardes. Dit is werklik vir ons wonderlik teenoor ons vorige verhoudings om nou met ‘n geruste hart dag in en dag uit te weet die ander persoon is lojaal, opreg en met alles lief vir jou.
Rede vir verlowing fotosessie
Marisa (my vriendin) het my een oggend onverwags gebel terwyl ek in Ekonomie sit. Gelukkig was die klas so te sê verby en ek kon antwoord met die uitloop slag. Sy het laat weet dat sy graag vir my en Carl ‘n gestileerde fotosessie wil reël en dat ons dan die foto’s kan gebruik vir ons troue se webtuiste uitnodigings. Ons het toe na daardie dag op Corene van der Merwe besluit om ons spesiale dag wat voorlê op 28 Maart 2020, vir ons vas te vang.
Die Verloofring
Ons was aan die begin van ons verhouding, een oggend in die dorp gewees. Carl was opsoek na ‘n horlosie, maar min wetend wou hy eintlik sommer toevallig ook weet waarvan ek hou tussen die ringe. Daardie dag het ek die mooiste ring in die glaskas gesien wat my hart gesteel het – roos-goud en morganiet. Die dag toe ons besluit het dit is tyd, was daardie presiese ring steeds daar! Ek het steeds dieselfde gevoel as die eerste keer wat ek hom gesien het, gekry.
Visie vir droom troue
Dit is vir my baie belangrik om alles ‘n maand voor die troue af te handel om ‘n stres-vrye droom dag te bekom.
Wanneer die dag aanbreek, gaan dit oor ons as bruidspaar wat ons belofte aan mekaar en voor die Here toeken. Daarna is dit vir ons belangrik dat elke gas hulself deur die aand saam ons sal geniet en ons spesiale dag vier.
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
- Fotograaf: Corene Van Der Merwe
- Hare & Grimering: Melissa Gloy
- Blomme & Dekor: Jade Starkey
- Skryfbehoeftes: Marisa Kruger