Hennie en Maderiè het hul verlowing afgeskop met ʼn romantiese fotosessie in ʼn kunstige koffiewinkel. Toe hulle die fotosessie begin beplan het, was hulle opsoek na ʼn omgewing waar hulle gemaklik en gelukkig voel. Hulle is mal daaroor om verskillende koffiewinkels saam te besoek en het gevoel ʼn verlowing fotosessie in ʼn koffiewinkel sal die perfekte styl en gevoel vir hul foto’s skep. Hulle het ook die fotosessie afgesluit met ʼn sessie in die natuur om ʼn verskeidenheid foto’s te verseker.
Indien jy besig is om ʼn verlowing fotosessie te beplan, maar nie ʼn idee het waar om te begin nie, identifiseer ʼn ligging wat spesiaal is vir jou én jou verloofde. Die sukses van jou fotosessie hang af van hoe gemaklik jy daarmee is om voor die kamera te poseer; So maak seker jy kies ʼn ligging waar jy en jou aanstaande 100% gemaklik en gelukkig voel.
Die paadjie wat gelei het tot die verlowing
Ons het mekaar ontmoet deur gemeenskaplike vriende in ons eerstejaar van universiteit op Potchefstroom. Eers aan die einde van ons tweedejaar, het ‘n ongelooflike vriendskap begin toe Hennie my na ʼn koshuis-dinee gevra het. Ons was eers beste vriende en het mekaar deur dik en dun bygestaan. Ons kon mekaar dadelik met alles vertrou en was van die begin af baie gemaklik met mekaar. Die band tussen ons het al hoe sterker en meer spesiaal geword. Ons was 4 jaar in ‘n verhouding voordat ons verloof geraak het.
Hoekom ons mekaar liefhet
Ons vul mekaar so goed aan en is werklik die beste weergawe van onsself saam. Ons is heel beste vriende met geen geheime nie!
Maderiè: Hennie is geweldig onselfsugtige en sal altyd uit sy pad uit gaan om ander te help. Hy maak my ‘n beter mens.
Hennie: Maderiè het ‘n manier om my kalm te maak en te laat voel of die wêreld se probleme my nie kan onderkry nie. Sy deel my plattelandse waardes en het ‘n pragtige omgee-hart.
Die groot vraag
Op 6 Julie 2019 het Hennie uiteindelik die groot vraag gevra. Alhoewel ons al ‘n hele ruk daaroor gepraat het, het ek glad nie verwag dat dit daardie dag sou gebeur nie. Hennie het alles só beplan dat ek juis niks daardie dag sou vermoed nie. Die detail wat daarin gegaan het, was klaar iets besonders.
Hy het vir my vertel dat hy Afriski toe moes gaan vir werk. Hy het my die keuse gegee of ek wil saam ry of nie, maar tog geweet dat ek nooit sou nee sê vir ‘n avontuur op die pad nie. Sy “afspraak” was laat en ons moes ‘n bietjie tyd wen en rondloop. Terwyl ek met die sneeu speel, het hy op sy een knie gegaan en vir my gevra om met hom te trou. Dit was net ons twee. My enigste vereiste was dat daar geen ander mense naby ons mag wees as hy my sou vra om met hom te trou nie. Ons het daarna iets gaan eet en dit geniet om in die buiteland te wees vir die oomblik. Net ons twee.
Tydperk voordat die knoop deurgehak word
Ons het 6 Julie 2019 verloof geraak en trou 15 Februarie 2020.
Die Verloofring
Ek wou ‘n ovaal diamant hê. Dit is ‘n redelike skaars diamant, so Hennie het lank gesoek na die regte diamant. Ek is nogal kieskeurig en daarom sou ‘n verrassing nie die beste opsie wees nie.
Inspirasie agter die verlowing fotosessie
Ons wou natuurlike verlowingsfoto’s hê, waar ons gemaklik en gelukkig lyk. Ons hou baie van koffiewinkels en toe ons op Seisoen afkom, het ons dadelik geweet dat dit die plek is waar ons ons foto’s wil laat neem. Dit is ‘n pragtige plek met ongelooflike goeie styl.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
- Fotograaf: Go Urban Photography
- Ligging: Seisoen
- Haarstilis: Pritty Women