Van al die moontlike plekke waar paartjies die knoop kan deurhak, is ons gaande oor Damian en Lize se sprokies-troue op ‘n olyf-plaas in die Namibiese woestyn. Om in die woestyn te trou is beslis baie meer opwindend as wat dit klink! Met die regte keuse van styl en dekor om by die omgewing te pas, het hul troudag soos iets uit ‘n sprokiesverhaal gelyk! Hulle het die dekor so natuurlik as moontlik gehou, wat ‘n gevoel van rou romanse op die olyf-plaas geskep het. Dit was ook voordelig vir hul begroting omdat hulle blomme slegs uit bougainvilleas en woestyn-rosies bestaan het, wat hul self geplant of gestroop het. Hul gaste het ‘n heerlike buitelug troue geniet, met die onaangeraakte natuurskoon, eindelose fee-liggies en Damian en Lize se opregte liefde as hul uitsig.
Damian en Lize se troue is beslis nie iets wat mens aldag sien nie! Rol af om na hul asemrowende troufoto’s te kyk.
Julle troudatum en Ouderdom van paartjie op troudag?
Ons het op 24 November 2018 getrou. Lize was 31 en Damian was 28 jaar oud.
Hoe het julle mekaar ontmoet en wie het wie gevra om te trou?
Ek en Damian het saam medies by tukkies studeer. Damian was ‘n voor-op-die-wa koshuis ou met ‘n onweerstaanbare glimlag! Hy het selfs gemaak asof hy nie weet hoe om steke in te sit nie, net sodat ek hom kon help. Alhoewel ons nooit uitgegaan het tydens ons studente jare nie, het ons altyd kontak gehou en mekaar weer gevind tydens ons internskap jare.
Ons moes vir ‘n paar maande tussen Durban en Johannesburg vlieg om mekaar te sien, maar geluk was aan ons kant! Ons was saam in Harding, KZN geplaas vir ons gemeenskapdiens jaar. Hy het my gevra om te trou in die Midlands, terwyl ons ander vriende se troue bygewoon het. Hy was so bang om die ring te vergeet, dat hy ons trou klere netjies op die bed vergeet het, 500km van die trou venue!
Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf
Nadine en SP van Nifty Studio was ons fotograwe. Om ‘n fotograaf te kies was my werk (Damian.) Ek het Nifty Studio gevind en deeglik na hul vorige werk gekyk. Ek kon nie glo ons was gelukkig genoeg om ‘n bespreking by hulle te kry nie. Hulle is regtig asemrowend!
Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?
Ons sou niks verander nie! Die merkwaardigste oomblik was verseker toe Lize in die paadjie afgestap kom in haar pragtige wit trourok!
Vertel ons meer van jul ringe
Damian se ring is ‘n geborselde titanium band van Wolf Brothers. Ek was mal oor Browns se Protea Solitaire. Ek het dinge bietjie andersom gedoen; My verloofring was ‘n volle ewigheid band, ook van Browns.
Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?
Bruid: Moenie dat die klein dinge jou ontstel nie. Die dag gaan regtig só vinnig verby en niemand gee om, of kom eers agter, as alles nie volgens plan verloop nie.
Bruidegom: Dames lei beslis in terme van reëlings en besluite, maar ek dink dis net so belangrik vir die mans om ‘n aktiewe rol te neem en betrokke te wees. Op die dag, stres oor niks en geniet dit.
Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?
Ek was opsoek na ‘n minimalistiese en praktiese rok, iets wat vloeiend is maar ook bietjie vleiend! Robyn Roberts was my eerste en enigste stop. Ek het dadelik geweet toe ek die regte rok kry en ek kon nie gelukkiger wees nie!
Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?
Ons het begroot vir R150 000. Ons kon redelik kostes sny deur familie wat gehelp het met die koeke, skryfbehoeftes, tafel dekor ens. Dit het alles ook meer persoonlik gemaak. Ons het 60 gaste onthaal.
Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?
Kry mens beter as ‘n olyf-plaas in die middel van die woestyn? Ons wou alles so natuurlik as moontlik hou. Ons het die dag voor die troue bougainvilleas gaan stroop vir konfetti en dekor.
Vertel ons meer van jul Wittebrood
Ek (Damian) en Lize is altwee baie lief vir die seë, so ‘n week in Mauritius was ‘n droom! Son, koue drankies en skilderagtige uitsigte is ‘n wonderlike manier om jou eerste paar dae van getroude lewe te geniet. En natuurlik ook al die lekker kos!
Vertel ons meer oor die inspirasie vir julle troukoek
Damian het ongelooflike talentvolle sussies en sy jongste sussie, Dalmaine, het ons koeke gebak. Ek kon nie besluit tussen sjokolade, vanielje en wortelkoek nie, toe kies ons al drie! Elkeen van die koeke was versier met ‘n verskillende en spesiale tipe blom. Die hoof-koek met wit rose, soos in my ruiker, die sjokolade koek met pienk Bougainvilleas en die vanielje met woestyn rose. Ouma Hilda (Damian se Ouma) het in haar tuin vir ons woestyn rosies geplant en gegroei vir die tafel dekor.
Vertel ons meer oor jul eerste dans
Ons wou iets prettig doen en het besluit om ‘n dans wat gechoreografeer is op Olly Murs se ‘Dance with me tonight’ te doen. Dit was vet pret, alhoewel ons altwee linker-voete het! Met bietjie hulp en ‘n paar weke se oefen, het dit goed afgeloop. Ons het baie gelag en dit het gesorg vir ‘n lekker manier om die dansvloer te open.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
- Fotograaf: Nifty Shoots
- Venue: Shalom Olive Farm
- Spyseniering: Cello Caterers
- Trou beplanner en koördineerder: Dalene van Touch of Serenity
- Hare en grimering: Andrea Make-Up and Hair