Leon en Nadia het hul liefdes storie tussen pragtige katoenvelde voor die kameralens vertel sodat hulle nooit hierdie opwindende tyd in hul lewe sal vergeet nie. Albei Leon en Nadia se asems was weggeslaan toe hulle mekaar vir die eerste keer sien. Van al die plekke waar jy jou trouman kan ontmoet, dink jy wragtig nie dit sal by die tandarts wees nie! Hulle het die mooiste dinge van mekaar te sê en hul albei se oë blink behoorlik van die bondels liefde wat hul vir mekaar gee.
Hul verlowing fotosessie in die katoenvelde het pragtig uitgekom! Hulle het nou unieke foto’s om hul trou uitnodigings mee op te kikker, én hulle het die intimiderende kamera-lens baas geraak. Rol af om meer oor dié liefdevolle paartjie se storie te lees.
Vertel ons van jul ontmoeting en die eienskappe wat julle na mekaar aangetrek het?
Nadia
As ek moet terugdink aan ons eerste ontmoeting slaan my kop toe, want toe ek daardie mooie man in die spreekkamer-deur sien staan het my kop, hart en alles wat moontlik kan stilstaan, gaan stilstaan. Hy was my droomman! Ek kon nie glo dat so mooie man nou in my mond moet grou nie. Nodeloos om te sê, dat ek terselfdertyd nog nooit so bly was vir tandpyn nie. Toe ek hom beter leerken het ek geweet dat hy die man is met wie ek die res van my lewe wil spandeer. En toe, tien maande later vra dié einste droomman my om te trou! Ek sien so uit om met die mees saggeaarde, liefdevolle mansmens te trou!
Leon
Ons eerste ontmoeting was toe Nadia by my was met tandpyn. Ek het gemaak of ek nie al die herstelling op een slag kon doen nie en sy sal weer moet kom. ’n Jaar later was ons toevallig albei by ’n gemeenskaplike vriend se braai. Ons het heelaand met mekaar gekuier en ek het geweet met dié meisie gaan ek trou. Sy het ’n paar dae later vir my kom hallo sê by die werk en toe ek haar ’n soen wou gee toe klap sy my en sê “jou idioot!” Nou klap sy my net as ek haar te min soen! 10 maande later is ek verloof aan die mooiste, mees liefdevolle blou-oog blondekop!
Vertel ons wie het wie gevra om te trou?
Leon het my gevra om te trou. Een laatmiddag na ‘n heerlike vakansie het ons, my ouers en die honde vir oulaas op die strand gaan stap. Min weet ek dat hierdie vakansie baie lekkerder gaan eindig as wat ek myself ooit kon voorstel! Daar sak Leon op sy knie met ‘n knoets in sy hand. Die eerste woorde wat ek kon uitkry was: “Waar kry jy die ring? Het my ouers ooit hiervan geweet?” Nodeloos om te sê het ek oomblikke later ‘n baie besliste ‘ja’ geantwoord.
Vertel ons die inspirasie agter die verlowing fotosessie?
Ons wou graag foto’s in die natuur geneem het. Ons het dit toe in ons talentvolle en uiters bekwame fotograwe se hande gelos, aangesien hulle mooi plekke ken vir foto’s. Annika stuur toe vir my ‘n prentjie van katoenvelde en vra wat ons daarvan dink. Ons was dadelik verlief op die idee van ‘n verlowing fotosessie in die katoenvelde. Ons het daar en dan besluit ons wil geen ander foto’s hê as dit nie. Aldus en Annika het uit hul pad gegaan om vir ons ‘n plek te reël vir ons fotosessie.
Wat het jul laat besluit oor die verlowing fotosessie?
Ons wou die verlowing fotosessie doen om mooi foto’s te hê vir ons uitnodigings en om gemaklik te raak voor die kamera. Nie een van ons voel eintlik vreeslik gemaklik voor ‘n kamera nie; Nog minder as al die aandag op ons is! Die A² Wedding Photography span het ons só gemaklik voor die lens laat voel. Nou het ons ongelooflike mooi, unieke foto’s vir ons uitnodigings énn ons is so titseltjie meer gemaklik voor die kamera.
Vertel ons meer wat het jul ingedagte vir jul droom troue?
Al wat ons wil hê is dat ons gaste dit moet onthou as een baie mooi onthaal, lekker partytjie en lekker kos. Ons wil hê dit moet stylvol en elegant wees. Dit moet ‘n warm, snoesige gevoel skep waar elke gas ‘n lekker herinnering van die aand kan saamvat huis toe. Vir ons is die belangrikste van alles dat dit die mooiste dag in ons twee se lewens wees, met herinneringe wat ons vir die res van ons lewe kan koester.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Aldus Smith