Soms is ʼn wildsplaas troue met familie en vriende al wat nodig is om ʼn hart weer warm te laat klop en mekaar opnuut te waardeer. Dít was Heinrich en Megan se wense vir hul troue – ʼn hele naweek gevul met liefde en samesyn. Dié venue het hul omtrent beïndruk met hul ‘alles-ingesluit opsie” en het die proses geweldig baie vir Heinrich en Megan vergemaklik. Die paartjie kon dus nie afskeep by die venue se prag nie; Heinrich het vreeslik deftig in sy vlootblou pak en hout strikdas gelyk. Sy keuse van styl het perfek by hul troue se algehele tema ingepas. Megan het haar gaste, en veral Heinrich, se asem weg geslaan met haar droom-rok.
Danksy Dust and Dreams Photography kan ons nou Heinrich en Megan se spesiale wildsplaas troudag saam hul herleef en geniet. Rol af vir pragtige plaas trou-inspirasie.
Troudatum en ouderdom van paartjie op die dag
Troudatum: 23 Maart 2019.
Heinrich en Megan was albei 23 jaar oud.
Trourok
Mens hoor altyd mense sê jy sal weet wanneer jy jóú rok aanpas; Ek het na daardie presiese gevoel gesoek. Sewe rokke is uitgekies om aan te pas, maar na die tweede rok het ek klaar geweet. Op my ma en suster se aandrang het ek nog aangepas, maar die heeltyd terug gegaan na die tweede rok. Dit was die perfekte balans van elegant tog aantreklik. Die eenvoud van die romp het beteken dat ek gemaklik kon rond beweeg en dans – dít was vir my baie belangrik is. Die blom detail om die skouers en rug het die eenvoud van die romp perfek afgerond. Toe ek die rok vir die tweede keer aanpas om doodseker te maak, het ek in trane uitgebars en gesê: “Ek is so gelukkig!”
Liefdesreis
Ons het mekaar in 2011 op die eerste dag van Graad 9 ontmoet. Na twee jaar se vriendskap het hy my in die middel van ons graad 11 jaar gevra om sy meisie te wees. Ons is daarna saam Noordwes Universiteit toe en op 10 Augustus 2018, aan die einde van ons finale jaar, het Heinrich my met die hulp van ons koshuis vriende, gevra om te trou. Ons groep vriende het vir die naweek by Kleine Constantia Boutique Guest House in Roodepoort gaan kuier. Min het ek geweet dat die klomp hierdie verlowing al ʼn geruime tyd beplan. Omring deur wat gelyk het soos duisende rooi rose het Heinrich die groot vraag gevra.
Trouringe
Ek het vir Heinrich vir sy 21ste verjaarsdag ‘n hout horlosie gegee. Hy wou graag gehad het sy trouring moet by die horlosie pas aangesien dit sy gunsteling geskenk van my is. Hout verteenwoordig ook krag en groei, nes ons verhouding. My ringe bestaan uit verskeie komponente van die vrouens in my lewe; Onder andere my ma, ouma, tannie, asook my eie seëlring wat ek as tiener by my ouers gekry het.
Fotograaf
Na baie navorsing en oproepe het ons Steph en Elaine van Dust and Dreams Photography ontdek. ‘n Kort rukkie daarna het Dawsons juis dié paartjie as fotograwe aanbeveel. Ons het dit as ‘n teken gesien en dadelik ons finale besluit gemaak. Nie net was hulle pryse ongelooflik goed nie, maar die kwaliteit en gevoel van hulle fotografie het ons asem weg geslaan. Hulle kon ons help om die mooiste areas op die wildsplaas te kies, aangesien hulle al voorheen foto’s daar geneem het. Steph en Elaine het geweet wat ons wil hê en hulle het ons presies gewys wat om te doen. Omdat hulle so eerlik was, het dit gehelp dat ʼn soms baie ongemaklike proses, glad verloop.
Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?
Megan se advies:
Hou die rok soek partytjie so klein as moontlik met net jou heel naaste vriende offamilie. Twee mense se opinies is baie makliker om in ag te neem as vyf mense s’n. Kies mense wat jy weet gaan eerlik wees en tog jou eie opinie sal respekteer.
Moenie bang wees om vir hulp te vra nie. As dit jou kan geld spaar en net so mooi lyk soos ‘n duur produk, hoekom nie?
Heinrich se advies:
My advies sal wees om seker te maak jy en jou strooijonkers genoeg eet deur die dag.
Merkwaardigste Oomblikke
Ons fotograwe het ons gereeld herinner om net ‘n paar oomblikke terug te staan en die dag in te neem. En was daar nou nie vir jou ‘n hele paar merkwaardige oomblikke nie! Een van hulle is definitief toe daar ‘n ligte reëntjie uitgesak het terwyl ons ons beloftes aan mekaar gemaak het, wat vir ons goeie geluk beteken. Kort daarna in die kar op pad om ons foto’s te neem moes ons net eers uitspring om die oomblik met ‘n reënboog vas te vang; ‘n Regte seëning van Bo.
Heinrich sê sy gunsteling deel van die dag was definitief die eerste keer wat hy my in die paadjie sien afloop het. Heinrich was so opgewonde om met my te trou hy het amper flou geval toe ek voor hom staan! Hy sê skaam dit is een dinge wat hy graag sal wil verander, maar dit het definitief die seremonie merkwaardig gemaak en het vir ‘n paar grappies die res van die aand gesorg.
Venue & Dekor
Die venue is ‘n wildsplaas van ‘n familievriend waar ons al baie goeie herinneringe gemaak het in die verlede. Ons idee vir die troue was dat almal ‘n paar dae vroeër opdaag en heel naweek partytjie hou. Die akkommodasie was perfek vir hierdie geleentheid. Met die natuurskoon en smaaklike kos wat saam die venue kom, was daar geen ander opsie nie. Die dekor het baie natuurlike en warm elemente ingesluit wat perfek saamgesmelt het met die oord se atmosfeer en die algehele tema van ons spesiale wildsplaas troudag.
Finansiële Aspekte
Baie mense het vir ons gesê meeste gaste onthou net die volgende: Die kos, die musiek en of hulle hulself geniet het. Hiermee het ons heelwat onnodige uitgawes uitgesny. Die venue het die kos, dekor, asook drie aande se verblyf ingesluit, plus ‘n trou koördineerder waarsonder die troue nie so suksesvol sou wees nie. Ons is gelukkig om baie familie en vriende te hê wat kon uithelp met verskeie elemente van die troue. Ons is ook albei geseënd met ouers wat van begin tot einde ons ondersteun het.
Troukoek
Ons troukoek was eenvoudig met ʼn paar blom-elemente, gepaard met koffie, springmielies, Turkish Delight en koekies. Die idee was dat ons iets soet kon gryp en weer op die dansvloer kon klim terwyl die ander ʼn rustige koffie skink om die aand af te sluit. ‘n Familie vriendin, Vicky Fourie, het vir ons die koek gebak Dieselfde koek is as toetslopie by die kombuistee gebruik en was daar ‘n reuse sukses.
Wittebrood
Na heelwat geheimsinnige geselsies was ons uiteindelik in die lug op pad Kaap toe. Ons het ‘n paar aande in die Protea Hotel in Stellenbosch gebly. Daarna het ons die laaste paar dae by The Sir David Boutique Guest House spandeer. Sommige dae is afgestaan aan wynproe, strande besoek en by deftige restaurante eet en ander dae was daar heeldag ontspan en wegneem etes geniet. ‘n Hoogtepunt was definitief die Hop-On Hop-Off bus toere waar ons saam nuwe dinge kon leer en ervaar.
Eerste Dans
Ons eerste dans was op Dan and Shay se “From the ground up”. Ons dans instrukteur, Rosa, het ons vir ons tydens die eerste les gesê dat sy hierdie danslesse vir enige paartjie wat op trou staan, sal aanbeveel. Jy leer mekaar in ‘n totale vreemde omgewing ken en trap baie op tone! Bygesê, dit was die heel eerste keer wat ons saam gedans het. Baie danslesse en oefeninge is ingesit, maar niks kon ons voorberei op hoe sprokies perfek die eerste dans was nie. Die liedjie is gekies omdat dit perfek aansluit by hoe ons liefde gegroei het deur die jare en vir dit wat nog vir ons voorlê.
- Fotograaf: Dust and Dreams Photography
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Trourok en strooimeisie rokke: Bride & Co
- Venue, spyseniering en akkommodasie: Dawsons Game and Trout Lodge
- Platejoggie/Musiek: Lowveld DJ Services
- Eerste dans: Pulse Dance Studio
- Grimering: Face to the Wind
- Ringe: Violet & Rose
- Bruid, ma van die bruid en hoof strooimeisie naels: Suzanne Fouche
- Troukoek: Vicky Fourie
- Skryfbehoeftes vir troues: 4 Keep Sakes