Wanneer ons na Donovan en Nienke se troufoto’s kyk, kan ons sommer dadelik hul persoonlikhede opsom!
Nienke se elegante rok, hul pienk en wit dekor en die blommerangskikkings was alles fokuspunte op hul groot dag; En natuurlik ook die onmisbare donut-muur! Hul trou-dekor het die idee geskep van ʼn sagte en klassieke paartjie wat lief is vir die mooi dinge in die lewe. Nienke het, soos meeste ander bruide, honderde idees en ideale vir haar troudag gehad. Met die hulp van bekwame dekor verskaffers, het Nienke se idees alles bymekaargekom om ʼn pragtige eenheid te vorm. Let ook op na hul troufoto’s in die stad van rose se strate – dit is beslis iets uniek wat mens nie aldag sien nie!
Indien jy aanklank vind by Nienke en Donovan se persoonlikhede, moet jy beslis meer oor hul sagte en elegante troudag lees.
Julle troudatum en ouderdom van paartjie op troudag?
Ons het op 8 Desember 2018 getrou. Ek (Nienke) was 25 jaar oud en Donovan was 28 jaar oud.
Hoe het julle mekaar ontmoet en wie het wie gevra om te trou?
Ek was Graad 10 en Donovan was in sy eerstejaar op universiteit toe ons mekaar ontmoet het. Ons het deur ʼn gesamentlike vriend ontmoet. Donovan het my gevra om te trou.
Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?
Ek is mal oor kant omdat dit so baie detail aan ʼn rok gee. Ek het dus ʼn lang-mou rok gekies omdat ek graag kant op die moue wou gehad het. Daar was ook pragtige kant met kralewerk op die bostuk.
Dit was ʼn stywe, stylvolle rok en is gekoop by Bridal Emporium in Bloemfontein. Karlien Jonker het my só mooi gehelp om die regte rok te kies.
Vertel ons meer van die ringe
Donovan het my verloofring gekies. Dit is ʼn pragtige ovaal diamant. My Pand, wat ek self gekies het, is witgoud met ovaal diamante.
Donovan se ring is roosgoud en witgoud gemeng. In elke ring is daar ʼn spesiale boodskap.
Vertel ons meer oor die fotograaf en julle videograaf.
Ons kom al ʼn lang pad met Tania Aspeling. Ons wou niemand anders gebruik om ons troufoto’s te neem nie. In ons oë, is Tania maar net die beste! Sy ken ons baie goed en weet wat ons wil hê. Ons videograaf, Jan Jordaan, doen baie goeie werk; Die kwaliteit van sy werk is van die hoogste gehalte.
Wat is julle advies aan ander paartjies wat besig is om hulle troue te beplan?
Dames: Beplan ver genoeg vooruit en moenie wag tot op die laaste nippertjie om dinge af te handel nie. Jy mag dalk teleurgesteld wees as ʼn diensverskaffer nie beskikbaar is op julle troudatum nie. Probeer om nie te veel te stres nie; Vertrou dat alles sal uitwerk soos wat jy dit beplan het.
Mans: Vra jou bruid of jy met enige trou-reëlings kan help; Hulle waardeer dit regtig baie.
Wat was die merkwaardigste oomblik van die dag?
Die merkwaardigste oomblik was verseker toe ons ons troubeloftes aan mekaar gemaak het. Dit was die beste oomblik ooit!
Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir julle dekor
Ek en Donovan hou albei van wit; Dit simboliseer vir ons elegant, stylvol en skoon. Ons het Monte Bello Estate Bloemfontein gekies as ons venue. Dit het al die eienskappe gehad wat ons graag wou hê. Die venue is ʼn spierwit gebou met glas en mooiste kandelare. Grandroom Design het die dekor verskaf. Ulrich Venter het my gehelp; Hy mag maar ʼn plek versier! Ek het só baie idees gehad en hy het alles perfek bymekaar gesit.
Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?
Ons het baie daarop gefokus om sekere goed self te doen om sodoende geld te bespaar. Ons het 140 gaste onthaal.
Vertel ons meer oor die inspirasie vir julle troukoek
Die idee vir ons troukoek was dat dit baie eenvoudig, tog elegant moet wees. Ons wou nie te veel detail hê nie, so ons het ʼn 3 lae wit koek gekies. Dit was versier met effens goud en ʼn paar pienk rose.
Vertel ons meer oor jul eerste dans.
Perfect Van Ed Sheeran was ons eerste dans liedjie. Dit was baie spesiaal vir ons omdat ons, net soos in die woorde in die liedjie, ook ontmoet het toe ons nog kinders was. Ons moes vir dansklasse gaan en Denise Retsinas was ons dans instrukteur.
Vertel ons meer van julle Wittebrood?
Dit was ʼn groot verassing! Ek het eers uitgevind dat ons Mauritius toe gaan op die dag wat ons soontoe gevlieg het. Dit was die beste vakansie ooit!
- Grimering: MUD Studios
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Hare: Lizelle Botha
- Rok: Bridal Emporium Bloemfontein
- Ringe: Browns Jewellery
- Pak: Bentleys
- Bruidegom hare: The Chop Shop
- Fotograaf: Tania Aspeling Allen Photography
- Videograaf: Jan Jordaan
- Musiek: Margaret Whitfield
- Dekor: Grand Room Design
- Venue: Monte Bello Estate