Om ʼn troue se begroting op te stel kan omtrent ʼn kop-krapper raak! Daarom verskaf Mooi Troues trou begroting advies aan ons lesers. Paartjies is in die sewende hemel na hul verlowing, maar hul opgewondenheid vlak daal dikwels tot in die minusse wanneer die groot trou begroting gesprek eers na vore kom. Dit is egter onvermydelik en een van dié belangrikste besprekingspunte. Die begroting van jou troue behoort egter nie jou opgewondenheid te demp nie! ʼn Bruid se bekommernis moet wees of sy roospienk, babapienk of vuilpienk servette wil hê; Nie oor of haar begroting dit sal toelaat nie!
Kyk na die wenke hieronder om die opstel van ʼn trou begroting so stresvry as moontlik te maak.
Elemente van Troue
- Seremonie Area & Venue
- Dominee se fooi & huwelikskontrak
- Fotografie & Videografie
- Blomme (seremonie area, onthaal, ruikers vir bruid en strooimeisies)
- Meubels wat gehuur moet word
- Eetgerei, breekware en ander meubels wat nie by venue ingesluit is nie
- Trou-skryfbehoeftes
- Spyseniering & Drank
- Vermaak (bv. platejoggie)
- Klank & Ligte
- Bruid en Bruidegom se rok, pak, skoene ens.
- Ringe
- Wittebrood
Die volgende elemente word dikwels nie in begroting geplaas nie, maar moet in ag geneem word:
- Geskenkies vir strooimeisies & strooijonkers
- Middagete die dag van die troue vir bruid en bruidegom se gevolg
- Sit ook ʼn bedrag uit vir enige onvoorsiene omstandighede of ekstra dinge wat voor troue gekoop moet word. (Diverse Uitgawes)
Die eerste gesprek:
Eerstens moet daar vasgestel word wat die begroting is. Elke party, insluitend die verloofdes en hul ouers (indien moontlik), moet stel wat hul bereid is om by te dra vir die groot dag. Ons lewe in ʼn nuwe tyd en era waar daar nie meer reëls is oor wie vir wat moet betaal nie. As dit die bruidegom se pa se hartsbegeerte is om die troukoek te betaal, is dit sy volste reg!
Indien jy nie seker is hoe om die ‘B’ woord met jou ouers of aanstaande skoonouers te bespreek nie, doen navorsing oor onlangse troues se begrotings en gee dit so aan jul ouers deur. Hul sal dus ʼn idee kry waarvoor hulle hulself inlaat! Dit is uiters belangrik dat al die partye oop kaarte speel in terme van wat hul geldelike bydrae sal wees.
Opstel van begroting:
Daar moet dan ʼn volledige begroting opgestel word. Al die bogenoemde elemente moet in ag geneem word wanneer die paartjie hul begroting opstel. Sommige van hierdie elemente sal by die venue se huur ingesluit word, maar sit dit nogsteeds in die begroting om 100% seker te wees. Julle moet dan saam as paartjie die elemente in rangorde sit. Julle moet ooreenkom waarop julle bereid is om die meeste geld te spandeer, en op watter elemente julle eerder wil spaar.
Wenke om fondse te bespaar:
- Doen deeglike navorsing voordat julle op diensverskaffers besluit. Die duurste diensverskaffers is nié noodwendig die beste nie en die goedkoop opsie kan jou dikwels die duurste les leer!
- Oorweeg selfdoen dekor en doen navorsing oor hoe om dit steeds elegant te laat lyk. Dit beteken egter nie ál die dekor moet in jou motorhuis of agterplaas gemaak word nie; Maar daar is beslis sekere dekor aspekte waarop jy nie geld hoef te spandeer nie.
- Voordat jy die venue boek, maak 100% seker wat alles in die venue fooi ingesluit is. Dinge soos eetgerei, breekware, stoele en tafels is uiters noodsaaklik en kan jou begroting geweldig opstoot indien dit nie in die venue fooi ingesluit is nie.
- In plaas van om al die drank verniet te maak, verminder slegs die prys van die alkohol vir jou gaste en betaal die uitstaande bedrag. Só sal jou gaste steeds hulself kan geniet sonder om jou brood en botter onder jou neus uit te steel!
- Gebruik al jou kontakte en kennisse vir raad, hulp en advies. Die ergste wat kan gebeur is hulle sal jou boodskap ignoreer of nee sê. Dit kan egter glad nie vergelyk word met die vreugde wat julle sal kry indien julle ʼn paar duisend ekstra het om by die wittebrood te spandeer nie!
- Hou eerder die troue minimalisties voordat jy meegevoer raak met die nuutste modes en tendense. Jy wil nie hê jou troue moet in ʼn sirkus ontaard met hordes elemente wat nie bymekaar pas nie. Besluit wat is vir julle as paartjie die mooiste en belangrikste, en fokus daarop.
Die heel belangrikste
Moenie jou troue met ander vergelyk nie! Julle troudag moet jou en jou aanstaande se persoonlikhede weerspieël; Nie gesigte wat julle in tydskrifte en op pinterest borde gesien het nie! Kies elemente wat jy wéét jou hart sal warm maak en jou glimlag sal groter maak op die groot dag.
Artikel Krediet
- Geskryf deur Mooi Troues
- Foto’s verkry van Pexels en is slegs vir illustrasie doeleindes