Die pligte van ‘n Seremoniemeester

Master of ceremony

Die beplanning van ‘n troue is een van die lekkerste, tog mees stresvolle tydperke in jou lewe.  Daar is verskeie belangrike besluite wat geneem moet word; Sommige dinge is vanselfsprekend en jy dink dadelik daaraan as jy met die beplanning begin, bv. venue, dekor, bruid se rok ens.  ‘n Uiters belangrike besluit wat bruidspare dikwels nie genoeg deurdink nie, is die keuse van ‘n seremoniemeester.

Jy kan dié beste tydlyn vir jou troudag hê, maar wat die eintlike sukses gaan bepaal, is hoe goed jou seremoniemeester alles bymekaar kan bring. Die gaste moet te alle tye bewus wees van die orde van sake en wat wanneer gebeur.  Jy wil nie hê jou hoofstrooimeisie moet mis hoe jy die ruiker gooi, omdat sy nie die afkondiging gehoor het nie!

Strawberry Weddings & Events

Doel van ‘n Seremoniemeester


‘n Seremoniemeester moet die atmosfeer skep hoe die bruidspaar dit wil hê.  Hy moet ‘n paar grappies kan vertel waar nodig en gaste op hulle gemak laat voel.  Maar, jy soek ook nie iemand wat 10 minute grappies vertel, maar dan weet jou gaste steeds nie die belangrike inligting van die aand nie.  Hy moet dus die die perfekte balans tussen grapperig en ernstig kan handhaaf.

Die seremoniemeester dien as die middelman tussen die koördineerder, diensverskaffers, die bruid en bruidegom asook hul gevolg. Hy moet te alle tye beskikbaar wees om belangrike afkondiginge te maak, asook in staat wees om krisis beheer te doen indien iets verkeerd loop.  Hoe graag soos wat bruide in beheer wil wees van hul groot dag, is dit onmoontlik!  Daar gaan altyd onvoorsiene gebeure plaasvind.  Daar gaan ‘n gas of twee wees wat te veel gehad het om te drink, of ‘n ongenooide gas wat nie laat weet het hy gaan die troue bywoon nie.  Die seremoniemeester moet tesame met die koördineerder hierdie klein dinge uitsorteer, sodat dat dit nie kopseer vir die bruid raak nie.

Strawberry Weddings & Events

Pligte van ‘n Seremoniemeester


Die pligte van jou seremoniemeester sal afhang van of jy ‘n troubeplanner of ‘n koördineerder by jou troudag het.  Hier volg die belangrikste pligte van ‘n seremoniemeester:

  • Verwelkom gaste by die seremonie.
  • Maak seker al die gaste is binne die venue wanneer die bruidspaar op pad is.
  • Stel die bruidspaar bekend wanneer hulle venue binnekom.
  • Stel gaste in kennis van die verloop van die aand.
  • Verduidelik waar die badkamers, kroeg, foto-hoekie en geskenk tafel is.
  • Die seremoniemeester moet jou troue se tydlyn goed ken, sodat hy die regte mense na vore kan roep wanneer dit tyd is vir toesprake, tafelgebed, bedien van kos ens.
  • Maak seker dat alle gaste sjampanje het wanneer daar ‘n heildronk ingestel word.
  • Die seremoniemeester moet aankondig wanneer die eerste dans plaasvind, koek gesny word, ruiker en kousband gegooi word ens.
  • Stel gaste in kennis wanneer bruidspaar die onthaal gaan verlaat.

Strawberry Weddings & Events

Wenke vir ‘n Seremoniemeester


Sommige mense word ‘n seremoniemeester gebore!  Hulle weet net wat om wanneer te sê en hoe om gaste te laat lag.  Almal word egter nie ‘n Schalk Bezuidenhout gebore nie!  Vir ander mense is dit ‘n eens-in-‘n-leeftyd gedoente.  Hier volg ‘n paar wenke vir dié wat nie elke tweede naweek die mikrofoon vashou nie:

  • Kontak die bruidspaar om die troudag se tydlyn te ontvang.  Vind uit wie die heildronke instel en wie die tafelgebed moet doen.
  • Kontak hierdie persone en herinner hulle aan hul pligte.  Maak elkeen ook vriendelik bewus dat die toespraak nie langer as 5 minute mag wees nie.
  • Kontak die koördineerder/ spyseniers om seker te maak wanneer die voorgereg, hoofgereg en nagereg bedien sal word.
  • Gaan gesels met die kroegman sodat jy weet wanneer die kroeg oopmaak en toemaak en die tye so aan die gaste kan deurgee.
  • Help met alle reëlings en doen krisis beheer indien daar iets fout gaan.
  • Maak seker dat jy ‘n grappie of twee byderhand het, of net ietsie wat gaste op hul gemak sal laat voel.  Dit is egter nié die belangrikste deel van jou pligte nie.  Indien jy nie ‘n grapjas is nie, vra gerus iemand anders om ‘n snaakse storie of grappie te vertel.
  • Hou te alle tye ingedagte dat verskillende mense van verskillende ouderdomme die troue sal bywoon.  Maak dus seker jy gebruik nie onvanpaste taal of vertel onsmaaklike grappies nie.

Strawberry Weddings & Events

Karaktereienskappe van ‘n Seremoniemeester


Indien jy iemand ingedagte het om aan te stel as jou seremoniemeester, kyk of hulle voldoen aan hierdie vereistes:

  • ‘n Ekstrovert wat gemaklik is om voor ‘n groot groep mense te praat.
  • ‘n Persoon wat takt het en weet wat om wanneer te sê.
  • Iemand wat beheer kan neem van ‘n situasie en onder stresvolle omstandighede kan werk.
  • Iemand wat weet hoe om te delegeer.
  • ‘n Vinnige dinker en probleem-oplosser indien ‘n krisis sou opduik.
  • ‘n Matige drinker wat in beheer sal wees van die aand tot aan die einde.

Bruide en bruidegomme, moenie skaam wees om subtiel, tog ferm vir jou seremoniemeester te sê wat van hom verwag word nie.  Maak vir hom ‘n kort lysie en stuur dit ‘n paar weke voor julle groot dag deur.  Daar word gereeld gesê om ‘n seremoniemeester te wees is soos om vir die Koningin van Engeland te soen – dit is ‘n groot eer maar niemand wil dit eintlik doen nie!  Die doel van hierdie grappie is maar net om die boodskap oor te dra dat die pligte van ‘n seremoniemeester stresvol kan wees.   Hulle sal dus die raad en leiding waardeer.  Só kan jy ook seker wees dat die regte dinge gesê word en die regte atmosfeer geskep word.

Strawberry Weddings & Events

Artikel krediet