Wihan en Gizela is die toonbeeld van ʼn klassieke en gesofistikeerde paartjie; En hul klassieke troudag was niks minder nie! Al die elemente van Wihan en Gisela se troudag het só mooi by die paartjie se styl ingepas. Hulle troudag weerspieël ʼn tradisionele, Suid-Afrikaanse troue met moderne elemente wat hul laat uitstaan bo die res.
Rol af vir klassieke en moderne trou inspirasie.
Julle troudatum en ouderdom van paartjie op troudag?
Ons het op 2 Februarie 2019 getrou. Ek (Gisela) was 29 jaar oud en Wihan was 32 jaar oud.
Hoe het julle mekaar ontmoet en wie het wie gevra om te trou?
Soos die meeste jong mense van vandag dit doen – op die internet! Na twee dae se gesels het ons besluit om mekaar te ontmoet. My man, wat op daardie stadium geen idee gehad watter persoon hy op die internet ontmoet nie, het met al sy vriende afgespreek om hom te vergesel. Ons eerste ontmoeting was drie jaar gelede – ons het van toe af nog nie ʼn enkele dag sonder mekaar spandeer nie.
Wihan het my gevra om te trou met ‘n verrassingspiekniek in die bosveld.
Vertel ons meer van jul ringe.
Wihan het inspirasie uit verskeie idees wat ek vir hom gegee het, gekry. Hy het met ‘n ontwerper gaan gesels en die perfekte ring vir my ontwerp. Hy het ‘n klassieke, effens rustieke styl, met die fokus op die hoof diamant en fyn afwerkings langs die kant gekies. Die ring is só ontwerp dat dit van die kant af soos ‘n protea vertoon. My bypassende troupant het fyn diamantjies en dieselfde detail langs die kant as die verloofring.
Ek het vir Wihan ‘n ring van wolfram gekry en ons troudatum laat ingraveer. Ons het besluit op wolfram omdat hy baie met sy hande werk en hierdie spesifieke metaal baie moeilik krap.
Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?
Ek het al vier jaar voor my troue geweet ek wil eendag ‘n trourok van Vonvé Bridal Couture hê. Per geluk is dit presies waar ek my droomrok gekry het! My rok was nie alledaags nie – ek wou graag iets buitengewoon gehad het. Die snit op my rug was in die vorm van ʼn vlinder. Die rok het ook ‘n sekere “je ne sais quoi” vertoon wat my halsoorkop verlief daarop gemaak het! My rok was stylvol en het perfek by my figuur en persoonlikheid gepas.
Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?
Die merkwaardigste oomblik was ongetwyfeld toe ons ons ringe aan mekaar gee. Alles het in daardie oomblik so perfek gevoel. As ons nou terugdink aan daardie oomblik, raak ons steeds emosioneel.
Indien ons iets kon verander, sou ons ‘n week voor die troue met die verskaffer van die blomme gesels om te hoor of hulle al die blomme kon kry waarvoor ons gevra het. Alhoewel dit pragtig was en ons baie komplimente gekry het, het die blomme nie presies uitgekom soos ons dit wou gehad het nie.
Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.
Ons fotograwe, Carolien en Ben, was die fotograwe by een van ons vriende se troues ongeveer 2 jaar terug. Ons het hulle daar ontmoet en baie van hulle gehou. Na ons verloof geraak het, het ons trou programme soos “Kom ons trou nou” begin kyk. Dis toe waar ons weer vir Carolien en Ben gesien het. Ons het na hul webtuiste gaan kyk en was dadelik mal oor hulle foto’s! Ek was ook mal oor die kort storie oor hulleself asook hul persoonlikhede. Ons het onmiddellik ʼn besluit geneem en nie verder na fotograwe gesoek nie. Hulle het ons klassieke troudag só mooi vasgevang.
Ek het 4 jaar terug verlief geraak op White Motion Films se hoendervleis trou video’s. Hul video’s is ongelooflik mooi en ek het geweet dat ek White Motion eendag as ons videograaf móét hê!
Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?
Die venue se pragtige tuine en buite trou areas het ons die finale besluit laat neem. Ons het ook ‘n venue gesoek wat spesifieke kos bedien aangesien ons glad nie ‘n buffet ete wou gehad het nie. Ons het ongelooflik baie komplimente oor die kos gekry.
Toe ons op die tema besluit, het ons ʼn klassieke troudag ingedagte gehad. Die natuur met sy natuurlike skoonheid moes die fokuspunt wees. Ons het begin met ‘n sagte natuurlike kleurskema van wit, vuil pienk, donkergroen en liggrys. Ons het besluit om regte plante vir die sitplek allokasies uit te stal. Die tafel name was na die verskillende plante vernoem. Ons het gedroogde laventel was vir confetti gebruik en vollengte blomme wat oor die wydte van die tafels strek. Die kleurskema was stylvol en klassiek met ʼn baie sagte voorkoms.
Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?
Ons begroting was ongeveer R300 000. Dit was belangrik vir ons om realisties te wees met wat ons kan bekostig, en wat nie. Ons het bespreek wat vir ons albei hoogs belangrik was en het rondom dit probeer werk. Daar was wel ʼn paar moeilike besluite – ons moes die luukshede uitsny en sekere take self behartig.
Ons het 90 gaste onthaal.
Vertel ons meer van jul Wittebrood.
Dit was omtrent ‘n storie om te besluit waarnatoe ons wil gaan! Ons wou graag ʼn eiland met pragtige strande besoek, maar ons wou ook ʼn plek kies waar ons ‘n ander kultuur kon beleef en op uitstappies gaan. Nie een van ons mal is daaroor om vir te lank stil te sit nie.
Ons het die Maldives, Zanzibar, Rio de Janeiro en Cancun oorweeg. Op die ou einde, het ons besluit op Palawan – 1 van ongeveer 7 000 eilande in die Filippyne. Dit is ‘n beeldskone eiland met soveel diversiteit, kultuur en vriendelike en eerlike mense. Die strande is ongelooflik mooi en het ons asems weggeslaan! Ons het ‘n wonderlike wittebrood gehad en soveel ervarings beleef! Ons gunsteling avontuur was om ‘n rivier-toer in die nag te doen en duisende vuurvliegies te aanskou.
Vertel ons meer oor jul eerste dans
Ons moes vir danslesse vir ongeveer 3 maande gaan. Ons wou graag ‘n unieke dans gehad het wat inpas by ons klassieke troudag. Lea Michele se “Run to you” was ons liedjie keuse.
Wihan was baie gespanne oor die dans, so ek moes ʼn plan maak om sy stres vlakke te verminder! Ek het ‘n week voor die troue voorgestel dat ons “sparklers” vir die gaste gee om te brand tydens ons eerste dans. Dit het soos ‘n bom gewerk! Ons het egter gesukkel om die trou dans perfek te doen met my lang slee – so dit was goed dat die gaste se aandag meer op die vonkstokke gevestig was!
Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?
Advies vir die dames: Hou die tyd dop op julle troudag; Die tyd gaan baie vinnig verby! Daar gaan onvoorsiene probleme opduik en dit moet uitgesorteer word. Neem ook ‘n oomblik alleen saam met jou man om die atmosfeer in te neem en die kosbaarheid van die oomblik te waardeer.
Advies vir die manne: Wees gemaklik daarmee om nee te sê vir sekere voorstelle wat buite julle begroting val.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Blomme + dekor: Event Inspirations
- Fotograaf: Carolien and Ben Photography
- Videograaf: White Motion Films
- Platejoggie: Discotech
- Trourok: Vonve Bridal Couture
- Makrolletjies: Nicole’s Macaroons
- Troukoek: Sweetly Detailed
- Hare + grimering: Melissa Minne Bridal
- Trouvenue: Memoire wedding and Function Venue
- Skryfbehoeftes: My Big Event
- Fotohoekie: Hello Photobooth
- Vermaak: Deca
- Karikatuur kunstenaar: Cartoon Crumbs
- Danslesse: Luv2Danz