Van al die plekke waar jy ‘n verlowing fotosessie kan doen, is Menlyn Maine seker die laaste plek waaraan jy sal dink! Eddie en Bianca het met die hulp van hul fotograaf hul liefde vir mekaar tussen Menlyn Maine se winkels vasgevang.
Tussen die geskarrel van Pretorianers wat inkopies doen het Eddie en Bianca iets gekry wat veel meer werd is as enigiets wat by Menlyn Maine se inkopie sentrum gekoop kan word – die geskenk van liefde. Hierdie paartjie het besluit om ‘n verlowing fotosessie by die plek te doen waar hulle vir die eerste keer in mekaar se oë gekyk het terwyl hulle met dankbaarheid besef dat die Hemelse Vader hulle vir mekaar gestuur het.
Rol af en geniet die opregte liefdesverhaal van Eddie en Bianca.
Vertel ons van jul ontmoeting en die eienskappe wat julle na mekaar aangetrek het?
My oggend het met ‘n Parkrun afgeskop. Die res van die dag het ek (Bianca) in my oudste klere en ’n deurmekaar bolla op die bank deurgebring. My beste vriendin het my genooi na ‘n braai by haar vriend se huis. Ek het maar ingestem om te gaan al was ek nie baie lus nie – bolla en al. Eddie het sy oggend saam met vriende by die dam deurgebring. Boot, ski’s, musiek – kuier op sy beste! Hy het egter sy woonstelmaat belowe hy al saam braai en het ook met min entoesiasme by die braai opgedaag.
Eddie sê: “Die atmosfeer het dadelik verander toe Bianca daardie dag die tuin hekkie oopswaai. Sy het ‘n tydlose skoonheid. Sy kan die hele aardbol ophelder met haar lag en sin vir humor.” Die grootste aantrekkingskrag was verseker die Heilige Gees en ons opregtheid oor wie ons is.
Eddie is vir my die definisie van ‘n ware man, met ‘n knippie romanse en baie spiere.
Vertel ons wie het wie gevra om te trou?
Eddie het my een Vrydagoggend by my werk kom haal. Hy het skelm met my baas gereël en ons is dadelik lughawe toe vir ’n naweek na die asemrowende Kaap. Hy het my Citrusdal toe geneem en my verras met ‘n piekniek onder die bome. Ek het in Citrusdal grootgeword so dit was vir my baie spesiaal om terug op die plaas te wees. Net daar, langs die rivier, omring met die pragtige Kaapse berge het hy my gevra om te trou.
Vertel ons die inspirasie agter die verlowing fotosessie?
Ons heel eerste koffie-afspraak en foto as ‘n amptelike paartjie het by Menlyn Maine se Starbucks plaasgevind. Ons wou graag iets anders vir ons verlowingsessie doen wat nie ‘n blommerok en ‘n veld insluit nie. Dus het ek omtrent rondgedans van opgewondenheid toe Alexis voorstel dat ons verlowing fotosessie by Menlyn Maine moet wees.
Wat het jul laat besluit oor die verlowing fotosessie?
Die verlowingsessie was vir ons ‘n unieke en intieme feesviering om verloof-wees vas te vang! Dit is vir ons ‘n ongelooflike kosbare voorreg om die geskenk van liefde van die Here te ontvang. Dis wonderlik om daaraan herinner te word deur die na die foto’s te loer.
Vertel ons meer wat het jul ingedagte vir jul droom troue?
Ons droomtroue sluit definitief die natuur in. Daar moet baie groenigheid, pêrel-witte, mense wat ons liefhet, sjampanje, koek en natuurlik foto’s wees!
Diensverskaffers
- Fotograaf: Alexis Muntz Photography