André en Jasmine het op 18 Desember 2018 die mees stylvolle troudag in die Wes-Kaap gebring. Elke simplistiese element het bymekaargekom en ‘n merkwaardige eindresultaat gelewer. Dit is nie aldag wat mens sien dat ‘n paartjie só goed kan saamwerk om hul troudag vir hul albei spesiaal te maak nie. André en Jasmine het deur die verlowing periode mekaar ondersteun, mekaar se raad gevra, na die ander een se opinie geluister en seker gemaak die hele proses is ‘n avontuur! Hulle het die ware betekenis van die dag vasgevang terwyl hulle noukeurig aandag aan elke fynere detail gegee het.
Rol af en geniet die stylvolle trou-inspirasie.
Julle troudatum en Ouderdom van paartjie op troudag?
Ons het op die 18de Desember 2018 getrou. Jasmine was 24 en ek (André) was 25 jaar oud.
Hoe het julle mekaar ontmoet en wie het wie gevra om te trou?
Ons het mekaar in 2014 ontmoet as studente aan die Universiteit van Stellenbosch. Ons het ons eerste paar woorde op ‘n kamp in Kleinmond gewissel – toevallig op Valentynsdag! Vier jaar later het ek by Babylonstoren, omring deur vetplante, vir Jasmine gevra om te trou. Ons goeie vriendin, Claire, het in die bosse weggekruip om skelmpies fotos te neem terwyl ek die boksie uit my sak haal. My lewenslang vriend, Arné, asook my aanstaande broer en suster het om die draai weggekruip met sjampanje. Wat ‘n fees!
Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?
Jasmine was effens bekommerd of sy ‘n rok sal kry waarvan sy regtig hou, wat by haar styl sal pas én wat beskikbaar in die omgewing sal wees. Sy het saam met haar ma en suster vier boutiques gaan besoek. Tog was Jasmine se hart konstant teruggeroep na Cindy Bam se ontwerp toe. Die rok was eenvoudig en stylvol met pragtige detail in die bolyf.
Vertel ons meer van jul ringe.
Jasmine se ring is deur Therese De Villiers in Stellenbosch ontwerp en gemaak. Ek het geweet sy is mal oor hierdie spesifieke ontwerp en het dit so aan Therese deurgegee. Jasmine se eerste verjaarsdag geskenk was ook deur Therese gemaak; So dit was heel natuurlik om haar betrokke te maak by die gróót een. My ring was deur Bronski Jewelers in Somerset Wes gemaak. Ons troudatum is in die ring gegraveer.
Vertel ons meer oor die fotograaf en videograaf.
Ons fotograaf was die ongelooflike talentvolle Tasha Seccombe. Jasmine se ma was haar twee dogtertjies se Graad 2 onderwyseres. Ons het dus klaar ‘n goeie grondslag met haar gehad. Tasha het die hele proses so maklik gemaak. Vanaf die verlowings foto’s tot by die laaste dans was ons só tevrede met haar werk. Ons kan nou nog nie glo hoe ongelooflik sy ons stylvolle troudag vasgevang het nie!
Ons het nie van ‘n videograaf gebruik gemaak nie.
Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?
Ons het by ons begroting gebly deur die belangrike goed te identifiseer en dit as prioriteit te hou. Ons was nie bang om self in te spring en dinge te doen in plaas van diensverskaffers te gebruik nie. Jasmine is ‘n grafiese ontwerper en het al ons skryfbehoeftes ontwerp. Sy het ook haar eie grimering gedoen. Ons het so ver moontlik plaaslike verskaffers gebruik en baie navorsing gedoen oor wat billik is om te kon sien waar mense jou probeer uitbyt. Ons het 76 gaste by ons troue gehad. Dit was die ideale getal omdat ons die troue saam elke mens kon vier sonder om onsself in vyf te moet skeur!
Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?
Ek sal nooit die oomblik vergeet toe my bruid by die kerk instap nie. Dit was die mooiste prentjie en ek kon dit boonop met al ons hartsmense saam ons in die kerk deel. Jasmine sin was ‘n soortgelyke oomblik toe ons by die onthaal instap en aangekondig word as Mnr. en Mev. Jordaan.
Die enigste ding wat ons sou verander is om meer van die troukoek vir onsself weg te steek!
Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?
‘n Volle jaar voordat ons verloof geraak het, het Jasmine nuuskierig geraak en na venues begin kyk. Ons het afgekom op The Venue @ Pearl Mountain. Ons was mal oor die industriële, tog elegante en stylvolle elemente. Die hout en sement was vir ons ‘n moet! En hoe kon mens nou verkeerd gaan met die ongelooflike ligging so hoog teen die Paarl berg? Lorretta, die venue bestuurder, het elke oomblik vir ons ‘n plesier gemaak. Haar professionalisme was merkwaardig!
Ons dekor ontwerp het ontstaan uit die idee van lig, met kerse en edison gloeilampe as fokuspunte. Ons het kleurvolle blomme vermy en eerder groen ingebring om die stylvolle konsep te komplimenteer. Die groen eucalyptus cinera het beslis ook die industriële gevoel aangevul.
Vertel ons meer oor jul eerste dans
Die liedjie vir ons eerste dans was James Blunt se Bonfire Heart. Hierdie liedjie dra ‘n boodskap wat al van vroeg in ons verhouding ‘n spesiale plek in ons harte het en wat ons altyd sal koester. Ons het ‘n paar keer tuis geoefen, maar ons het nie lesse of ‘n roetine gehad nie. Ons is beide musikante so die ritme sou ons kon hou, dit was meer sodat ek nie my arme vrou se tone aftrap nie! Die dans was vir ons ‘n baie rustige ervaring. Ons kon mekaar naby hou en inneem dat ons sopas met mekaar getrou het. Daar is nie baie sulke ‘stil’ oomblikke op die dag nie.
Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?
Andre: As bruidegom sal ek aanbeveel dat julle saam as paartjie die tyd aanpak. Die verlowing tydperk is ongelooflik spesiaal so maak al die vergaderings en rond-ry ‘n avontuur. Doen jou huiswerk en los so min as moontlik vir die laaste twee weke. Dis nie nodig om jou hooivurk op die laaste nippertjie te oorlaai nie.
Jasmine: My raad is dat julle as paartjie moet probeer om alles saam te doen. Ondersteun mekaar en fokus op die belangrike dinge. Indien julle dit doen, sal die klein goedjies nooit wrywing veroorsaak nie. Indien moontlik, probeer om jou groepie strooimeisies klein te hou. En laastens, wees wie jy wil wees op die dag, nie wat ander mense van jou verwag nie.
Vertel ons meer van jul Wittebrood.
Na die troue het ons twee dae in die Paarl deurgebring by dieselfde gastehuis waar ons reggemaak het vir die dag. Ons wou graag bietjie ontspan en die Boland te geniet. Daarna het ons vir ‘n week die koue Rome in Italië gaan verken. Vir dié twee pizza liefhebbers was dit hemels! As verrassing vir Jasmine het ons in Zurich gedraai en vir familie gaan kuier wie dit ongelukkig nie na die troue kon maak nie. Altesaam was ons vir twee weke weg. Daarna het ons begin nes skrop!
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Venue: The Venue @ Pearl Mountain, Paarl
- Gastehuis: Afrika Pearl, Paarl
- Hare: Bianca van Erinvale Spa
- Platejoggie: Your DJ
- Pak: Country Road
- Rok: Cindy Bam Couture
- Fotograaf: Tasha Seccombe
- Bruid se ring: Therese De Villiers
- Bruidegom se ring: Bronski Jewellers
- Strooimeisie rokke: Ontwerp deur Bruid se Ma, gemaak deur Debbie von Wielligh
- Dekor: Flowers by B
- Koek: Shake and Bake
- Trou koördineerder: LA Organized