Rouxdolf en Louise-Marie se selfdoentroue is propvol inspirasie vir paartjies wat graag baie goed met ʼn trou begroting wil werk. Louise-Marie deel ook ʼn paar wenke waar hul fondse gespaar het. Hulle spog dat hul R10 000 onder hul aanvanklike begroting was. Dit is baie goeie nuus en meer fondse om te spandeer op ʼn wittebrood of selfs iets vir hul huis … Ons weet ons lesers sal baie goedkoop trou idees in die inskrywing kry.
Rol af en kry inspirasie hoe om ʼn sakpas troue soos ʼn spog troue te laat lyk.
Julle troudatum en Ouderdom van paartjie op troudag?
8 Desember 2018, Louise-Marie 32 en Rouxdolf 30
Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?
Die rok was heeltemal anders, met tossels. Dit het net gevoel of die rok vir my gemaak is. My vriendin het ʼn bruidsboetiek en sy het gesê ek moet sommer rokke kom pas vir die lekker. Na baie aanpassings het sy die laaste rok uitgebring, en toe ek dit sien, toe weet ek dis die een. Dit het ʼn romantiese effek met kant en die tossels was net heeltemal iets anders, soos ek nog nooit van te vore gesien het nie.
Vertel ons meer van jul ringe
Rouxdolf het ʼn unieke ontwerp laat optrek by ʼn privaat handelaar – dit is roosgoud met ʼn baie romantiese effek en ʼn unieke heirloom ontwerp. Dit het ʼn hele paar diamante in en die diamante is met baie noukeurigheid uitgekies deur my man.
Sy ring is ook roosgoud met ʼn houtlagie in. Dit is ʼn tungstang ring.
Vertel ons meer oor die fotograaf en videograaf
Ons het ʼn wonderlike ervaring met ons fotograaf gehad – van die begin af het ons gekliek en ons was opgewonde oor haar werk. Sy is baie professioneel en het geluister na ons behoeftes. Die eind resultaat van haar werk was meer as waarvoor ons gehoop het.
Ons videograaf is ʼn werk-kollega wat vir ons as geskenk ʼn video opname gedoen het. Ons was baie bevoorreg om hierdie geskenk te ontvang en nou te kan terugkyk op ons dag.
Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?
Die seremonie was ons spesiaalste oomblik – ʼn goeie vriend het ons getrou en het al ons gaste so betrokke gemaak in die oomblik, om self ook oor hul eie huwelike te dink en saam met ons as getuies te staan oor ons groot gelofte voor God.
As ons kon verander sou ons graag tyd wou stop en die horlosie laat stil staan.
Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?
Dames: Los die klein dingetjies wat jy weet net meer druk op jou gaan plaas. Hoe minder dingetjies, hoe minder het jy wat kan skeefloop. Maak seker die groot en belangrike dinge is in plek. Ek persoonlik het baie dinge uitgelos soos ringboksies, ruikertjies, geskenkies, geen ruiker is gegooi nie, geen koek is gesny nie en al die bedankings is op ʼn blaadjie gedoen.
Manne: Moenie vaskyk in tradisie nie, dit beperk die dag (bv bruidegom se toespraak, kan gedoen word sonder die manne se steurings en kousband is nie altyd nodig om te gooi nie).
Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?
Ons het op Facebook gesien dat Rosemary Hill in die proses was om ʼn nuwe venue oop te maak. Ons het eendag daar gestop, net om te kyk hoe dit lyk, dit was nog voor ons verloof was. Net daar het ons besef, sou ons verloof raak, sal hierdie die plek wees waar ons trou beloof.
Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?
Ons ʼn behoefte gehad om uit beginsel uit ons uitgawes te beperk. Alhoewel ons ʼn eksklusiewe troue gehad het wat pragtig was, kan ons met trots sê ons het met R10 000 onder begroting uitgekom. Ons het baie klein dingetjies gesny wat ons gevoel het onnodig was soos byvoorbeeld troukoek, geen bruidsmeisie rokke en redelike minimalisties op die dekor.
Hoeveel gaste het julle onthaal?
Ons gastelys was 65 mense omdat ons behoefte slegs vir naaste vriende was, amper geen familie.
Vertel ons meer oor jul eerste dans
Daar was geen druk op onsself gesit om ʼn perfekte dans uit te voer nie. Ons het ʼn baie oulike en energieke liedjie gekies eerder as ʼn ernstige intieme liedjie. Die idee was in elk geval net om mekaar te geniet terwyl ons dans op Oh Honey se I love You Will still Sound the Same.
Vertel ons meer van jul Wittebrood
Ons was bevoorreg om in Mauritius te wees op wittebrood. Dit was inderdaad ʼn idilliese vakansie so op ʼn eiland. Ons het vooraf besluit om nie te veel aktiwiteite aan te pak nie maar eerder om die oord te geniet en lekker uit te rus na ʼn lang jaar.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Alexis Muntz
- Grimering en Hare: Beauty by Bianca
- Venue & Spyseniering: The Greenhouse Café
- Rok: Veil Bridal Couture
- Dekor: Self
- Platejoggie: Sonic State Productions