Rinus & Niki se troue in Kaap Agulhas

Die pragtige Kaap Agulhas troue van Rinus en Niki deel ons vandag met ons lesers op Mooi Troues.  Die besonderse kus dorpie waar die twee oseane mekaar ontmoet spog met ‘n aardse rustieke trouvenue wat Rinus en Niki se harte gesteel het.

Ons leer ook dat hulle troue, tesame hul wittebrood net R70 000 was.  Ons lesers kan onder lees hoe die paartjie dit reg gekry het om ‘n pragtige troue en wittebrood in dié begroting te doen.

Niki vertel ook dat haar trourok wat sy op die dag gedra het nie haar oorspronklike keuse sou wees nie.  Toe sy die rok aanpas het die trourok haar soos ‘n handskoen gepas.

Ons is opgewonde om met ons lesers die Kaap Agulhas troue te kan deel so rol af en geniet dit.  Hopenlik oorreed Rinus en Niki se troue julle om ook ‘n Kaap Agulhas troue te hê.  Lekker lees.

Julle troudatum en Ouderdom van paartjie op troudag?


16 Maart 2019 en 24 jaar elk.

Hoe het julle mekaar ontmoet en wie het wie gevra om te trou?


Ons het mekaar in Loverslane op NWU Potchefstroom kampus ontmoet.  Niki het my skaatsplank raak gesien voordat sy my raakgesien het, en so het alles begin.

Ek (Rinus) het Niki gevra om met my te trou tydens n naweek wegbreek na Platbos Woud, naby Gansbaai en Stanford.

Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?


Ek was nog altyd ‘n kaalvoet, blommekind en om ‘n rok te soek was nie grappies nie, aangesien ek my neus opgetrek het vir die oor-die-top nuwerwets rokke.  Toe ek (eers teen my wil) die Russiese rok aangepas het by Tying the Knot, het ek dadelik geweet dis Niki.  Ek het geweet dat ek op ons troudag die beste tyd van my lewe gaan hê sonder om selfbewus te voel oor my liggaam – ‘n selfversekerd bruid is tog die mooiste vir haar man!  Die mooiste eienskap van die rok is vir my die sy sagte net wat langer is aan die agterkant.  Dit was beide gemaklik, tog elegant en sprokiesagtig.

Vertel ons meer van jul ringe


Rinus wou graag iets anders as die norm doen.  In plaas van ‘n verloofring en troupand het hy vir my ‘n verloofpand gegee.   Hy het self dit uitgekies en wat by gedra het tot die groot verrassing.  Daarna het ons ‘n trouring saam ontwerp en laat maak, bypassend tot die verloofpand by Uwe Koetter.  Rinus wou n manlike en “growwer” ring as die normale titanium of goue ring hê, hy het dus die perfekte kombinasie by Touchwood gekry.  Sy ring is n donker grys slangsteen met n dun hout groefie in die middel van die ring reg in die ronde.

Vertel ons meer oor die fotograaf


Ons het gehoor van Charles van Relife Photography deur Rinus se ouers.  In die eerste koffie sessie oor ons troue saam met Charles het hy iets gesê wat regtig ons aandag gevang en die keuse van fotograaf maklik gemaak het.  Charles het verduidelik dat hy verhoudings en persoonlikhede probeer vasvang, dat hy sy foto’s so natuurlik as moontlik probeer hou en dat hy aan die einde van die troue wil weg loop as vriende van die bruidspaar.

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?


Ek (Rinus) het na die tyd daaraan gedink dat dit sou lekker gewees het om ‘n foto saam met elke gas op die troue te kon hê, sienende dat ons net 61 gaste gehad het.

Ek (Niki) sou graag my eie persoonlike gin en tonic 2L dispenser op ons bruidspaar tafel wou gehad het.

Vir my (Rinus), toe Niki ingestap het by die kerk, die erediens in die kerk en toe ons vir die eerste keer saam as Mnr. en Mev. Carstens in stap by die trou seremonie.  Die merkwaardigste oomblik vir my (Niki) is toe ek en Rinus gaan sit het by ons Love Birds Table en ek al ons vriende en familie gesien het.  Ek het net besef dat die aand eintlik nie oor ons twee gaan nie.  Ons vier eintlik elke persoon wat God oor ons pad gestuur het om ons twee te help om die beste weergawe van Niki en Rinus te word.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Bruid:

Dalk kom dit as ‘n skok, maar my beste advies sal wees: maak jou man werklik deel van die beplanning.  ‘n Vriendin het vir my gesê dat die beplanning van ‘n troudag net so spesiaal is soos die troudag self … So hoekom nie jou verloofde deel maak daarvan nie!  Ek glo daar kom ‘n gevoel van respek en vertroue indien jy ‘n man ‘n geleentheid gee om verantwoordelik te wees en om homself te kan bewys.  Natuurlik het dames ‘n fyner gevoel en nie alle mans wil noodwendig iets met die beplanning te doen hê nie.  Tog, hy sal jou verbaas.  Die aand van ons troue het dit regtig gevoel soos twee drome wat saamgesmelt het en orals waar ek gekyk het kon ek my man se insette, liefde en tyd sien, en waardeer.  Die beste trougeskenk!

Bruidegom raad:

Wees altyd gewillig om jou bruid te help waar jy kan!  Onthou dat alhoewel dit julle troue is, droom jou bruid heel waarskynlik al haar hele lewe lank van die dag, so wees bereid om jouself tweede te sit en haar idee of opsie te kies.  Moet nie die troue perfek probeer maak nie, anders gaan jy die aand van die troue net vas kyk in al die klein goedjies wat verkeerd mag gaan en vergeet om die troue eintlik te geniet.  Sit jou alles in om die troue ongelooflike te maak.  Dan wanneer die troue aanbreek, kry vir jou ‘n bier, ontspan en geniet die aand saam met jou trouvrou.

Gesamentlike raad:

Maak die Here deel van julle beplanning van dag een af.  Ons altwee glo vas dat daar niks op ons trou dag verkeerd gegaan het nie, omrede ons heel eerste die Here gaan vra het vir n trou datum.

Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?


Ek en Niki het een keer Black Oystercatcher besoek vir n wynproe voordat ons nog verloof was.  Terwyl ons daar was het ons deur die venue/restaurant geloop.  Ons het altwee ingestem dat hul dekor in die restaurant fantasties is.  Presies die tipe style ‘n atmosfeer het wat ons smaak is.  Ons het vir mekaar gesê dat dit dalk ‘n ongelooflike opsie sal wees vir wanneer ons eendag sou trou.

Na ‘n lysie van 19 venues wat besoek was, was Black Oystercatcher ironies genoeg die laaste venues wat ons besoek het.  oop-plan waar jy jou gaste die hele aand kan sien.  Die aardse rustieke atmosfeer met die kaggels en lang hout tafels tesame met die eenvoud van Black Oystercatcher het van vooraf ons verlief gemaak.

Ek (Niki) het besluit om nie ‘n perfekte prentjie in my gedagtes vas te maak vir dekor nie.  Aangesien dit onnodige stres veroorsaak en werklik kan daar net té veel klein goedjies jou teleurstel indien alles nie ‘perfek’ is nie.  Ek het ‘n sigblad gemaak van al my Pinterest trou idees.  Hoofsaaklik rustieke, eenvoudige met ‘n baie natuurlike gevoel.  Die res oorgegee aan my tannies, niggies en vriendinne.  Servette was gestik deur skoonma, fynbos is gepluk vanaf Plettenbergbaai na  Struisbaai tot in Heroldsbaai. Programme was gedruk en gevou by die skool.  Alles was handgemaak met liefde.  Die resultaat het werklik my asem weg geslaan.  Op die einde van die aand was die glans op almal se persoonlike insette en interessante stories liewer as die dekor self.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?


61 Gaste onthaal.  Die begroting was R70 000 met wittebrood ingesluit.  Ons het baie gebruik gemaak van die hulp van familie en vriende om sodoende kostes te bespaar.  Soos by die dekor en geskenkies vir die gaste.  Verder het ons ook probeer om dinge eenvoudig maar stylvol te hou.

Vertel ons meer van jul Wittebrood


Die besluit was om die Garden Route te besoek vir ons Wittebrood.  Ons was nog nie vir n enkele oomblik spyt daaroor nie!  Ons het die meerderheid van die tyd in Knysna deur gebring.  Behalwe vir Knysna het ons ook verder tussen die dorpies van Wilderness, Sedgefield, Buffelsbaai, Brenton on Lake en Brenton on Sea rond gerits en elk een bietjie verken.

Van ons hoogte punte was onder andere die plekke waar ons gebly het.  Die ongelooflike interessante en lekker restaurante en markte in Knysna, Sedgefield en Wilderness, die strand by Knoetzie, die semi geheime strand wat ons ontdek het naby Brenton on Sea.  Natuurlik die voorreg om die klein vakansie in mekaar se geselskap te kon deur bring en geniet.

Vertel ons meer oor jul eerste dans


Nie een van ons twee is eintlik groot op “sokkie” of stadige langarm liedjies nie.  Dus wou ons iets doen wat by ons persoonlikhede pas, oorspronklik is en buite die norm is. Ons eerste liedjie was dus “Good Vibrations” van die Beach Boys.  Dis ‘n “feel-good” liedjie wat stadige en lewendige dele in die liedjie gehad het.  Verder was ook baie improvisasie tydens die eerste dans.  Grootliks omdat ons nie eintlik dit geoefen het nie.

[section=Klik hier vir diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]