Ons by Mooi Troues moedig paartjies gereeld aan om ʼn fotosessie wat eie is aan hulle te doen. Philip is baie lief vir gholf speel en daarom was dit nie vir hom en Chantelle moeilik om te besluit om hul verlowing fotosessie op ʼn gholfbaan te laat neem nie. ʼn Gholfbaan verlowing fotosessie volledig met selfs ʼn gholfkarretjie.
Dit is die eerste keer in Mooi Troues se geskiedenis dat ons ʼn verlowing fotosessie op ʼn gholfbaan deel … Rol af en geniet die oulike paartjie se storie
Vertel ons van jul ontmoeting en die eienskappe wat julle na mekaar aangetrek het?
Ons het in 2015 ontmoet in Potchefstroom waar albei van ons in dieselfde woonstel kompleks gebly het. Wat eers ʼn vriendskap was het geblom in ʼn liefde vir mekaar en ons onderskeie gesinne. Vier jaar later verloof en ons trou op 28 Maart 2020. Ek het altyd gesê ek sal graag wil trou met ‘n man soos my pa.
Philip het dieselfde saggeaarde, borrelende persoonlikheid. Dit was so maklik om op hom verlief te raak. Hy het altyd ‘n glimlag op sy gesig en sy dryfkrag in die lewe sowel as die liefde wat hy het vir sy medemens en vir my was vir my die kersie op die koek.
Chantelle se sagte mens wees, omgee hart en liefde vir ander het my my hart laat verloor op die donkerkop, langbeen meisie. Ek het van die eerste dag af geweet dat ek die res van my lewe saam met haar wil spandeer.
Vertel ons wie het wie gevra om te trou?
Philip het my gevra om te trou. Dit was in die geheim gedoen met behulp van ons familie. Op 22 Desember 2018 het hy my op die mooiste strand in Mosselbaai die groot vraag gevra.
Vertel ons die inspirasie agter die verlowing fotosessie?
Philip is ‘n groot sport fanatikus en ek sy grootste ondersteuner. Golf is sy passie en ek het gevoel hy sal gemaklik wees op die plek waarvoor hy die liefste is. Ons grootse doel met ons fotos was ook dat dit ONS twee moet uitbeeld, ons lag en liefdevolle verhouding moet vasvang. Ons wil graag die foto’s gebruik vir die elektroniese uitnodigings, webblad asook van ons trou dekor.
Vertel ons meer wat het jul ingedagte vir jul droom troue?
Ons het saam besluit dat ons net ons naaste vriende en familie daar wil hê, sodat almal wat vir ons belangrik is die dag saam met ons kan deel. Ons sien die dag as ‘n samekoms van liefde waar ons een sal word. Sagte dekor, hout tafels gedek in vlootblou, olyfgroen en pienk. Die sagte klanke van die trompet wat speel as die dag begin.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Bernice Burger