Kombuistee advies deur Something Pretty

Angstig en verlore as jy net dink daaraan om ‘n kombuistee te moet reël?  Jy is verseker nie alleen nie!  Om ‘n kombuistee te reël kan genoeg wees om enige iemand met hulle hande in hulle hare te laat sit!  Lees meer oor die kombuistee advies hieronder.

Something Pretty spesialiseer in kombuistee funksies en deel graag met jou hierdie wenke om jou reëlings glad te laat verloop en die dag nie net te oorleef nie, maar ook te geniet!

Besluit eers waar


Kies die lokaal/restaurant waar die funksie gehou word sorgvuldig.  Vra alle inligting aan voor enige besprekings gemaak sodat jy seker kan wees dat hulle voldoen aan alle vereistes.

Mag dekor en/of ballonne van buite af ingebring word?  Vra die lokaal/restaurant ‘n fooi om ‘n koek of kolwyntjies in te bring?  Benodig hulle ‘n deposito om besprekings te bevestig?

Hierdie is almal baie belangrike vrae wat gevra moet word.  Dit sal verseker dat daar geen onverwagse verrassings en uitgawes voorlê nie!

Maak seker om te delegeer


Somtyds is dit nodig om terug te staan en net asem te skep. Hierdie tipe funksies kan baie emosies ontlok, veral omdat soveel verskillende mense dikwels betrokke is by die reël hiervan.

Besluit vooraf hoe die verantwoordelikhede gedeel gaan word om konflik te verhoed gedurende die proses.  Dit is ook belangrik sodat almal bydrae kan lewer, deel voel van die proses en ook sodat een persoon nie nodig het om die finansiële las alleen te dra nie.

Die ma’s kan die lokaal/restaurant kies en bespreek en op die geskikte spyskaart besluit, waar strooimeisies weer die gaste kan nooi en die tafels mooi maak.  Óf, die ma’s kan die kombuistee reël en die strooimeisies die henne partytjie – daar is eindelose opsies om almal deel te maak.

Besluit op ‘n begroting


Soms is mens gelukkig om geen finansiële perke te hê nie, maar die realiteit is dat dit in die meeste van die gevalle net nie moontlik is om alles en nog meer te kan bekostig nie.  Besluit op ‘n begroting en bly daarby!  Noukeurige beplanning sal verseker dat jou bankrekening nie in die rooi is na hierdie spesiale geleentheid nie.  Wees realisties wat kostes aanbetref, besluit vooraf hoe die begroting opgedeel gaan word en bly dan binne perke.

Weeg op wat ‘n “moet hê” is, teenoor ‘n “lekker om te hê”.  Dit sal help om te weet waar die geld allokeer moet word.  Is ‘n fotograaf ‘n prioriteit?  Is  ‘n spesiale koek wat die tema omvat ‘n “moet hê”?  Moet speletjies deel wees van hierdie geleentheid? Is daar ander behoeftes soos die ontwerp en druk van ‘n welkom bord of spyskaarte?  Is dit vir julle belangrik om vir elke gas ‘n “dankie sê” geskenkie te gee?  Hierdie goed dra alles by tot die uitgawes van die dag, dus is dit belangrik om vooraf te besluit wat ‘n prioriteit is.

Sodra al die uitgawes bepaal is, is dit belangrik om te vra of die ouers en strooimeisies die kostes alleen gaan behartig en of die gaste ‘n finansiële bydrae moet lewer?

Dit is heeltemal aanvaarbaar om die gaste te vra om ‘n bydrae te lewer, maar dit is ook belangrik om realisties te wees met wat van hulle verwag kan word.  Tussen R50 – R200 (afhangend van wat dit insluit) is haalbaar vir meeste gaste, aangesien hulle nog moet begroot vir ‘n geskenk ook.  Maak ook seker dat die gaste die waarde (en meer) ontvang van dit wat hulle bygedra het.  Wanneer mens iemand anders se geld spandeer, moet dit wys gebruik word.

Onthou oor wie dié geleentheid gaan


Die spesiale geleentheid gaan oor die bruid.  Dit gaan nie daaroor om by te bly met wat dié vriendin gekry het of wat dáái tannie verwag nie.  Die hele dag gaan daaroor om die huwelik van die aanstaande bruid en bruidegom te vier en hulle te seën met geskenkies en liefde.  Maak dit ‘n dag van spesiale herinneringe, vol liefde, lag en vreugde!  Dit is wat die bruid op die ou einde sal onthou.

Vra hulp by ‘n professioneel


Kry iemand in om te help, as dit moontlik is.  Dit vergemaklik die beplanning en verminder die stres.  Dit gee ook vryheid vir almal om die dag te kan geniet, sonder om te moet rondhardloop om goed in plek te laat val.

Steeds angstig oor die reëlings wat voorlê?  Something Pretty kan help met alle reëlings – van restaurant aanbevelings, uitnodigings, dekor, geskenkies, speletjies en nog meer!  Alles word gereël volgens elke groep se behoeftes.

As ‘n spesiale wenk, onthou, in meeste gevalle solank die gaste kos en drankies kan geniet in ‘n gemaklike, gesellige plek, sal dit verbasend wees hoe min mens werklik “moet hê”!

Artikel krediet