Christo & Danè se winter droomdag

Christo en Danè spog met ʼn pragtige winter droomdag ten spyte van Bloemfontein se onvoorspelbare weer.  Die paartjie verklap hul geheime oor hoe om al die struikelblokke voor en op jou troudag te oorkom.  Hulle deel wenke vanaf selfdoen-dekor tot by hoe om jou aanstaande in die trou-proses te ondersteun.

Danè het baie van die fotograaf se werk op Mooi Troues se webblad gesien. Dit het haar met haar finale besluit gehelp en gerus gestel dat sy wel die regte besluit neem.  Daar is so baie dinge wat op jou troudag kan verkeerd gaan, daarom is dit van kardinale belang om die regte besluite te neem oor die dinge wat jy wél kan beheer.  Die mooi herinneringe en foto’s is immers al wat mens oorhet van jou groot dag.  Danè is beslis tevrede met haar keuse van diensverskaffers en is mal oor die pragtige foto’s wat hul as paartjie verewig sal koester.

Rol af en geniet die storie van Christo en Danè se winter droomdag.

Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?


Ek het nog altyd ʼn prentjie in my kop gehad van hoe my trourok moet lyk.  Ek het ‘n prent op Pinterest gesien van ‘n bokant waarvan ek hou, en ‘n ander prentjie van ‘n rok se onderkant.  Elmerane van Orijinel het my rok gemaak en sy het my hoogste verwagtinge oortref!  Dit was die eerste keer wat iemand vir my ‘n rok maak waarmee ek hééltemal tevrede was.

Hoe het julle mekaar ontmoet en wie het wie gevra om te trou?


Op 26 Februarie 2015 het ons voor Marjolein Koshuis by die Universiteit van Vrystaat ontmoet.  Ons het op hierdie tydperk al  vir 2 weke al op Whatsapp gesels.  Christo was oulik genoeg om vir my ‘n baadjie te bring omdat ek myne by die huis vergeet het.  Ek het oor ʼn klip gestruikel en letterlik oor my voete geval toe ek hom sien. Daar was die ys gebreek!  Daarna het studie breuke in naweke verander en voor ons ons oë kon uitvee was ons beste vriende.  Dit was nie lank nie, toe vra Christo my om sy meisie te wees.

Op 26 Mei 2018 het Christo my grootste droom laat waar word toe hy my vra om te trou.  Ek het pas terug gekom van ‘n uithourit in Boshoff en was baie moeg toe Christo my vra of ons iets kan gaan eet.  Ek was nie baie lus nie, maar ek het ingestem om saam te gaan.  Op pad restaurant toe het Christo gesê hy moet gou iets vir sy pa in hulle aartappel stoor gaan kry.  Hy het ingehardloop om die “iets” te kry en na ‘n ruk het hy my ingeroep om hom te kom help dra.  Toe ek instap was hy op sy knieë omring deur honderde kerse.  Ek kon nie vinnig genoeg ja sê nie!

Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.


Tania Allen was ʼn ruk gelede die fotograaf by ʼn troue waar ek ʼn strooimeisie was.  Ek was mal oor die manier waarop sy met ons gewerk het en haar foto’s was ongelooflik mooi.  Ek is nie vir ʼn oomblik spyt ek het haar gekies nie.  Sy het my wildste drome oortref.  Sy het dit reggekry om ons gemaklik te laat voel en terselfdertyd mooi te laat lyk op ons vriesende koue troudag.

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?


Vir ons was die merkwaardigste oomblik toe ons die lied “What a beautiful Name” deur Hillsong in die kerk gesing het.  Ons kon regtig die Here se teenwoordigheid voel.  Ons was só oorweldig met sy liefde. Die dag het immers oor God gegaan – omdat Hy eerste lief gehad het, het ons ook lief.

Die weer is altyd onvoorspelbaar met ‘n troue.  Wat ons gedink het gaan ‘n lekker lente troue wees, was toe die koudste winterdag van die jaar.  As ons kon sou ons graag meer verwarmers, komberse en koffie tydens die verversings buite wou gehad het.  Gelukkig was Goosehill voorbereid en die saal het verwarmers gehad.  Ons het ten minste die gaste iets gegee om te onthou!  Ons winter droomdag was steeds vir ons só spesiaal en ons sal niks anders wou verander nie.

Het julle enige diensverskaffers vanaf Mooi Troues gekry?


Ek het baie van Tania Allen se foto’s op Mooi Troues gesien.  Dit het ons gehelp met ons finale keuse om haar te gebruik.

Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?


Ons was opsoek na ‘n venue met ‘n plaas gevoel, maar wat steeds elegant is.  Goosehill het aan al ons vereistes voldoen.  Johan en Freda Goosen was sulke aangename mense ons het dadelik met hulle oor die weg gekom.  Omdat ons self boer wou ons graag van ons eie vleis en groente gee.  Hulle was een van die min venues wat ons toegelaat het om dit te doen.  Dit het vir ons baie beteken want ons kon iets van onsself vir die gaste gee.

Vir die dekor het ons besluit op Eucalyptus Cinera op hout tafels met verskillende kershouers.  Die dak was gevul met fairy lights en ons het die tafels belig met verskillende grootte kers blakers en kerse.  Ons wou dit ‘n plaas gevoel gee, maar steeds elegant hou.  Ek is nie die tipiese meisie wat van blomme hou nie, so ons het minimaal blomme in die saal gehad.  Daar was wel klein woestyn rosies op die tafels tussen die Eucalyptus Cinera.  Ons het die tafel name uit die dak gehang.  Die tema van die tafel name was alles wat ons graag in ons huwelik wou hê (liefde, vertroue, respek, ens.)

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?


Ons oorspronklike begroting was R80 000, maar ons het R90 000 spandeer.  Ons het gesny op uitgawes soos hare en grimering.  My vriendin is ʼn haarkapper en het al die strooimeisies se hare gedoen.  My tannie het my grimering betaal en sy het self die bruidsmeisies se grimering gedoen.  Die Eucalyptus Cinera en blomme op die tafels het alles uit my skoonma se tuin gekom.

Dis die klein goed net voor die troue wat bydrae tot die ekstra kostes.  Die ekstra dekor, geskenke vir die bruidsmeisies, geskenke vir die strooijonkers ens. het alles bygedra tot ons verhoogde begroting.

Ons het 120 gaste by die troue gehad.

Vertel ons meer van jul Wittebrood


Vir ons wittebrood het ons besluit om Mauritius te verken.  Dit was een van die lekkerste vakansies wat ons nog ooit gehad het.  Ons het ingeboek by Solana Beach – ʼn vier ster oord aan die ooste van die eiland.  Ons was elke dag omring deur die eiland se skoonheid terwyl ons eet soveel ons wil en verskeie aktiwiteite doen.  Die hoogtepunt van ons vakansie was toe aan die weste van die eiland saam dolfyne gaan swem het.  Dit was al lank op ons ‘bucketlist’ en beslis iets wat ons nooit sal vergeet nie.

Dit is ‘n baie romantiese plek en die diens van die oord was uitstekend.  Ek sal enige paartjie aanraai om eens in hul lewe soontoe te gaan.

Vertel ons meer oor jul eerste dans


Ek en my man is albei mal oor dans.  Ons dans op elke geleentheid wat ons kry!  Ons het dus besluit om sommer met die instap die dansbaan te open en ‘n gemaklike atmosfeer te skep.  Jay se liedjie “So lank sal ek jou lief hê” was ons gunsteling.  Hy sokkie tog so lekker!  Omdat ons al vir jare saam dans, het ons nie daarvoor geoefen nie.

south african wedding south african wedding south african wedding south african wedding south african wedding south african wedding south african wedding south african wedding south african wedding

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Vir die Dames:
  • Probeer soveel as moontlik kwotasies kry vir elke item/diens.  Maak dan ʼn ingeligte besluit nadat jy almal oorweeg het.
  • Betrek familie en vriende wat jou kan help en bystaan.  Dit spaar baie tyd, geld en moeite.
  • Onthou, almal gaan ‘n opinie oor jou trou dag hê en hul insette wil lewer.  Maar moenie kwaad raak nie, hulle wil net help.  Maar onthou ook dat dit jou dag is en dat jy die finale keuse moet maak.
  • Maak al die dekor by die venue die dag voor jou troue reeds klaar sodat jy werklik elke oomblik van jou trou dag kan geniet en inneem.
  • Geniet elke oomblik van die beplanning en die groot dag – voor jy jou oë uitvee is als verby!  Fokus die dag van jou troue net op jou man en julle liefde vir mekaar.
Vir die mans:
  • Dis nie nodig om vir ‘n jaar of twee verloof te wees nie, ‘n troue vat nie so lank om te reël nie.
  • Laat jou toekomstige vrou toe om meeste van die reëlings te tref en haar groot dag te reël soos sy nog altyd daarvan droom.  Ondersteun haar en doen wat sy vir jou vra.  Moenie kwaad raak as sy jou raad vra, maar besluit om dit nie te volg nie.
  • Spandeer en beplan jou wittebrood goed; jy gaan net eenkeer op wittebrood!

[section=Klik hier vir diensverskaffers]

[endsection]