Johan & Alitia se prettige verlowing in die natuur

Met hul liefde vir plaaslewe en bergklim sou Johan en Alitia dit geen ander manier wou hê as om hul verlowing fotosessie in die pragtige natuur te hê nie.  Die paartjie se persoonlikhede straal uit in die foto’s en ons sien dat hulle mekaar se geselskap  ten volle geniet.  Ons by Mooi Troues wens hulle al die mooiste voorspoed toe en hoop om binne kort hul troue ook met ons lesers te kan deel.  Rol af en geniet Johan en Alitia se prettige verlowing fotosessie.

Vertel ons van jul ontmoeting en die eienskappe wat julle na mekaar aangetrek het?


Ons het ontmoet 28 Augustus 2015, langs die oewer van die Vaal Rivier.  Albei van ons was nog vroeg in ons student jare op die PUK.  Ons het dadelik gesels soos ou vriende.  En ons eerste romantiese afspraak het nie lank daarna gevolg nie.  Die liefde het vlam gevat van daar af.

  • Ons is laf.  In ons verhouding het ek dikwels gewonder of hy of ek die lawwer een is.
  • Johan se strewe om te leef soos ‘n man van God is my hoof aantrekkingspunt.
  • My en Johan se liefde vir natuur en avontuur: Plaas lewe, bergklim en nuwe plekke saam ervaar is deurslaggewend regdeur ons verhouding

Vertel ons wie het wie gevra om te trou?


Die gesegde dat “jy weet ”.  Was definitief waar vir ons.  Toe Johan my vra om sy meisie te wees het hy reeds vir my gesê hy weet hy het sy trou vrou gevind.  Johan het my gevra om te trou op 3 November 2018.  Nadat ons verhouding ‘n jaar van afstand deurstaan het was hierdie dag verseker die wag werd.  Johan het dit so spesiaal gemaak en ek was heeltemal verras.  ‘n Pragtige piekniek by die mooiste 7 Damme in Bloemfontein, die man van my hart en die ring van my drome was my antwoord verseker “JA”.

Vertel ons die inspirasie agter die verlowing fotosessie?


Ons wil graag ons verlowing fotos gebruik vir die trou uitnodigings.  Daardeur vir ons gaste so bietjie meer vertel van wie ek en Johan is.  Die foto’s doen presies dit.  Ons lawwigheid, diep liefde vir mekaar, liefde vir die natuur en ons hond Zoey het so natuurlik uitgekom agter die kamera.

Zoey, ons hond, vertoon ook op ‘n paar fotos omrede Zoey die jaar wat verby is se afstand-verhouding vir my en Johan soveel makliker gemaak het.  Haar opgewondenheid, lus vir die lewe en onvoorwaardelike liefde is definitief eienskappe wat ek en Johan in ons huwelik wil inbou.

Vertel ons meer wat het jul ingedagte vir jul droom troue?


Die gevoel wat ons met die troue onder die gaste wil laat heers is, ‘n warm gevoel van liefde-viering.  Ek bedoel wanneer ek sê warm, want ons trou in die yskoue Winter Bloemfontein.  Ons soek ‘n elegante, klassieke troue, met vure, kerslig en kandelare.  Die geselskap van ons geliefdes, goeie rooiwyn en ‘n warm dansvloer wat aanhou tot die son weer opkom ter viering van my en Johan se liefde.

[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]