Daniel & Madeleine se gesellige plaastroue

Dit is belangrik dat paartjies daaraan dink om ʼn trou venue te kies wat voorsiening maak vir alles om ʼn ongelooflike troue te hou en wat hul gaste vir lank sal onthou.  Seker die grootste element na die trourok, is die kos wat gaste onthou en as jy opsoek is na ʼn venue wat al die boksies afmerk is Bon Cap gasteplaas en trouvenue verseker bo aan die lys.  Lees vir jouself Daniel en Madeleine se lof vir Michelle van Bon Cap en personeel en van al die smul lekker kos.

Ons het al voorheen by Mooi Troues aan die onderwerp geraak en wil net weer vir ons lesers wat besig is om ʼn troue te beplan, klem lê op die belangrikheid van ʼn Tydlyn vir die dag en neem ook in ag wanneer jul die tydlyn van jul troudag beplan om die sonsak in te bereken.  Klik hier om na ʼn maklike aanduiding te gaan kyk vir wanneer die son sak op jou gekose datum en plek waar jy wil trou.

Madeleine het ook vir Daniel en hul gaste verras met ʼn ander styl trourok en Daniel se gesig is kosbaar toe hy die beeldskone Madeleine in die trougang sien afloop.

Lees verder meer oor Daniel en Madeleine se gesellige plaastroue deur net af te rol en hoe hul besluit het op datum en venue.  Lekker lees.

Wat was jul troudatum en ouderdom op dié dag?


Ons troudatum was 08.08.2018 – Die rede vir hierdie datum is omdat wanneer jy die 8 op die sy draai, is dit ʼn “infinity” teken.  Dit simboliseer ons oneindige liefde aan mekaar.  Ook is die nommer 8 se Bybelse betekenis ʼn Nuwe Begin.  Ons huwelik word beskou as ons nuwe begin as man en vrou.

Ons albei was 27 op die dag wat ons getrou het.

Hoe het julle mekaar ontmoet en hoe het julle verloof geraak?


Ons het by die werk in 2015 ontmoet.  Ek was nie baie ingenome met die nuwe kollega nie omdat ek op daardie stadium niks van nuwe mans in my lewe wou weet nie.  Onwetende dat ek binnekort my hart op hom sou verloor.

Die oggend van die 20ste Mei 2017 het ons gegaan vir ʼn sjampanje buffet ontbyt by die 12 Apostels Hotel & Spa en daarna was ek bederf met ʼn “manicure” as deel van die weddenskap wat hy verloor het.  Na die bederf het hy my gelei na die piekniek area.  Terwyl ek die pragtige uitsig gestaan en bewonder het, het hy op sy knie afgegaan en my die ja-woord gevra.

Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?


Ek wou gaan vir iets gemaklik, maar tog elegant.  Ek wou Daniel se asem wegslaan.  Hy en ons gaste sou my in ʼn stywe meermin styl rok verwag en wou ek hulle almal verras met die vloeiende A-lyn rok.  My skoonma het saam met my die rok ontwerp en het ons soos wat ons gevorder het, die styl van die rok aangepas totdat ek en sy beide tevrede was.  Ek was gemaklik en kon in die rok dans tot die son opkom.

Vertel ons meer van jul ringe


Daniel wou ʼn ring gehad het waarmee hy kan oefen. Dus het ons op ʼn Slangsteen ring besluit omdat hy selfs gewigte met die ring kan optel.  Ek wou steeds hê dat sy ring duur vertoon.  Daarom die Roosgoud binnekant van die Brons ring. Ek het ook graveerwerk laat doen binne-in sy ring met die akroniem LVML.  Dit staan vir Liefde Van My Lewe.

My ring se ontwerp was deur Daniel gekies.  Die bandjies van die ring is gevleg en lyk soos die ‘infinity’ teken.  Dit is Platinum met steentjies aan beide kante van die middel steen op een van die bandjies. Die ander een is eenvoudig.

Vertel ons meer oor die fotograaf


Ons fotograaf is Morné Marais van Breedephotography.

My (bruid) kollega het op hom afgekom terwyl sy my help soek het vir fotograwe naby Robertson.  Ek het van sy styl gehou en toe ons hom ontmoet het, het ons dadelik gekliek en dit was vir ons albei belangrik.  Ek glo as jy gemaklik is om jou fotograaf kan jy die mooiste foto’s maak met die mees eenvoudigste agtergrond.

Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?


Ons het op Bon Cap afgekom via ʼn advertensie.  Ons het na Bon Cap gery en Michelle (die eienaar) ontmoet.  Dadelik was ons gemaklik met haar en was ons mal oor die ‘voorkoms en gevoel’ van die venue.

Ek en Daniel is beide plat op die aarde mense en dus wou ons vir ʼn aardse dekor styl gegaan het.  Iets wat nie ‘oorweldigend’ is en ongelooflik duur is nie.  Daarom het ons met veldblomme, bessies, loof & vetplante gewerk. Michelle het ook dadelik geweet wat ek wou hê nog voor ek probeer verduidelik en het sy my wildste drome oortref.

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?


Ons hele dag was ongelooflik spesiaal.  Van die seremonie dwarsdeur tot die onthaal.  Die mees merkwaardigste oomblik was toe ek by die paadjie afgestap kom en Daniel se gesigsuitdrukking sien en toe ons ons geloftes aanmekaar afgelê het voor God, ons familie en vriende.

Al wat ek sou verander aan die dag, was om meer foto’s te neem van ons twee saam en ook saam met ons gaste.  Ons was gehaas met foto’s omdat ons seremonie met ʼn halfuur laat was en die son sak vroeg in die Winter.

Vertel ons meer van jul Wittebrood


Ons wittebrood was ongelooflik.  Ons was vir 9 dae in Italië waar ons na Rome, Florence, Bologna, Venezia & Milan gereis het.  Florence is by ver ons mees gunsteling plek gewees.  Ons altwee sal enige tyd teruggaan soontoe. Ons het ook ʼn Vatikaanse en Colosseum toer gedoen terwyl ons in Rome was.

Daarna het ons gevlieg na Parys waar ons vir 5 dae deur Parys getoer het. Ons was bietjie Disneyland toe, die Louvre besoek, Eiffel Tower opgegaan en nog vele meer.  Ons het ons terdeë geniet.  Dit was baie stap en min slaap, maar die moeite werd.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?


Ons begroting was rondom R70 000.00 vir die troue.  Ons het ʼn venue gekies wat nie ‘oor drywend’ duur was nie, maar wat aan ons behoeftes voldoen het.  Ons het meer gefokus op die kos menu as op die dekor, Daarom het ons gebruik gemaak van veld elemente.

Ons het ook nie ʼn videograaf gehad nie en het ʼn fotograaf binne ons begroting gekies.

Ons het gekies om ʼn goedkoop, maar elegante en tog lekker troue te hê met ʼn duurder wittebrood.

Ons het begroot vir 60 gaste.  Gekies om ons naaste familie en vriende te nooi waarmee ons elke dag gesels.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Nooi vriende & familie waarmee julle daagliks te doen het.  Moet nie onnodige mense nooi wat nie elke dag ʼn bydrae lewer tot julle as ʼn paartjie nie.

Mens kan die ‘wow faktor’ in ʼn troue inbring met die mees eenvoudigste elemente.  Dit gaan meer oor hoe lekker die aand is as oor hoe mooi en duur jou dekor is.  Die kos & hoe lekker jou gaste kuier is wat hulle na die tyd gaan onthou.  Min onthou hoe die venue opgemaak was, maar almal onthou hoe lekker hulle gekuier het.

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: