Abri & Nina se mooi troudag

Ons by Mooi Troues is opgewonde om met ons lesers die mooi troudag van Abri en Nina met julle te kan deel.  Die paartjie se bruilof-vieringe was gehou in die mooi dorpie, Tulbagh.

Ons is so trots om te hoor dat Nina die inspirasie vir haar troudekor reg hier op Mooi Troues gekry het, so nodeloos om te sê is dié troue alles wat Mooi Troues verteenwoordig.

Viljoen Juweliers is gebaseer in Worcester met kliënte regoor Suid-Afrika. As jy opsoek is na ʼn juwelier wat die perfekte verloofring of trouring vir jou kan maak, dan hoef jy nie verder te soek nie.  Met meer as 70 jaar se kennis en ʼn passie vir mooi juweliersware is jy in goeie hande.

Rol graag af en geniet die pragtige foto’s en as jy besig is om jou, of iemand help om ‘n troue te beplan, sommer baie inspirasie op ons aanlyn publikasie kry.

Wat was jul troudatum en hoe oud was jul albei op dié dag?


31 Maart 2018 – Abri was 30 jaar oud en Nina 26 jaar oud.

Hoe het julle ontmoet?


Ons ken mekaar al van kindsbeen af waar Abri nog ’n jong student op Stellenbosch was en ek ’n skaam Graad 8- jong meisie.  Hy was een van my broer se mooi vriende wat baie oulik was, veral omdat hy Maties rugby gespeel het. My oudste broer het probeer waarsku en beduie, maar te vergeefs.  Vinnig vorentoe … As eerstejaarstudent op Stellenbosch het hy my gevra om saam met hom na ’n troue te gaan. Natuurlik was die uitnodiging welkom. Ek (sonder veel koördinasie om oor huis toe te skryf) het die blomme gevang en hy die kous pant.  Vinnig vorentoe.  Ek trek agter my drome aan en beland vierkantig in Ceres, toevallig Abri se tuisdorp. Ek word smoorverlief, hy ook. Die tyd was toe net reg om te erken ons moes eintlik al lankal getrou het.

Hoe het julle verloof geraak?


Abri het my een Sondag vroeg uit my ouerhuis, in die Kaap, gejaag om terug te kom Ceres toe.  Waar ek gegroet was deur ’n senuweeagtige bruinoog man, wat heeltyd in sy hempsak grawe.  Hy het my die Ceres Karoo ingeneem waar ons al rukkend en plukkend op ’n grondpad gery het tot by ’n bergagtige heuwel.  Abri het as kind saam met sy oupa die karoo se veld-koerant hier leer lees.  Nadat ek berg-opgesleep was in my Sondag klere en my hare gehaak het aan al wat ’n droë bossie was, het ons uiteindelik die heel boonste puntjie bereik.  Tjoepstil. Abri het hier ʼn klomp mooi goed gesê.  Die geluide van woorde was effens gedemp deur die geblink van my pragtige pienk en platinum ringetjie.  Ons geniet dit om hierdie stukkie ongerepte natuur oor en oor te besoek.

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag?


Die merkwaardigste oomblik vir my en Abri albei, was om mekaar die eerste keer in die kappel te sien.  Ek het nogal baie aandag gegee aan die musiek wat sou speel voor na en gedurende die afloop van die seremonie.  Dit het die oomblik net daardie bietjie meer spesiaal gemaak.  Na die seremonie kon ons ontspan en alles oorlaat aan die seremonie meester en platejoggie.

Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.


Ons het nie ’n videograaf gehad nie omdat ons begroting dit nie toegelaat het nie.  Ek is nogtans nie spyt oor hierdie besluit nie omdat ons fotograaf haar uitstekend van haar taak gekwyt het.   Adele was die eerste persoon wat gereël was in ons beplanningsproses.  Fotograwe is gewoonlik maande en selfs ʼn jaar vooruitbespreek, wat dit soms moeilik maak om die persoon te kry wat jy wil hê (veral vir so ‘’n gewilde datum).

Ons het gebruik gemaak van Adele Kloppers Fotografie.  Sy het ook vir ons ’n gratis verlowings fotosessie ingesluit by die totale bedrag.  Sy was altyd vriendelik en geduldig en het my en Abri op ons gemak laat voel.  Haar manier van foto’s neem het glad nie ons hele dag oorgeneem nie, alhoewel sy steeds op die ou einde vir ons bykans 700 foto’s gegee het, elkeen mooi in sy eie reg.  Sy het ook gehelp om ons troudag se tydlyn realisties uiteen te sit en haar eie werk daarby aangepas.

Vertel ons meer van jul ringe.


Ons het een Saterdag oggend in die kar gespring en al die pad Worcester se Viljoens Juweliers toe gesing.  Abri het my verloofring ook hier laat maak en ons wou met geen ander juwelier as Marli werk nie.  Sy het self groot passie vir wat sy doen dit.  Abri se ring was ’n titanium met ’n 0.1 ct vierkantige, swart diamant.  Hulle het ook daar gravering fasiliteite waarvan ek gebruik gemaak het vir sy ring.  Ons het ook vir my een van hul standaard trou-pantjies bestel en ‘’n paar klein veranderinge daaraan laat bring.  Marli het ons baie gehelp en heelpad goeie raad gegee.

Wat sou julle verander indien moontlik?


Ons het aan die begin besluit dat ons nie ons uitnodigings elektronies wou doen nie.  Ons het egter later agtergekom dat dit eintlik baie makliker vir ons sou wees.  Ek het self ons uitnodigings op gedroom, ontwerp en gevou en gevou en gevou.  Dit was baie duur op die ou einde, om nie te praat van die tyd wat dit in beslag geneem het nie.  Ons sou dus veel eerder iemand kry om vir ons ʼn webtuiste te skep en die uitnodigings elektronies benader.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


  • Dit is okei om ’n datum te kies wat buite seisoen is, bv. in die winter.  ’n Gewilde datum maak alles eintlik net ingewikkeld en soms nog duurder ook.
  • Moenie te veel geld spandeer aan geskenkies vir al die gaste nie.  Die feit dat jy hulle genooi het, is reeds ’n groot geskenk.
  • Pas eers rokke aan voor jy besluit om een te laat maak. Soms is dit goedkoper om ’n rok te koop as om dit te laat maak.
  • Maak seker die spyseniers maak genoeg kos.  Daar is altyd ’n groot man of drie wat ’n tweede keer wil skep en dan baie omgekrap raak as daar nie genoeg was nie.  My ma het my geleer: Dis goeie maniere.
  • Sny jou troukoek op en gebruik dit as nagereg.  Jy betaal duur daarvoor-geniet dit.
  • Geniet elke oomblik saam met vriende, maar steel so twee of drie keer 5 minute alleen saam met jou ander helfte.  Mens sal verbaas wees hoe min tyd jy eintlik saam met mekaar op die dag kry.

Hoe het julle die venue gekies?


Ons het ʼn plek gesoek met akkommodasie, aangesien my familie en vriende van die Kaap af sou moes kom.  Die akkommodasie was genoeg, bekostigbaar en ook baie mooi.  Verder is Tannie Lida Hanekom (Bestuurder) ’n liewe mens en doen baie om ’n onwetende, deurmekaar bruid op die regte pad te wys.  Daar is ook ʼn klein kappel op die venue, wat vir my en Abri nogal ‘n groot voorvereiste was.  Ek en hy wou graag in ʼn kerk die ja-woord aan mekaar beloof.  Die grootste mooi van Morgansvlei is natuurlik die natuurskoon wat jy beleef wanneer jy jou voet by enige deur op die perseel uitsteek.

Wat was die inspirasie agter jul dekor?


Ons is albei mense wat plat op die aarde leef.  Ek het dus gevoel dat natuurlike aardse dekor vir ons die mooiste sou lyk.  Natuurlik het ek baie tyd op Pinterest en Mooi Troues spandeer om vir inspirasie.  Op die ou einde was die hoof blom ’n Anthurium, om my oorlede oupa en ouma ook te deel.  Ons het baie hout en groenigheid gekies omdat dit maklike bekombaar was en baie daarvan self kon pluk.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Ons totale begroting vir die troue was R120,000.  Ons het ’n Excel sigblad opgestel waar ons rekord kon hou van al die uitgawes en inkomstes.  Ons het om en by R3,000 oorgehad op die ou einde.
Dit help baie om die effek van die uitgawes maklik te sien en het ’n groot uitwerking gehad op hoe ons, ons geld spandeer het.

Vertel ons meer van jul Wittebrood.


Vir ons wittebrood wou ons graag oorsee gaan.  See, sand en son was die groot ideaal.  Ons het dus deur STA travels gewerk en ’n week se wittebrood Bali toe gereël.  Dit het wel bietjie aan ons spaarfondse geknaag, maar was elke sent die moeite werd.  Ek en Abri dagdroom nou nog oor die plekke wat ons besoek het en die uitsigte wat ons die voorreg gehad het om te besigtig.

    Artikel Diensverskaffers:

    [section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers:

    [endsection]