Ons by Mooi Troues het behoorlik hoendervleis gekry toe ons die storie van Juan Louis en Chandré se onvergeetlike troudag in die wynland gelees het. Ons gaan nie te veel verklap nie en moedig ons lesers aan om self die paartjie se storie te lees.
Die paartjie se trou venue in Wellington, Bakenhof Winelands Venue die perfekte ligging vir jou sprokies troue in die Kaapse Wynlande. Dié trou venue in Wellington bied ʼn kapel op die perseel. Bakenhof Winelands Venue se glas mure bied oneindige uitsigte oor wynlande en van Tafelberg en die Hawekwa Berge.
Hul trouringe is van Viljoen Juweliers is gebaseer in Worcester met kliënte regoor Suid-Afrika. As jy opsoek is na ʼn juwelier wat die perfekte verloofring of trouring vir jou kan maak, dan hoef jy nie verder te soek nie. Met meer as 70 jaar se kennis en ʼn passie vir mooi juweliersware is jy in goeie hande.
Wat nog vir ons briljant was, is die foto’s van Chandré en haar strooimeisies wat in ʼn ry sit en grimering doen; En dan in ʼn ander foto in ʼn ry sit met gekruisde bene en elk ʼn Mode Tydskrif lees – dit laat ons so terug ding aan die Grease fliek! Ons sê baie dankie aan die fotograaf wat hierdie ongelooflike dag op kiekies vasgevang het. Die Suid-Afrikaanse Nasionale blom Protea was ook in baie elemente van dié paartjie se troue gebruik.
Rol af en kry inspirasie in die mooi foto’s en moenie vergeet om die troue met jou vriende te deel nie.
Wat was jul troudatum en hoe oud was jul albei op dié dag?
Ons is op Saterdag 14 Julie 2018 getroud. Juan Louis was 24 jaar oud en ek (Chandré) was 23 jaar oud op die dag.
Hoe het julle mekaar ontmoet?
Dit was in ons eerstejaar (2013) waar ek (Juan Louis) en een van ons beste vriende, my strooijonker op die troue, op pad was na een van ons klasse. Hier moes ons ʼn opstel in groepsverband geskryf het. Ek het nog gesê ons moet ʼn meisie kry wat voor in die klas sit en wat goeie punte kry om in ons groep te wees. Dis toe ons met ʼn meisie (Chandré) gesels het om te hoor hoe sy in die vak doen. Ek het toe oogkontak met my vriend gemaak en beduie dat sy in ons groep moet wees.
Daardie spesifieke groepstaak het ons toe nooit saam gedoen nie, maar ons het wel daarna elke groepstaak saam gedoen.
Hoe het julle verloof geraak?
Ek (Juan Louis) het alles vooruitbeplan, maar my plan om Chandré die ja-woord te vra by Kaappunt is in die wiele gery deur ʼn toergroep. Daar was ʼn magdom mense en ek moes vinnig my plan aanpas omdat Chandré nie piekniek voor almal wou hou nie. Ons is toe na ʼn privaat strand steeds binne die reservaat, genaamd “Buffelsbay” gegaan. Daar het ek ons piekniek kombers uitgegooi en op een knie gegaan om haar te vra.
Wat was die merkwaardigste oomblik van die aand?
Juan Louis het laasjaar op 14 Oktober 2017 sy nek gebreek. Ons moes ons troue wat aanvanklik op 8 Desember 2017 sou plaasvind, uitstel sodat ons 100% op sy herstel kon fokus. My (Chandré) ma was ook terminaal siek en is vroeër vanjaar oorlede. Net voordat sy oorlede is, het Juan Louis ʼn “pinkie-belofte” aan haar gemaak dat hy op ons troudag van 14 Julie 2018 sal instap en voor die kansel vir my sal wag (staande).
Die dokters se diagnose was dat hy ʼn kwadrupleeg sal wees en net sy duim en wysvinger ‘hopelik’ sal kan gebruik. Die merkwaardigste oomblik was toe hy nie net hierdie belofte aan my ma nagekom het nie, maar ook later die aand die dansbaan saam my geopen het. Dit is ʼn wonderwerk!
Vertel ons meer van jul ringe.
Albei ons ringe is deur Viljoen Juweliers in Worcester ontwerp. Juan Louis het hulle gehelp met die ontwerp van my verloofring. My verloofring is ʼn fyn roosgoud pand met ʼn Solitêre Diamant in ʼn Protea kader. Wat die protea setting spesiaal maak, is dat ek en my ma lank voor hy my gevra het om te trou reeds beplan het om Proteas as my hoof blom op my troudag te maak, sonder dat hy enige idee gehad het!
My troupand is ʼn baie dun witgoud pantjie met fyn diamantjies. Juan Louis se trouring is Witgoud met ʼn dun strepie Roosgoud in die middel. Die witgoud troupand van my en die roosgoud strepie van Juan Louis se trouring skep ʼn verbintenis met mekaar; Net soos ons op ons troudag in verbintenis met mekaar getree het.
Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.
Ons fotograaf was Sulet Fourie en haar assistent, Edene Mackenzie. Sulet het ʼn ongelooflike unieke oog vir foto’s. Sy sien raak wat die normale oog mis. Haar borrelende persoonlikheid steek jou aan en dit laat jou so gemaklik voel! Dit was vir ons baie wat belangrik om nie ongemaklike foto’s te neem nie. Omdat sy hierdie mooi gawe het straal dit deur op jou foto’s ook. Sy doen soveel moeite met elke foto wat sy neem. Sy het letterlik elke spesiale oomblik van ons troue vasgevang. Ons was werklik geseën met haar.
Ons videograaf was Jorinda van Shireen Louw Wedding Productions. My (Chandré) ma het ʼn videograaf as ʼn verrassing gereël en ons is ongelooflik dankbaar sy het. Ons trou-video is só mooi en so baie oomblikke is vasgevang wat jy as bruid of bruidegom nie op daardie dag sien nie.
Wat sou julle verander indien moontlik?
Ons sou absoluut niks van ons troudag verander nie, alles was perfek!!
Al wat ek anders sou gedoen het, is om my grimering en hare proeflopie asook my naels nie die dag voor die troue te laat doen nie. Dit sou lekker gewees het om die dag voor die troue net saam my stroomeisies kon ontspan.
Hoe het julle die venue gekies?
Google het ons gelei na Bakenhof Winelands Venue in Wellington. Ons het op dieselfde dag as wat ons daarop afgekom het, besluit om te gaan kyk. Nietemin was ons dadelik verlief, maar beide ons ouers het gesê: “moet nie julle harte op die eerste beste venue verloor nie.”
Ons het toe na ʼn paar ander gaan kyk, maar nie een van hulle was so perfek soos Bakenhof nie. Nie een van die ander kon vir ons daardie kinderlike opgewondenheid gee soos Bakenhof nie. Ons het toe net besef dat ons eerste keuse ons droom venue is; Ons hom in dieselfde week nog bespreek.
Wat was die inspirasie agter jul dekor?
Vanaf die begin was die prentjie ʼn elegante verhouding. Ek (Chandré) wou nie so voorspelbaar wees deur rose te gebruik nie. ʼn Protea is my gunsteling blom en dit moes geïnkorporeer word op een of ander manier. Ons het goed gedink saam Celeste oor sleutelwoorde wat ons wou assosieer met die troudag. Woorde soos romanties, klassiek, ryk, en verfyn was wat meeste uitgestaan het.
Die inkorporering van kristal afwerking op skerp wit Damast geborduurde linne het die perfekte elegante agtergrond geskep vir die skakerings van pienk blommekas-lopers wat in die middel van gaste tafels geplaas was. Kristal “trinketbakke” en kristal-bottelstoppers was ons geskenk aan ons gaste.
Ons blomme het gefokus op my gunsteling blom. Ons het dit wel gebalanseer met “frillerige” blomme om sagtheid en tekstuur te bevorder. Peontjies, Angeliere, Skaamblom, Cymbidiums, Tulpe en Geraldton Wax wat op ʼn “elektriese wyse” gebruik was, het opwinding en belangstelling geskep. Elke rangskikking was uniek en spesiaal op hul eie manier,. Dit was welig maar nie pretensieus nie.
Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?
Om troue te beplan is nie ʼn “Bob’s your uncle” jy kan trou soort van ding nie. Nee, jy moet tred hou van so baie groot en klein goedjies, dit is nie eens om te praat van wie die “gelukkige wenner” is wat die “haakplekke” op dié dag vir jou gaan hanteer nie. Om troue te beplan kan ongelooflik baie raak en onnodige druk op julle plaas, waar dit eintlik groot pret behoort te wees.
Hiermee gesê was ons bevoorreg om van ʼn troubeplanner (Celeste Styled Events) gebruik te kon maak. Celeste was ons “Superwoman,” sy het met alles uit haar pad gegaan om vir ons die beste teen billike pryse kry. Sy het alles hanteer, elke probleem het sy uitsorteer – ons weet tot vandag toe nie wat en of daar enige “haakplekke” op ons troudag was nie.
Ons advies aan ander sal dus wees om ʼn ekstra bietjie in jul begroting op ʼn troubeplanner te spandeer, dit is uit en uit die beste besluit wat ons kon gemaak het.
Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?
Ons was baie bevoorreg dat ons ouers vir ons troue betaal het. Ons het ʼn begroting van +/- R250 000.00 – R300 000.00 gehad om mee te werk. Celeste (ons troubeplanner) het ons mooi inlyn gehou deur vir ons klomp verskillende opsies te gee waaroor ons dan kon besluit.
Iets wat ons anders gedoen het was om nie ʼn voorreg te hê nie, maar tydens ons fotosessie, het ons i.p.v. die normale canapés bedien dit gekombineer met die voorgereg – so het ons ʼn hele “maaltyd” & sy kostes uitgesluit, sonder dat die gaste te min gehad het om aan te knibbel.
Vertel ons meer van jul Wittebrood
Ons was by Cliff Top Houses No. 8, Ballots Heights natuurreservaat op die Tuinroete. Die huis is geleë op die punt van die krans wat jou die gevoel gee dat jy bo-op die see is as jy uitgaan op jou stoep en aan die anderkant is jy omring met die mooiste groen natuur en al sy wild. Die huisie se kamer en badkamer kyk op die see uit, alles bestaan uit glas, dus het ons soggens wakker geword met die see se gebulder teen die rotse en die voëltjies wat tjirp, teen skemer het jy die dolfyne sien baljaar.
Hierdie was die ideale wegbreek om net te ontspan en mekaar se geselskap te geniet, asook om die beeldskone natuur te waardeer. Ons laaste dag het ons, op pad huistoe, afgesluit met ʼn heerlike brunch by die asemrowende Knysna Heads.
- Venue: Bakenhof Winelands Venue
- Trouringe: Viljoen Juweliers Worcester
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Sulet Fourie Photography
- Fotograaf se Assistent: Edene Mackenzie
- Trou Koördineerder, Blomme, Skryfbehoeftes: Celeste Styled Events
- Videograaf: Shireen Louw Wedding Productions
- Grimering en Hare: Evelyn Francis Mua
- Platejoggie: Deejay’s Music
- Spyseniering: King’s Catering
- Trourok: Anel Botha Couture
- Strooimeisie rokke: Hoiden Boutique
- Nagrokke: MayMay Attire