Ons is opgewonde om met Mooi Troues se lesers ‘n verlowing fotosessie wat in die Namibiese woestyn gehou was. Jacques en Marisa deel onder hoe hul op dié plek vir hul fotosessie besluit het. Die paartjie lyk dol verlief terwyl hul voetspore in die sand agter laat. Rol af en geniet die foto’s
Vertel ons van jul ontmoeting en die eienskappe wat julle na mekaar aangetrek het?
Dit was somertyd gewees. En daar was sommer tyd gewees om bietjie iets anders te doen as net sit en swot die dag op die Puk en eerder die Saterdag sonskyn te geniet. Die oplossing het homself gebied in die vorm van ‘n koshuis-aksie wat pot-en-pons beoordelaars benodig het. Ons het mekaar die eerste keer daar raak gesien, dit was nie lank of die geselskap het lekkerder geraak as die pot en die pons. Ons het goed saam beoordeel; smake en voorkeure gedeel, oomblikke en klein kykies gesteel. Marisa se sagte gees en blink oë het Jacques die meeste aangetrek, Marisa het Jacques se humor geniet en sy liefde vir die lewe het haar vinnig ingetrek.
Vertel ons hoe het julle verloof geraak?
Marisa is Jacques se Sonneblom-nooi. Sy het Sonneblomme gekry op haar gradeplegtigheid en sy is mal oor die kleur geel (sy het ook ‘n geel kombuisie) dit was dus die perfekte verskoning om onder die pretensie van ‘n paartjies fotosessie saam ons beste vriende (wat almal daarop in was) in ‘n Sonneblomland verloof te word. Die simboliek daaragter is ook dat ‘n sonneblom se gesig volg altyd die beweging van die son, en dit verlep daarsonder, ons verhouding het die Here se teenwoordigheid nodig soos ‘n sonneblom die son nodig het, om Hom altyd te volg waar ook al Hy ons mag lei.
Vertel ons die inspirasie vir die verlowing fotosessie?
Marisa kom van Namibië af en wou graag ‘n klein stukkie van die huis deel hê van die troue, omdat ons in Nelspruit trou waar Jacques vandaan kom. Ons albei is baie lief vir die natuur en het al baie avonture saam gedeel, waarvan een van ons gunsteling herinneringe so op Swakopmund se duine is terwyl die son stadig sak en die see saggies die sandduine vir oulaas besoek. Ons wou foto’s hê wat die natuurlikheid van ons verhouding se vriendskap en romanse goed uitbeeld en Augusta en haar kamera het dit vir ons moontlik gemaak!
Vertel ons wat is jul droom troue?
Ons droom troue is in die natuur. Dit moet natuurlik, maar steeds elegant wees. Ons droom van ‘n aand waar ons kan feesvier saam ons geliefdes en vriende wat al die pad saam ons gestap het. Ons droom van min tradisioneel, maar baie kosbare herinneringe, baie dans en nog meer lag. Ek en Jacquess sien albei baie uit om die huwelik te betree waar die Here ons vooruitgaan, terwyl ons een word in die natuurskoon van Nelspruit.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Grimering en Fotograaf: Augusta De Villiers