Boheemse Prinses gestileerde fotosessie

Dié gestileerde fotosessie is spesiaal vir paartjies wat vrye siele is en die reëls bietjie wil breek wanneer dit kom by hulle groot dag.  Onthou dit is julle troue so julle kan absoluut doen wat julle wil!  Verbeel jou net jy is trou tussen bome en jou tafel dekor se diep juweel kleure plof teen die omgewing.  Die diensverskaffers wat die fotosessie beplan en saam gestel het deel ook ‘n lys van advies aan paartjies wat graag met die inspirasie hul troue wil beplan.

Wie het die fotosessie gereël?


Na jare se droom oor so ‘n sessie het ek my voelers uitgesteek en op ‘n Facebook groep gevra of enige iemand belang sou stel om saam met my ‘n gestileerde boheemse sessie te beplan, Hunny Weddings het vinnig geantwoord en ons het begin gesels.  So ‘n rukkie later het ons mekaar ontmoet en al ons idees en konsepte bespreek en uitgeruil, ons was mal oor mekaar se idees.  Ek kon na die ontmoeting met gemoedsrus die res van die beplanning en koördinasie aan Hunny Weddings oorlaat.

Inspirasie vir die fotosessie?


Wat is nou mooier as ‘n bruid wat absoluut haarself is?  Boheemse bruidjies verteenwoordig nog altyd vir my iemand met ‘n vrye siel, wat nie anders kan as om hulself te wees nie.  Dit is waar die idee begin het, ek en Adeline van Hunny Weddings het toe saam met ons Ma’s, wat ook ons besigheids vennote is, vir ‘n koffie ontmoet.  Hier het ons saam op ‘n kleur palet besluit en ons kleur skema het heel onbepland in juweel-tone ontaard.  Ons idee was toe duidelik: Met die sessie wou ons die storie vertel van ‘n rojale boheemse bruid, tydloos elegant, tog ongebonde aan reëls en regulasies.  Ons hoop dat ons deur hierdie sessie vir paartjies wys dat hul troudag nie tradisioneel hoef te wees nie.

Hoekom is die span diensverskaffers gekies om saam te werk?


Met die soektog na verskaffers om deel te wees van die fotosessie was ek, Maxine Vermeulen, asook die dames van Hunny Weddings opsoek na verskaffers met ‘n werklike passie vir troues.  Ons het gesoek na mense wat ons visie deel en saam kon droom oor ‘n boheemse fantasie konsep.  Elke diensverskaffer wat gekies is om saam te werk was nie net top trou verskaffers nie, maar absolute hartsmense met wie ons ‘n pad kon stap.

Wat was vir jou die spesiaalste deel van die fotosessie?


Dit was so spesiaal om te sien hoe iets wat eens net ‘n idee was ‘n realiteit word, te danke aan die samewerking en vrygewigheid van almal wat betrokke was by hierdie sessie. Toe ek uiteindelik agter my rekenaar gaan stil sit om die foto’s te redigeer, was ek absoluut sprakeloos en oorlaai deur emosies van dankbaarheid dat ek die geleentheid gegun was.

Advies wat aan paartjies gegee kan word wat die inspirasie wil volg?


Hier volg so ‘n paar wenke vir paartjies wat hierdie inspirasie wil volg:

  • Juweel kleure is noodsaaklik om hierdie tema te maak werk, dink aan Smaraggroen, diep Robyn, Ametis, Geel Topaas en natuurlik GOUD!
  • Blomme, blomme en nog meer blomme! Wat is meer feestelik as ‘n tafel propvol blomme?
  • Dra juwele gepas vir ‘n Koningin, groot oorbelle en ‘n boheemse kroontjie vertoon pragtig.
  • Persiese matte en kerse doen wonders om ‘n imperiale tog boheemse gevoel te skep.
  • ‘n Bruid kan beslis nie verkeerd gaan met ‘n donker rooi lip nie.
  • Sluit ook oudhede, soos vintage gekleurde glase in.
  • Laastens skrap alle reëls en beplan ‘n troue wat eg aan julle is.

[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]