Willem & Chanel se selfdoen buite troue

Hierdie selfdoen troue het in Bloemfontein plaasgevind en die paartjie was baie hard aan die werk en vasberade om meeste elemente van hulle spesiale dag self te doen en te verskaf.  Met Roosgoud as hulle hoof kleur skema wou hulle ‘n moderne gevoel hê, maar steeds aardse dele van die natuur ook in bring.  Hulle het hulle spesifieke venue gekies weens die feit dat die bos-kerk, die diere, die vloeiende watervalle en die ruim saal perfek was volgens hulle smaak en voorkeure.  Chanel se ring was self deur Willem ontwerp, in roosgoud natuurlik en  dit dra beslis by na die diepte van die sentimentele waarde van haar troupand.  Gaan kyk gerus die res van die artikel om nog selfdoen idees en inspirasie vir jou troudag raak te lees.

Julle troudatum en julle ouderdom op julle troudag?


12 Mei 2018 was ons troudatum.  Chanel was 26 & Willem 31.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons het 17 September 2012 ontmoet.  Willem het by ‘n ouditeursfirmas gewerk hier in Bloemfontein en ek het toe ook daar begin werk.  Ek sal daai dag wat ons ontmoet het nooit vergeet nie! Ek het sy hand geskud en toe vir die vrou wat saam my gewerk het gesê: “Met die man gaan ek trou.” Ons het vir ‘n paar jaar net oor een weer gekuier.  In 2014 is ek gekies as lugwaardin by Emirates en ek het Dubai toe getrek.  Na ‘n paar maande het Willem vir 2 weke by my kom kuier in Dubai.  Daar het die liefde net vlam gevat!  Die aand van 22 April 2014 het ek ‘n Facebook versoek gekry: “Willem van Zyl “requested a relationship.” En daar was dit! Ek en die ridder op sy wit perd was in ‘n verhouding.   Ek het nog so 2 maande in Dubai gebly. Daarna het ek toe huistoe gekom het en ons net al hoe meer lief geword vir mekaar.

Hoe het julle verloof geraak?


Ons is Januarie 2018 met vakansie see toe en daar word die groot vraag toe gevra.  Ons het by ‘n baie oulike gastehuis gebly en ek was besig om klaar te maak want ons moes uit teken om na die volgende plekkie te gaan.  Willem het my gevra of ek vir hom ontbyt kan warm maak, toe ek die mikrogolf oopmaak toe staan my pragtige ring in sy boksie in die mikrogolf!!  Net daar het hy op sy knieë gegaan.

Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.


Ons fotograaf Tania, is definitief een van die beste in Bloemfontein, ons ken haar ook persoonlik so ons was van die begin af baie gemaklik met haar.  Ons het nie ‘n videograaf gehad nie.

Vertel ons meer van jul ringe.


Chanel se ring is self deur Willem ontwerp, maand na maand is eers die regte vorm steen gesoek, en toe die ring… Roosgoud natuurlik!  Willem se ring is gepas en toe dadelik besluit hy hou van die Platinum.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Ons het so 100 gaste gehad en begroot vir so R200 000 – Ons het darem net onder dit weggekom met die dat ons meeste goedjies self gedoen het.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Geniet, geniet, geniet!!!  Dit gaan so gou verby dat mens elke liewe dingetjie moet geniet.  Ons was gelukkig om meeste van die goed self te kon doen en ek dink dit is nog advies, doen soveel self as wat julle kan – Dit is wat dit lekker maak, dit is wat dit julle troue maak!

Wat sou julle verander indien moontlik?


Ons sou ‘n videograaf gekry het om die spesiale oomblikke vas te vang, ons sou ook baie graag ‘n gin bar wou doen.  Verder was alles perfek.

Wat was die merkwaardigste oomblik van die aand?


Net dat alles so perfek was, geen maar geen twyfel dat ons dit weer sal doen nie!  Die merkwaardigste oomblik moes wees toe oupa die tafelgebed gedoen het.  Hy en ouma is al 51 jaar getroud en so goeie voorbeeld vir ons almal.

 

Vertel ons meer van jul Wittebrood


Ons was Kruger Wildtuin toe vir so week en ‘n half.  Met die dat ons baie self gedoen het was die rus met die natuur en stilte net wat ons nodig gehad het.  Jacuzzi, sjampanje..  Dit was die lekkerste vakansie ooit!  Ons het so baie plekke gesien in Suid Afrika wat mens nie eers weet bestaan nie.

 

 

Hoe het julle die venue gekies?


Venue kies was so maklik!  Ons wou aanvanklik by Moolmanshoek trou, maar oor ons vriende en familie so ver bly het ons besluit op ‘n plek hier in Bloemfontein.  Ons het net een Saterdag na so 6 venues gaan kyk en toe ons by A-Lodge instap, toe weet ons dadelik dis perfek! Die bos-kerk, diere, vloeiende watervalle en die ruim saal was perfek.

Wat was die inspirasie agter jul dekor?


My liefde vir Roosgoud en die natuur.  Ons is so gelukkig om ‘n ma soos sy te hê.  Sy het ‘n bloemiste hier in Bloemfontein en ons het haar net gelos. Sy het van die begin af presies geweet wat ons sou wou hê.  Ek wou modern hê maar ook bietjie ‘n aardse gevoel.  Die Roosgoud van my ring moes ook deel wees van die kleurskema.

[section=Klik hier vir diensverskaffers]

[endsection]