Nils & Anrika se plaastroue

.Nils en Anrika se selfdoen plaastroue in die Oos-Kaap was ʼn reuse sukses. Die feit dat Anrika se pa hierdie twee getrou het, het daardie dag net nog meer spesiaal in hulle oë gemaak.  Eenvoud was hulle albei se hoofdoel.  Die merkwaardigste oomblik van die dag vir hulle was egter toe hulle sit en mekaar se hand vas hou, deur die saal kyk en besef dat hulle trou perfek is! Hulle kan dit boonop saam met die mense wie hulle die liefste het spandeer.

Die fotograaf het ook gesorg dat die paartjie dié dag se herinneringe verewig saam hul kan dra deur die spesiale oomblikke op kiekies vas te vang.   Hulle wou hulle troue intiem en nie oorbodig gehad het nie.  Hulle het gebruik gemaak van hulle vriende en familie om hulle uit te help met dekor, konfetti en om ʼn video te neem van almal se spesiale toesprake.  Ons hoop julle geniet die artikel.

Wat was julle troudatum en die ouderdom van die paartjie op die troudag?


Ons het op 5 Mei 2018 getrou.  Anrika was 28 jaar oud en Nils 30 jaar.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons het by die konstruksie firma waar ons albei werk mekaar ontmoet.  Ons het eers vir verskillende divisies in die maatskappy gewerk, mekaar ontmoet en begin gesels.  Ek is genooi vir ʼn koppie tee by Nils se huis, en dit is waar alles begin het.  Ek het oor geskuif na dieselfde divisie as Nils en om mekaar elke dag te sien het ons nader aan mekaar gebring.

Hoe het julle verloof geraak?


Ons het vir ʼn heerlike Saterdag oggend piekniek gegaan waar ons vonkelwyn en vingerhappies geniet het.  Na dit het Nils gesê dat hy vir ons nagereg gebring het.  Ek was nogal verbaas aangesien hy nie normaalweg aan die soetgoed sou dink nie.  Hy het die bakkie uitgehaal, oopgemaak, en die ring was daar binne.  Beste poeding ooit!

Wat sou julle verander indien moontlik en wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Ons sou meer geëet het!  Die aand is so besig en die senuwees knaag maar, so mens eet nie baie nie.  Maar die kos was uit die boonste rakke, en as ek reg onthou was daar 6 verskillende tipes nageregte.  Dink aan wat regtig belangrik vir julle as paartjie is, en waaroor die dag regtig gaan.  Moenie tyd en geld mors op goed wat nie vir julle belangrik is nie,en ook nie om mense te probeer beïndruk nie.

Vertel ons meer van jul ringe?


Anrika se ring – Ons het gaan ringe aanpas by elke juwelier wat ons kon kry, en daar was iets wat uitgestaan het.  Ons het toe besluit om een te laat maak en iets daaraan te verander om dit uniek te maak.  Nils se ring – Ons het verskeie ringe gaan aanpas, maar Nils hou daarvan om met sy hande te werk, so ons was bang om vir sagter metale te gaan.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Ons het baie maklik in die begroting gebly.  Die rede hiervoor is die feit dat ons op die platteland getrou het en baie van die goed self gedoen het.  Afslag en geskenke is vir ons gegee vir verskillende goed van die rok (wat ons gehuur het), tot die skoonheidsbehandeling ens.  Ons beplan ʼn oorsee vakansie in Desember en dit was ook motivering om nie onnodig geld uit te gee nie.  Ek en Nils het die belangrikste goed geïdentifiseer om nie af te skeep op dit en na die tyd spyt is nie.  Ons het wonderlike familie en vriende wat met baie goed gehelp het.  Ons konfetti was herfsblare wat my ma en tannie van die Kaap bymekaar gemaak het.  My een niggie (Marilet) het ons koek gebak, en my ander niggie (Jana) het my hare gedoen.  Al die klein goedjies het ons vreeslik baie geld gespaar.

Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf


Ek (Anrika) het self ʼn fotografie agtergrond en het altyd gedink ek gaan sukkel om ʼn fotograaf vir my eie troue te kies.  Ek het vir Tania Allen bespreek nog voor ek haar ontmoet het.  Dit wys ek het iets in haar en haar werk gesien waarvan ek gehou het en het tevrede met my keuse gevoel.  Sy laat ʼn mens gemaklik voel want dit is nie die maklikste ding om model te speel as jy nie gewoond is daaraan nie.  Sy het so borrelende persoonlikheid en laat mens voel ons ken mekaar al jare.

Wat was die merkwaardigste oomblik van die aand?


Die merkwaardigste oomblik was om te sit en mekaar se hand vas te hou, deur die saal te kyk en te besef, dit wat ons nou hier het, is perfek, en boonop saam met die mense vir wie ons die liefste is.  My pa het ons getrou en my Tannie Lynne het die diens gelei.  Dit is waardevolle herinneringe wat ons ons hele lewe saam met ons sal dra en koester.

Wat was die inspirasie agter jul dekor en hoe het julle die venue gekies?


Ons albei hou van eenvoud (‘Minder-is-Meer’).  Ek wou nie onnodige dekor en blomme koop wat mens na die tyd weggooi en in die pad is wanneer gaste lekker oor en weer die tafel wil kuier nie.  Ons het gekies om vetplantjies in blikkies te plant, kerse en paraffien lampe vir ʼn lekker atmosfeer, en boomstompe.  Die tafels het wit tafeldoeke oorgehad, en elke sitplek het ʼn handgemaakte plekmatjie gehad met Ivy blare om.  Alles was baie natuurlik, net soos ons daarvan hou.  Die dekor was vir ons van die minder belangrike afdelings waaroor die dag vir ons gegaan het.

Ek, Anrika het groot geword in Steynsburg in die Oos-Kaap.  My ouers bly steeds daar, en my pa is Landdros op die dorp.  Steynsburg is ʼn klein dorpie en het nie juis venues nie.  Klaudia en Charles Viljoen is die gasvrou en -heer op Harmonie (hulle plaas) waar hulle een keer ʼn maand ʼn plaas-mark vir die gemeenskap hou.  Klaudia Viljoen en Rench Miller hou ook een keer ʼn maand ʼn buffet ete op ʼn Sondag waar mens aan die lekkerste kos kan smul.  Ons het besluit dit is die regte mense om die kos vir ons troue te voorsien, en watter beter plek as waar hulle dit gewoonlik doen.  Ons troue is die eerste een wat op hulle plaas gehou is, maar verseker nie die laaste nie.  Tannie Klaudia en Tannie Rench het ook die hele saal vir ons opgemaak en die plekmatjies gemaak.

Vertel ons meer van jul Wittebrood


Ons het ʼn paar dae Knysna toe gegaan net om onsself te gaan geniet en af te skakel na al die geskarrel/beplanning. Ons het besef ons het die groot stap geneem en is nou getroud.  Daar is so baie om in en rondom Knysna te doen. Van in die bos loop, daardeur ry, die sonsondergang bootrit, ens.  Ons het vis en skyfies by elke plek geëet en bier geproe by ʼn brouery!  Dit was eerlik om op die strand te loop en teen sononder vonkelwyn op die strand drink. ʼn Baie lekker aktiwiteit was  Roofvoël rehabilitasie sentrum besoek.  Dit was ʼn heerlike wegbreek!  Die rustigheid en natuur was hemels.

[section=Klik hier vir diensverskaffers]

[endsection]