Ek is ʼn student by die Aleit Academy en ek het ʼn 8 week internskap by Mooi Troues voltooi. My projek was om ʼn gestileerde fotosessie te beplan en uit te voer. ʼn Industriële fotosessie met rou baksteen mure, olyf takke, ʼn Olyf Groen kleurskema en spatsels van Goue dekor hier en daar was die hoof uitkyk van my fotosessie. Ek het die rowwe gevoel probeer beklemtoon deur nie te veel te fokus op die verkeerde aspekte nie en om so ver as moontlik weg te bly van die ‘perfekte, skoon, netjiese’ idee.
ʼn Merkwaardige groep diensverskaffers het my gehelp om die dag ʼn sukses te maak. Ek is vreeslik bly ek kon die geleentheid gehad het om saam met hulle iets kreatief en uniek te ontwerp. Na 8 weke se beplanning, harde werk en organisering het my konsep uiteindelik gerealiseer! Lees gerus die res van die artikel om so tussen deur die foto’s meer uit te vind oor hierdie gestileerde fotosessie asook wat my inspirasie was.
Wie het die fotosessie gereël?
Ek, Lienka de Wet, doen ‘n 8 week internskap by Mooi Troues en hulle het my die opdrag gegee om ‘n gestileerde fotosessie te reël met ‘n industriële tema. Dit is waar my inspirasie my dadelik getref het om ‘n rou, afgeleë en industriële gebou te gebruik wat die gevoel goed genoeg op sy eie sal oordra. Maastricht Wines is ‘n wynplaas net buite Durbanville en hulle besit ‘n gebou op die plaas wat perfek geskik was vir my tema. Annelize Louw het vir my die toestemming gegee om hulle venue op die plaas te gebruik en sy was vreeslik behulpsaam. Hulle is tans besig om die gebou op te knap en in ‘n wynproe lokaal te omskep. Sy was ook op die dag self daar en het kom kyk waarmee ons vorendag gekom het. Ek dink steeds dit was die perfekte ligging vir my fotosessie gewees.
Inspirasie agter die fotosessie?
My eerste gedagte wat by my opgekom het toe ek gehoor het my projek vir Mooi Troues is ‘n gestileerde fotosessie, het ek onmiddellik aan Olyf Groen, leer aspekte en Olyf takke as my hoof dekor elemente gedink. Ek wou dit as my hoof kleur skema gehad het en so het ek toe later besluit om ‘n tikkie goud by te voeg. Ek wou die rou idee van industrieel behou en nie teveel dekor elemente byvoeg nie, daarom het ek baie kerse vir die natuurlike lig gebruik en die donker, baksteen gevoel wat die gebou af gegee het nie probeer verbloem nie. Oh Yay het die perfekte skryfbehoeftes vir my ontwerp en verskaf.
Wat was vir jou die spesiaalste deel van die fotosessie?
Ek dink die spesiaalste oomblik vir my was toe ek die trourok aangetrek het op die dag. Ek het ongelooflik spesiaal in daardie prentjiemooi rok gevoel. Didi De Wit van Didi Couture is sonder twyfel ‘n kenner as dit kom by rokke maak. Sy het vir my die perfekte rok gekies vir hierdie gestileerde fotosessie en sy het presies geweet watter tipe trourok hierdie fotosessie benodig. Sy het gevoel dat dit nie net ‘n doodgewone trourok kort nie, maar wel een met ‘n ‘houding’ en ‘n indrukwekkende idee sou skep.
Indien jy opsoek is na die perfekte trourok moet jy haar beslis oorweeg. Sy sal sonder twyfel jou ervaring en die opbou na jou spesiale dag ʼn fees maak! Haar hele span is te kosbaar en wil net hê jy moet op jou beste lyk en voel vir jou groot dag.
Agter die skerms inligting:
Alhoewel die proses van hierdie fotosessie nie seepglad verloop het nie, was dit op die ou einde ʼn reuse sukses. Die feit dat ek nog ʼn student is het teen my guns getel. Min mense was bereid om vir my as student ʼn gaping te gee. Hulle was skepties en skrikkerig om produkte vir my te leen, maar indien iemand in ʼn hoër posisie hulle weer gekontak het en vir presies dieselfde guns gevra het, was hulle meer as bereid om te help. Dit was skrikwekkend gewees hoe baie mense gepla was oor die feit dat daar geen betaling betrokke was nie en hulle slegs genoem sal word en publisiteit sal ontvang.
Daar was talle diensverskaffers wie ek genader het wat nie eers terug gekom het na my toe nie. Ek was ook vele kere op die laaste nippertjie in die steek gelaat. Ek moes self my blomme, die koek, my hare en my grimering doen, omdat my diensverskaffers my nie meer kon help nie. Nog ʼn porbleem was dat ek vreeslik gesukkel het om iemand met ʼn bakkie te kry om my tafel en stoel te vervoer. Meeste bakkies was te klein of nie beskikbaar gewees nie. Ek moes toe ʼn vervoer maatskappy betaal het vir die aflewering. Om nie eers te praat van die uitdaging om ʼn Olyfgroen pak vir Hugo op te spoor nie! Nadat ons 7 winkels besoek het, het ek uiteindelik die regte kleur broek in die hande gekry. Ek het nooit besef dat leer dasse so skaars kon wees nie! Een van my vriende het vir my sy leer das geleen en dit was perfek gewees.
Hoekom is die span diensverskaffers gekies om saam te werk?
Dit was vreeslik uitdagend om mense te kry wat bereid was om my uit te help, want ek het geen begroting gehad nie. Ek moes alles geborg gekry het en het dus geen fondse gehad om vir hulle diens of produkte te bied nie. Gelukkig het ek op ‘n vreeslike intieme, behulpsame en ondersteunende groep diensverskaffers af gekom. Hulle was meer as bereid om uit hulle pad uit te gaan vir my.
Bibette Prins van Plan B Vintage het vir my die asemrowende dekor elemente geleen. Sarina Chambers van Nerf Af kon vir my die perfekte rustieke tafel verskaf.
Caroline Schreuder van Dress Rail het vir my die beeldskone goue aandrok geleen. Laastens, maar beslis nie die minste het my fotograaf, Gunther Schubert (stigter van Mooi Troues) die ongelooflike foto’s geneem.
Hierdie groep diensverskaffers het beslis ʼn groot aandeel in die sukses van my projek gehad. Sonder hulle sou ek nie dit kon voltooi het nie. Hulle was meer as bereid om my uit te help en hulle was vreeslik ondersteunend.
Advies wat aan paartjies gegee kan word wat die inspirasie wil volg?
Moenie bang wees om anders as die res te wees nie. Om dieselfde neigings te volg as die res is vervelig! Dit maak nie die tema of idee wat oorgedra word uniek aan julle as ‘n paartjie nie. Gebruik elemente wat julle persoonlikhede uitbeeld en moet nie weg skram van sterk dekor of donker kleure nie. Maak gedurig kontak met jou diensverskaffers om op hoogte te bly van die verloop van dinge. Wees waaghalsig en vat ‘n kans! Wie nie waag nie, wen nie.
[section=Klik hier meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Venue: Maastricht Wines
- Trourok: Didi Couture
- Aandrok: Dress rail
- Konsep: Lienka de Wet
- Blomme: Lienka de Wet
- Dekor: Plan B Vintage , Nerf – Af Vintage en Antiek
- Stilering: Lienka de Wet & Jeanie de Wet
- Skryfbehoeftes: OH YAY
- Hare en Grimering: Lienka de Wet
- Modelle: Lienka en Hugo
- Fotograaf: Günther Schubert