Luan & Marlize se Kaleo Gasteplaas-makietie

Luan en Marlize het die dag van hul drome gehad!  Kompleet met ‘n groot dansvloer vir laataand makietie en al hul vriende om die spesiale dag ook te sien afspeel.  Die groot dag is by Kaleo Gasteplaas venue gehou, wat ‘n plaas gevoel aan enige geleentheid gee.  Die dekor is gekies volgens ‘n kleur-palet van sagte pienke, olyf groen en wit.  Die dekor opsies is klassiek en net genoeg om steeds fokus op die venue se skoonheid te plaas.  Die paartjie kon ook pragtige foto’s neem saam met die outydse Volkswagen Minibus en natuurskoon in die omliggende area.

Hierdie venue sal perfek wees vir paartjies wat graag ‘n ontspanne en natuurlike gevoel wil hê gedurende die dag.  Die fotograaf wat ontspanne foto’s van die paartjie en hul gevolg geneem het, verseker ook dat daar heelwat fotografie van die venue is vir jou om te besluit of die venue dalk jul keuse sal kan wees.  Geniet die foto’s en let op al die klein details wat die dag besonder spesiaal gemaak het.

Wat was jul troudatum en hoe oud was julle albei op dié dag?


ONs troue was op die 24ste Maart 2018. Luan was 26 en Marlize 25 gewees.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


As tweede jaar studente op Stellenbosch.  Ek en my vriendin was laat vir ʼn klas.  Al sitplek wat oop was, was langs Luan en sy vriend.  Daarna is ons na die volgende klas waarna ek en my vriendin wéér laat was omdat ons langs die pad koffie gekoop het.  Weer was al sitplek langs Luan en dieselfde vriend oop.  Ons vier het goeie vriende geword en uiteindelik ook kêrel en meisie.

Hoe het julle verloof geraak?


My ouers kom jaarliks vir die Cape Argus, waar ons dan saam vir die naweek in Melkbos tyd spandeer. Luan het beplan om ook die Argus te ry, maar het oornag ʼn maagvirus opgedoen en was heel Saterdag in die bed. Laat middag besluit hy toe om te kyk of “vars” lug op Melkbos se strand, hom nie beter sal laat voel vir die volgende dag se resies nie.  Ek het gedink dit maak nie sin om te gaan rondloop as mens so siek voel nie.  Uiteindelik is ek saam en na ʼn rukkie se stap op die strand, het hy die groot vraag gevra.

Wie was jul fotograaf en videograaf gewees?


Karien van Karien Fotografie was ongelooflik. Sy is so ʼn spontane mens met die mooiste en sagste geaardheid.  Haar werk is sag en natuurlik en het sy elke oomblik so mooi vasgevang deur ons heeltyd gemaklik te laat voel.

Ons het nie woorde vir Pieter van White Jasmine Films nie.  Sy werk is absoluut fantasties en baie oorspronklik.  Ons het daarvan gehou dat hy ons spesiale dag op so ʼn unieke manier as ʼn storie kon oor te vertel en dat hy elke fyn detail so mooi kon vasvang.

Vertel ons meer van jul ringe


Ek het ʼn prentjie in my kop gehad en dit met Luan gedeel. Hy het dit toe laat maak as verwysing, by ʼn juwelier.  Dit is ʼn geronde diamant met klomp klein diamantjies rondom.  Die ring is roosgoud en regtig baie spesiaal.  Luan se ring is by dieselfde juwelier gemaak.  Die basis aan die binnekant is van roosgoud met ʼn hout omhulsel en ʼn gedeelte roosgoud aan die buitekant.

Waarheen was julle vir jul wittebrood gewees?


Hier was Luan alleen verantwoordelik en het alles so mooi beplan.  Die verrassing is tot op die lughawe gehou toe ek uiteindelik uitvind ons gaan Bali toe.  Elke oomblik was ongelooflik.  Die eerste ses aande het ons in die mooiste The Haven Suites tuis gegaan.  Daarna is ons vir die volgende ses dae na Ubud, waar ons by The Loka Ubud tuis gegaan het.  Ubud het gesorg vir meer rustigheid en het ons elke oomblik van die mooi natuurskoon geniet.  Elke dag was vol verskillende uitstappies en baie skemerkelkies met mooi uitsigte.

Hoe het julle die venue gekies?


Ons albei hou van dans en wou graag ʼn groot dansvloer in die middel gehad het sodat al ons familie en vriende saam met ons die aand kon vier deur lekker te langarm.  Kaleo Gasteplaas bied ook genoegsame verblyf vir gaste en is die natuurskoon iets besonders.

Wat was die inspirasie vir jul dekor?


Ons hou van sagte en natuurlike kleure en wou daarom ʼn elegante effek skep met die sagte pienk, olyf en wit kleure.

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag?


Toe ons in stap by die venue as wettig egpaar, omring deur ons opgewonde familie en vriende.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


+- R140 000. Ons het geweet troues is baie duur, daarom het ons baie kwotasies aangevra en ons opsies mooi oorweeg.  Ons het ook vooraf besluit op dit wat ons graag wil hê en wat vir ons as paartjie baie belangrik is en het dan probeer om nie minder of meer by te voeg nie.

Wat sou julle verander indien moontlik?


Ons dag was iets besonders en onvergeetlik, en daar is nie iets wat ons sou wou verander nie. (Dalk om vir so klein rukkie as gaste by ons eie troue te kon wees)

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Moenie kyk na wat huidiglik mode is nie.  Julle troue moet julle as paartjie se menswees uitbeeld, of julle nou hou van swart, goud of geel. Geniet die beplanning, moenie dat kleinhede jou ontstel nie.  Neem baie foto’s  en video’s soos die dae en maande tot jul groot dag verby gaan – dit is lekker om selfs terug te kyk hoe mens gelyk het toe mens die spyseniers gaan sien het oor die kos of toe mens gaan soek het vir manlief se trou sokkies.  Dan natuurlik ook – neem alles in, geniet elke oomblik, dit gaan so vinnig verby.

    Artikel Diensverskaffers:

    [section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers:

    [endsection]