Juan & Olivia se piekniek verlowing fotosessie

Hierdie pragtige verlowing fotosessie kan maklik misgis word vir iets uit ʼn tydskrif wat beplan is deur professionele koördineerders.  Juan en Olivia wou graag ʼn ontspanne fotosessie beplan in die Theewaterskloof Dam.  In die fotosessie is die mooi na vore gebring in die waterskaarste wat die Wes-Kaap die afgelope paar jaar getref het.

In dié artikel kan jy meer lees oor hoe hulle besluit het wat om deel te vorm van die dag.  Juan het sommer self die “Teepee” tent gebou wat lekker hoogte aan die area gegee het.  Al die foto’s is geneem tydens die populêre “Goue-uur” wat die fotosessie romanties en sagter laat lyk aangesien die son nie daardie sterk lig dan uitstraal nie.  Kyk gerus onder om meer van die pragtige fotosessie te sien en meer te lees oor hoe die paartjie as ʼn vakansie romanse begin het en daarna ontwikkel het in ʼn pragtige liefdesverhaal.

Hoe het julle ontmoet en watter eienskappe maak julle aangetrokke tot mekaar?


In Desember 2011, het ons vlugtig ontmoet op een van ons altwee se gunsteling vakansie dorp, Jeffreysbaai. Ons is aanmekaar voorgestel deur Olivia se nefie. In Desember 2012, weereens in Jeffreysbaai, het ons vir die tweede keer ontmoet en van daar af nooit opgehou gesels nie. Dit was ‘n vakansie romanse wat ontaard het in liefde.

Eienskappe wat ons na mekaar aangetrek het was ons altwee se lus vir die lewe en ons positiewe energie.  Dit was vir ons altwee lekker om vir ure te gesels en mekaar beter te leer ken.

Hoe het julle verloof geraak?


Ons verlowing was ‘n besonderse spesiale dag wat Juan haarfyn beplan het. Dit was soos ‘n skattejag wat vir Olivia op ‘n “trip down memory lane” geneem het na al die plekke wat ‘n baie spesiale betekenis het vir haar in haar lewe. By elke stop was daar ‘n brief en ‘n blom, deur ‘n persoon na aan Olivia se hart, aan haar oorhandig.  By die laaste stop, met die mooi Franschhoek berge in die agtergrond, het Juan vir haar gewag aan die anderkant van ‘n bruggie en daar het hy op sy knieë gegaan toe sy daar arriveer.  Dit was ‘n dag vol van verskillende emosies en ‘n dag wat vir ons sal uitstaan vir die res van ons lewe.

Wat was die inspirasie vir jul fotosessie gewees?


Die verlowings fotosessie was geneem in die (droë) Theewaterskloofdam met die Franschhoek berge in die agtergrond.  Dit was ‘n spesiale plek waar Olivia as kind baie tyd deurgebring het en saam met haar pa en geseil het op die dam.  Ons is baie gemaklike en natuurlike mense en wou hê die fotos en die hele opset moes dit weerspieël.

Juan het self die ‘tee-pee’ met stokke gebou met ou boomtakke wat daar rondgelê het. Met die hulp van ons fotograaf, het ons self die blomme, wat ons by plaaslike blommeverkopers in Villiersdorp gekry het, en die dekor, met items vanuit Olivia se ma se huis, gedoen.

Wat is julle droom troue?


Ons droom troue moet net weerspieël wie ons is. Dit is ook vir ons belangrik dat ons gaste hulself geniet.  Dit moet ‘n gemaklike atmosfeer wees vir almal. Die kos moet smaaklik wees, die kroeg vol en die musiek goed sodat ons kan dans tot die son opkom.

[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]