Viv en Rochel se selfdoen plaastroue word vandag met julle lesers gedeel. Die paartjie het klein besonderhede inkorporeer in hul dag; Soos onder andere die hout deurraam waardeur die bruid gestap het na die seremonie area en palet verhoog waar hulle as paartjie getrou is. Hulle wys regtig dat dit nie nodig is om ‘n plaas se geld uit te gee op jou groot dag nie. Hulle wys ook baie goed hoe om jou droom dag te skep en by jou begroting te hou! Albei die seremonie en onthaal area was stylvol en klassiek, met spatsels kleur net soos die bruid dit wou hê. Rochelle het ook die slim opsie geneem en ‘n romp by haar trourok geneem wat later die aand verwyder kon word om te verseker sy geniet die aand net soveel soos haar gaste. Die foto’s vertoon pragtig met die helderkleurige bruidsmeisies rokke en trourok teenoor die neutrale kleure van die veld. Die avontuurlustige paartjie vertel ook in die artikel oor hoe hul verlowing amper in die wiele gery is deur digte mis. Ons hoop julle is net so mal oor hierdie troue soos wat ons is. Lekker lees!
Wat was jul troudatum en hoe oud was julle op dié dag?
Ons het gertou op die 24ste Maart 2018. Viv was 27 en Rochél 28 jaar oud op hul troudag.
Hoe het julle mekaar ontmoet?
Ek en Viv het albei in Oos-Londen gaan werk na universiteit, Viv het van Stellenbosch gekom en ek van Bloemfontein. Vriendinne het my een Saterdag aand oortuig om na ‘n braai te gaan van mense wat hulle die vorige naweek in Transkei ontmoet het. Min het ek geweet dat ek by die braai my trouman sou ontmoet.
Hoe het julle verloof geraak?
Ons gaan gereeld naweke weg om nuwe dorpies en plekke te ontdek. Viv het ‘n verrassings naweek na Kaleo Gasteplaas naby Dorp-op-die-berg gereël. Die Saterdag oggend van 01 Julie 2017 is ons vroeg op om te gaan stap, maar dit was yskoud en die mis was so dig dat ons nie vêrder as die stoepie van ons huisie kon sien nie – later die oggend het ons tog die koue aangedurf om die plaas te gaan ‘verken’ toe Viv my verras met ‘n sjampanje ontbyt en my ouma se verloofring in die mooiste kloof op die plaas.
Vertel ons meer van jul ringe
Ons het verloof geraak met my ouma, na wie ek vernoem is, se verloofring. Die maand wat ons verloof geraak het, was die ring 60 jaar oud. Die ring het baie detail en is van witgoud gemaak. Viv het ook die diamant van sy ouma se verloofring gekry. Ons het besluit om die diamant in ‘n eenvoudige roosgoud trouring te set en het hierdie ring die dag van ons troue gebruik. Ek is ‘n bevoorregte bruid met twee trouringe!
Viv se ring is ‘n eenvoudige 7mm “Titanium” ring met ‘n geborselde afwerking.
Wie was jul fotograaf en videograaf gewees?
Anneke Human van Seven Quarters Photography het saam met my grootgeword in die Vensterstad omgewing. Ons was saam van kleuterskooltyd tot ons jare later in dieselfde skool gematrikuleer het. Dit was so lekker om so ‘n goeie vriendin te hê wat die foto’s kon neem.
Omdat ons mekaar al so lank ken het sy presies geweet waarvan ek hou en wat sy moet afneem. Sy het elke spesiale oomblik so mooi vasgevang, soos toe ek vergeet om ‘Ja’ te sê voor die kansel en almal uitgebars het van die lag.
Wat was die merkwaardigste oomblik van die dag?
Die stoor waar die seremonie plaasgevind het kyk uit oor die Gariepdam. Tydens die seremonie het ‘n massiewe pers donderwolk oor die dam gekom wat ‘n sterk wind en ‘n bui reën gebring het. Nà die vinnige bui reën het die wind verdwyn en ‘n dubbele reënboog het bo die dam agtergebly. Dit was so ‘n spesiale oomblik.
Wat sou julle verander indien moontlik?
As ek werklik iets kon verander sou ek die troue ‘n week-lange partytjie gemaak het. Andersins was als perfek!
Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?
Eerstens, geniet elke oomblik van die beplanning en die dag. Dit gaan werklik vinnig verby. Tweedens, besluit as ‘n paartjie vooraf wat vir julle belangrik is op die dag. Vir ons was dit die fotograaf, kos, musiek en goeie wyn. Spandeer op hierdie items.
Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?
Die begroting was R80 000.00 vir 150 gaste. Ons het gelukkig nie venue kostes betaal nie aangesien die troue op my ouer-plaas was en die wyn was deur Viv se ouers geskenk.
Voor ons begin beplan het aan die troue het ons besluit dat die fotograaf, uitrustings, kos en musiek vir ons belangrik is by die troue. Hierdie was ons vier grootste uitgawes. Vêrder het ons gesny aan klein goedjies wat groot uitgawes kan word, soos geskenkies vir die gaste, baie blomme en drukwerk soos menus en programme by die kerk.
Omdat die venue so vêr van enige groot stede is, het ons probeer om soveel moontlik van plaaslike diensverskaffers gebruik te maak wat ons baie op reiskostes gespaar het.
Hoe het julle die venue gekies?
Viv het amper in dieselfde asem as wat hy my gevra het om te trou gesê hy sal graag op my geboorteplaas die troue wil hou. Gelukkig het my ouers al vir die afgelope 5 jaar ’n gastehuis op die plaas. Toe my boetie verloof geraak het en kort voor my getroud is, het hulle besluit om ‘n venue op die plaas te begin.
Die besluit was maklik, ek moes net my Pa oortuig om sy stoor te omskep in ‘n seremonie lokaal…
Wat was die inspirasie vir jul dekor?
Eenvoudig, veldblomme en baie kleur. Ek het my hart verloor op die geel Billy-Balls wat grootliks die inspirasie agter die kleurskema was. Die res van die blomme was ‘n mengelmoes kleure van fynbos, krisante en veld-bosse om soos ‘n wilde veld vol blomme te lyk. Die swart kandelare het my pa gemaak en die res van die dekor is ‘n versameling van tweedehandse glas-potjies en blakers wat ons tussen die familie en vriende bymekaar gemaak het.
Was julle met wittebrood gewees?
Viv het vir lank geheimsinnig aan ons wittebrood beplan, maar een dag het Google Calender amper sy geheim weggegee toe die vliegtuigkaartjies op sy kalender sinkroniseer. Bevrees dat ek dit dalk kon gesien het, het Viv my een aand vertel dat ons op pad Viëtnam toe is. Maar vêrder kon ek niks meer uit hom kry nie.
Viëtnam was ‘n ongelooflike ervaring. Afgesien van die verkeer, wat ‘n besienswaardigheid op sy eie is, is die mense vriendelik, hardwerkend en geduldig, en die kos is fantasties. Ons het Hanoi verken en straatkos toere gedoen, in Sapa het ons die rysvelde gaan verken. Daarna is ons op ‘n twee dag bootrit tussen die 1969 eilande in Halong Bay en die vakansie is afgesluit in Hoi An waar ons historiese stede verken het.
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Venue : Driekwartblou Gastehuis en Venue, Gariepdam
- Fotograaf: Seven Quarter Photography
- Trourok: Lena-Lisa Designer
- Strooimeisie rokke: Carina van der Walt, Rochel se ma
- Hare en Grimering: Michelle Meintjies
- Kos: Marené van der Walt van Morning Glory Cottages, Venterstad
- Troukoek: Cynette Viviers, Viv se ma
- Musiek: Creative Kilowatt Productions, Bloemfontein
- Dekor: Vriende en Familie
- Blomme: Lezanne Viviers
- Ringe : Preez Designs , Durbanville