Cobus en Ulrich se dag was ʼn stylvolle viering van hul liefde wat almal nog vir jare sal onthou. Die paartjie het ʼn klassieke, tog moderne dag gehad met heelwat besonderhede wat hulle as paartjie uitbeeld. Met die afskop het hulle ʼn nie-tradisionele roete gevolg deur saam reg te maak vir hul groot dag wat die begin van die res van hul lewens saam gaan wees.
Die seremonie area was pragtig met die sirkels wat gebruik is vir ʼn kapel. Dit was heel gepas aangesien sirkels simbolies enigheid en oneindigheid uitbeeld.
Die dekor was nie net stylvol nie, maar het prettige elemente gehad soos die stoele met ʼn motief op die rugkant wat die kleure van hul tafeldekor herhaal. Die groenigheid-installasies was hoog genoeg dat die gaste steeds met gemak aan tafel kon sit en gesels. Dit is beslis iets wat belangrik is om ingedagte te hou as jy ook iets soortgelyk vir jou dag wil hê. Die kristal-glase het natuurlik ook ʼn ekstra tikkie glans tot die geleentheid gegee. Wees seker om te kyk na die paartjie se interessante nagereg opsies – dis enige soettand se droom!
Wat was jul troudatum en hoe oud was julle op dié dag?
20 Mei 2017
Ulrich 35 & Cobus 45
Hoe het julle mekaar ontmoet?
Ons het mekaar die eerste keer ontmoet by ʼn korporatiewe funksie in Oktober 2009. Ons eerste koffie afspraak was eers op ʼn Donderdag in April 2011. Na die tweede afspraak daardie Saterdag het ons besef ons wil saam oud word.
Hoe het julle verloof geraak?
Ons was op vakansie in die Kaap, toe ons Ex Nihilo (ons trou-venue) besoek het. Toe Cobus die venue sien was sy eerste woorde “Hier kan ons maar trou” en net daar het ons trouplanne begin. Ons het buite die norm beweeg en nooit ʼn formele verlowing gehad nie.
Hoe het julle die venue gekies?
Ons wou graag in die Kaap trou en het na iets anders as net die gewone Wynplaas gesoek. Toe ons instap by Ex Nihilo, het ons geweet dit is die regte plek met die kontemporêre venue asook met ongelooflike Olyf boorde.
Wat was die inspirasie vir jul dekor?
Weens my agtergrond in dekor, ons liefde vir beeldhou en kuns wou ons dekor stylvol maar tog eklekties gehad het met Delft en Roos Goud as ons hoof kleure. Ek is nostalgies oor Delft en ons altwee se gunsteling kleur is blou. Ons het ons ook beelde, wat ek self gemaak het, deel van ons tema gemaak. Ons hand in die mou troetelnaam vir mekaar is ook “bokkie” en so op ʼn subtiele manier het ons ook n bok tema ingebring.
Vertel ons meer van jul ringe
Ulrich se ring het `n titanium ring met Roos goud en Cobus weer titanium met goud. Dit het by beide van ons persoonlikhede & smaak gepas. Die houer waarin ons die ringe by die seremonie gehad het was ook ʼn antieke Delft houer wat perfek by ons tema ingeskakel het.
Wat was die merkwaardigste oomblik van die aand?
Vir ons was die vleuel klavier wat onder ʼn kristal kandelaar gestaan het met ʼn pianis wat agtergrond musiek verskaf het. Dit is nog altyd een van my grootste wense wat waar geword het. Die wens het nog ‘n hoogtepunt bereik toe ons in die saal instap, die pianis het “All of me” van John Legend ook gespeel.
Ons dekor was so spesiaal en het nog beter uitgekom as wat ons kon gedink het. Ek het skoon ‘n knop in die keel toe ons die saal sien, dit vertel ʼn storie van waardering en harde werk van kollegas en vriende.
Die hoogtepunte wat alhoewel nogsteeds menigte kere in gesprekke opkom is die platejoggie, kos en natuurlik die “Craft Gin Bar”
Vertel ons meer oor die fotograaf?
Wesley Vorster was briljant en uiters professioneel, van ons eerste oproep aan hom het hy ons gerus laat voel en sy foto’s spreek boekdele.
Wat sou julle verander indien moontlik?
Ons sou dalk ʼn videograaf ook wou gehad het. Gedurende die beplanning het ons dit as onnodig geag, maar in retrospektief het ons besef dat dit spesiaal sou gewees het.
Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?
Sit ʼn uur of slegs ‘n half uur per dag uit wat jy op trou reëlings kan fokus. Mens kan nogal oorweldig raak en tyd bekruip mens veral as jy `n bestemming troue reël. Deur elke dag slegs ‘n bietjie te doen word die reëlings baie makliker en mens voel meer in beheer. Ek sal definitief dit aan alle paartjies adviseur om te luister na kundiges in hul gespesialiseerde velde, ons troue is ‘n perfekte voorbeeld hiervan.
Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?
Ons het met ‘n beraming van R200 000 vir 85 gaste gewerk en ook in ag geneem dat ons kwalifiseer vir winter-afslag by diensverskaffers. Dit was ook goedkoper vir ons omdat ek self in die trou-bedryf is. Om by die begroting te hou was ʼn uitdaging, maar ons het geprioritiseer op goed wat ons troue uniek sou maak.
Vertel ons meer van jul Wittebrood
Ons tyd was baie kort om op Wittebrood te gaan weens werk verpligtinge, maar ons het vir `n paar dae in Llandudno weg gebreek en die absolute meeste daarvan gemaak, maar die groot Wittebrood kom nog.
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
- Venue: Ex Nihilo
- Dekor, blomme, stilering en verhuring: Grand Room Design
- Verhuring: Ten of Cups
- Koördinasie: The Visual Concept
- Spyseniering: Pikant
- Troukoek: Carrie’s Cookies and Candy
- Fotograaf: Wesley Vorster
- Personeel: Exact Events
- Platejoggie: Kayembe ( Dj Rene)
- Pianis: Francois Botha
- Instrument huur (Klavier): Musical Pleasures
- Verblyf: Station House
- Uitnodigings en Ontwerp: Brand Public
- Drukwerk: Dupla
- Kaapstad Diensverskaffer: Luke Krone Events
- Borduurwerk: Embroidery Workshop