Mooi Troues is opgewonde om vandag met julle hierdie warm bessie-kleurige fotosessie te deel. Alhoewel dit duidelik is dat die hoof kleurskema gefokus is rondom bessie-kleure is daar tog heelwat ander helder kleure te sien wat uitstekend hiermee saam werk. Die fynbos en proteas gee ‘n robuuste gevoel aan die tafeldekor wat maklik met fyn en growwe teksture gemeng kan word. In die artikel vertel Hilde Mans meer oor wat hul inspireer het om hierdie fotosessie te skiet asook hoe dit as inspirasie kan dien vir ander bruide wat daaraan dink om in die wintermaande hul troue te hou. Die organiseerder gee ook slim raad ten opsigte van hoe om hierdie inspirasie prakties te inkorporeer by jou troudag en aan te pas om by ‘n ander styl te pas.
Wie het die fotosessie gereël en wat was die inspirasie vir die fotosessie?
Hilda Mans van Hilda Mans Fotografie het die fotosessie gereël. Die inspirasie het sy oorsprong gekry vanaf die bessie kleure wat seëvier in die fotosessie. Bessie kleure lewer kontras tussen die rou, vaal agtergrond van die bos-toneel waar ons geskiet het. Die foto’s moes “pop” met die warm kleure van ‘n diep donkerblou, goud, warm Boergondië en pragtige pienk teen die vaal agtergrond. Herfs- en wintermaand bruide se kleurskemas word in hierdie fotosessie uitgebeeld. Die kleure is tans sterk op die voorgrond met dekor elemente wat speel teen bruide se venue keuse van meer eenvoud soos rou sementvloere en vaal minimalistiese agtergronde. Dit is basies ‘n “leë doek” wat selfs eenvoudiger dekor na reg laat tree.
Hoekom is die span diensverskaffers gekies om saam te werk?
As ‘n verskaffer besef jy hoe belangrik dit is om ‘n staatmaker span in verskillende vaardighede te hê. ‘n Span wat jy met vrymoedigheid kan verwys en wat daardie ekstra myl sal stap, idees wat saam met joune kan smelt en verskaffers wat glo in absolute kwaliteit diens en integriteit. Dit was ook pret om ‘n rowwe tema neer te lê en te kyk hoe elkeen met die idee hardloop en net kreatief kon wees, sonder om te veel riglyne en beperkings op elkeen te sit. Dit was ongelooflik gewees om te sien hoe ons visie net eenvoudig saam smelt.
Wat was vir jou die spesiaalste deel agter die fotosessie?
Die weer het die dag nie saam gespeel nie, maar die gemoed en gees onder elkeen van die spanlede was fenomenaal! Wat vir my baie spesiaal was, was die absolute spanwerk om dinge te maak gebeur. Die diensbaarheid van elke verskaffer en natuurlik om na die tyd te kan terug kyk en regtig trots te kan voel op wat ons voor gesit het. En natuurlik toe die weer net in tyd opklaar om ons “goue uur” moontlik te maak. Jy smee bande op so ‘n dag wat baie kosbaar is.
Wat is jul advies aan paartjies wat hierdie inspirasie wil volg?
Deur sekere elemente te verander kan die kleurskema aangepas word om minder dramaties te wees vir ‘n dag-troue. Gebruik blomme wat in seisoen is en wat dalk meer “blom” vir jou rand bied. Wees eerlik met jou verskaffers ten opsigte van jou begroting. Speel met verskillende idees en teksture. ‘n Mooi dramatiese drinkglas of onderbord kikker dadelik die tafeldekor op. Vertrou jou gekose diensverskaffers. Doen jou navorsing vooraf en vertrou dan hul vaardighede. Ek vind dikwels wanneer ek die minste leiding of beperkings het dat ek my beste werk lewer.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotografie: Hilda Mans Fotografie
- Blomme en Dekor: Cultiv8 Venue deur Anine Strydom
- Grimering: Le-Blush Make-up Artistry
- Trourok: Claris by Gerrit Pienaar
- Skryfbehoeftes: Design Love
- Troukoek: A Taste from Heaven Cakery
- Modelle: Anje en Ruan