Marc & Johanna warm-hartige verlowing

Vandag deel Mooi Troues die verlowings-fotosessie van Marc en Johanna.  Hierdie paartjie wat mekaar in ʼn klein dorpie ontmoet het, wys net weer dat jy jou trouman soms op onverwagte oomblikke of vreemde plekke ontmoet!  Geluk is altyd om die draai.  Hulle straal behoorlik van geluk.  Ons kan net dink hoe mooi die troufoto’s gaan wees as die verlowings foto’s reeds so pragtig lyk.  Hulle lag spontaan terwyl die fotograaf al die emosies perfek vasgevang het.  Die paartjie het besluit om hul fotosessie te begin by Truth Coffee Roatery en het daarna die dag sy gang laat gaan.  Ons dink beslis dat die plan van aksie gewerk het.  Verkyk julself aan hierdie gelukkige paartjie se asemrowende foto’s.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons het mekaar op 2 Januarie 2015 by gemeenskaplike vriende se troue ontmoet.  Dit was op ‘n klein plattelandse dorpie, Williston in die Karoo.  Die dorpie is regtig tussen niks en nêrens!

Watter eienskappe maak julle aangetrokke tot mekaar?


Marc: “Johanna se goedhartigheid, die feit dat sy liefdevol is, haar liefde vir mense en haar humorsin.”

Johanna: “Marc se eerlikheid, opregtheid en dat ek altyd weet waar ek met hom staan. Sy liefde vir my en dat hy altyd ekstra moeite doen en seker maak dat ek gelukkig, gemaklik en veilig is.”

Ons is baie uiteenlopende mense, en wat ons na mekaar aangetrek het is dat ons ‘n positiewe balans in mekaar se lewens kan bring.

Hoe het julle verloof geraak?


Marc het nogal ʼn baie harde tyd met die verlowing gehad! Hy het my in  Junie 2016 tydens ʼn naweek weg in Paternoster gevra om te trou.  Johanna het ‘snuf in die neus’ gehad dat dit een of ander tyd gaan gebeur, maar nie spesifiek geweet wanneer nie.

Marc het dus dit so subtiel as moontlik probeer hanteer sodat dit steeds ‘n spesiale verassing kon wees. Hy het die heel naweek die regte oomblik probeer vang, totdat hy Saterdagaand amper wou moed opgee.

Vrydagaand, met die aankoms, wou Marc al die groot vraag gevra het, maar met die verkeer uit die stad het ons toe te laat in Paternoster aangekom. Die Saterdagoggend vroeg het ons gegaan om te stap.  Terwyl ons op die strand stap het dit begin storm reën en hardloop ons terug huis toe.  Daar was die geleentheid vir Saterdagoggend daarmee heen!  Die dag gaan verby, en ons gaan stap weer laat middag by die see.  Ongelukkig die keer is daar mense wat op die strand ry, en weer was die geleentheid nie ‘perfek’.

Later die aand lank na son-sak en almal voor die kaggelvuur sit – vra Marc Johanna of sy nie weer ʼn draai wil gaan stap nie.  Hy beplan om kerse en sjampanje strand toe te neem.  Johanna nie baie lus om in die koue uit te gaan nie – fluister vir Marc (as ‘n grappie) ‘ek sal gaan as jy ʼn ring het.’  Sy antwoord was toe: ‘ek het ʼn ring.’  Johanna dog hy maak ook toe ʼn grap en sê: ‘Nee dit is te koud!’

Dit is hier waar Marc amper moed verloor het!  Sondagoggend net voor ons moes terugkeer huis toe  kry Marc die gaping om vir Johanna weg te neem om dié vraag te vra!  Op een knie op Paternoster se strand met die ring in Marc se hand, is dit een van die spesiaalste oomblikke in ons verhouding!

Wat was die inspirasie vir julle fotosessie?


Van ons gunsteling tydverdryf as ‘n paartjie, as ons nie saam in die natuur is nie, is om graag koffie te drink by verskillende plekke en saam plekke te verken.

Ons het besluit om nie die tipiese ‘natuur’ fotosessies te doen nie, maar om by Truth Coffee Shop in die stad koffie te gaan drink.  Ons baie talentvolle fotograwe het ons vergesel.  Die idee was dat die fotosessie daar begin en dat die gevoel van die stad ons daarna verder lei.

Hoe lyk julle droom troue?


ʼn Heerlike naweek makietie saam met vriende en familie!  Ons albei wil graag in die Karoo trou, waar Johanna oorspronklik vandaan kom. Ons wil hê die naweek moet een groot fees wees saam met al ons vriende en familie.  Nie net een aand se troue nie, maar ‘n hele naweek van lekker kuier.  ʼn Feesviering met lekker kos uit die kontrei, musiek, kuier tot ounag toe met n tipiese plattelandse gevoel!

[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]