CJ en Charlea kan nou uiteindelik hul langafstand verhouding agter hulle sit en uitsien na ʼn toekoms saam. Die twee het verlede jaar Augustus-maand amptelik die Ja-woord aan mekaar gegee en dit terwyl hul naastes toekyk en die res van die aand saam met hulle kon geniet. In die artikel vertel hulle meer oor hul unieke venue keuse en vertel ook van hul idee om ʼn regte stadstroue te hê, ʼn gevoel wat ook deurskemer in al hul foto’s. Die troue was eenvoudig en is goeie inspirasie vir diegene wat ook self eerder hul dekor sal wil behartig, maar steeds ʼn mooi troue wil hê. Die bruid se rok was ook ʼn tipiese voorbeeld van klassieke eenvoud, ʼn keuse wat sy nie oor ʼn paar jaar sal spyt wees oor nie. Lees gerus verder vir inspirasie as jy ook ʼn stadstroue ingedagte het.
Wat was jul troudatum en hoe oud was julle gewees op die dag?
Ons het die 26ste Augustus 2017 ons troue gehou en was albei 28 jaar oud gewees op die dag.
Hoe het julle mekaar ontmoet?
Ons het in 2008 ontmoet, ons was albei eerstejaars aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom en het toevallig albei aangemeld om vir Aardklop te werk. Ons sou by verskillende lokale kaartjies by die deure skeur en het die eerste aand van ons opleidingsessie ontmoet. Sedertdien het ons vriende geraak. Ons was vir jare en jare goeie vriende. Tot 2015, toe ons eindelik besluit het om ’n verhouding ’n kans te gee. CJ het in daardie stadium toe reeds twee jaar lank in Kaapstad gewoon en Charlea in Johannesburg.
Hoe het julle verloof geraak?
Ná ’n langafstand-verhouding van ’n jaar en ’n half het ek in 2016 ook Kaap toe getrek. Agt maande later, op 18 Maart 2017 het ons die oggend verloof geraak op Bloubergstrand. Dit was op dieselfde plek wat ons op 14 Februarie 2015 besluit het om meer as “net vriende” te wees.
CJ het al vroeër die week besluit ons moet die laaste bietjie somerhitte gaan geniet met ’n stappie langs die strand en ontbyt met ’n uitsig op Tafelberg.
Geklee in ’n dik wintersbaadjie (om die ringboksie in sy sak weg te steek) het ons toe die oggend gaan stap. “Soek bietjie skulpe,” het CJ my aangemoedig om vooruit te stap. Toe ek omdraai om vir hom iets te wys was CJ met sy knieg op die nat sand, ringboksie oop.
Hoe het julle jul ringe gekies?
Ek het geweet Charlea wil graag ’n roosgoud-ring met ’n Morganietsteen en diamante hê. Die dame by Jack Friedman het my goed gehelp om die regte steen te kry wat by haar vel en handgrootte pas. Sy het altyd in die winkelsentrums verby die ringe gestap en gekyk, maar wanneer sy regtig van een hou, het sy gestop. So, dit was nie te moeilik om agter te kom waarvan sy hou nie. En, sy is maar soos `n kraai, dus moes die ring soveel as moontlik blink.
Vir my het ons verskeie ringe aangepas en toe op ’n eenvoudige witgoud-ring besluit. Charlea het my verras deur die woord “Altyd” in die binnekant te laat graveer. Dit is baie spesiaal.
Wie was jul fotograaf en videograaf gewees?
Ek het in Johannesburg by ’n dagblad gewerk waar Nelius ’n fotograaf was. Ons het in die drie jaar wat ons saam gewerk het, soveel wonderlike en vreemde stories saam gedoen. (Nelius weet dit nie, maar ek het destyds al gedink ek sal hom nog vra om eendag my troufoto’s te neem!) Nelius se meisie Adeline het ’n fotografie-onderneming en saam is hulle dié A-span. Hulle is ontspanne, goed georganiseerd, kreatief, hope pret, snaaks, byderwets en sal enigiemand op hul gemak laat voel. Ons was baie gelukkig dat Nelius en Adeline toevallig ook Wes-Kaap toe getrek het en toe ons verlowings- en troufoto’s kon neem.
Hoe het julle die venue gekies?
Ons was dit eens dat ons ’n stadstroue wil hê. Ons is albei gek na die stad en het verskeie moontlikhede ondersoek. ’n Kollega het vir CJ van Societi Bistro in Oranjestraat in die hartjie van Kaapstad vertel. Ons het sommer daardie middag besluit om die aand daar te gaan eet om te kyk of dit sal kan werk. Ons was onmiddellik mal oor die snoesige, stylvolle restaurant. Hul kos was ook ongelooflik lekker en geurig. Hoewel ek aanvanklik bietjie bekommerd was oor die uitleg van die restaurant, het dit uitstekend gewerk. Boonop is die bestuur ongelooflik professioneel en toeganklik.
Wat het jul dekor keuses inspireer?
Ons benadering met ons hele troue was dat minder beslis meer is. Ons is sonder tierlantyntjies en wou alles so maklik, eenvoudig en prakties as moontlik hou. Ons het maande lank glasbotteltjies versamel vir die verskeidenheid wit blomme. Verder het ons net teelig-kersies op die tafels gesit en teen een van die rakke het ons ’n verskeidenheid foto’s van ons gaste opgehang, wat hulle kon huis toe vat. Omdat die restaurant reeds stylvol is was dekor en versierings nie nodig nie. Ons het sommer self, saam met vriende en familie die blomme en dekor gedoen.
Wat was die merkwaardigste oomblik van die aand?
Charlea: “Ek sal nooit vergeet hoe dit gevoel het toe ek by die kerkpaadjie afgestap het nie. Dit was die wonderlikste oomblik saam my pa, met al ons gunsteling-mense om ons en CJ wat daar gestaan en wag het.”
CJ: “Toe ons tydens die eerste dans kon gesels oor hoe alles in plek geval het en hoe lekker die dag en aand is.”
Wat sou julle verander indien moontlik?
Charlea: “Ek wens eintlik net dinge was daardie week voor die troue bietjie rustiger. Dit was ’n baie vol, chaotiese week. Ek sou dinge klein bietjie rustiger wou vat.”
CJ: “Ek sou graag `n rustiger week voor die tyd wou hê.”
Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?
Moenie oor die klein dingetjies wroeg nie. Die werklikheid is dat die gaste lekker wil eet en lekker wil kuier.
Was julle met wittebrood gewees?
Ons het ’n week in Phuket uitgespan. Hoewel dit ’n lang vlug tot in Dubai en dan tot in Phuket is, was dit beslis die moeite werd. Ons het verskeie toere gedoen, baie in die see geswem, vreeslik baie noedels en rys geëet en rond gestap. Ons het een dag die hele dag langs die swembad deurgebring – gelê en lees, gesels en geswem. Dit was totaal en al sorgvry.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Kerk: NG Kerk Tamboerskloof
- Onthaal: Societi Bistro
- Trourok: Robyn Roberts
- Verloofring: Jack Friedman
- Trouringe: House of Kallie
- Fotograaf: Foto Asylum
- Hare en grimering: Saskia Hill
- Huwelikskontrak: De Klerk & Van Gend
- Musiek by onthaal: Evergreen Music
- Huur van kershouers: Something Borrowed
- Verskaffers van blomme: A&A Flora
- Orrelis: Erik Dippenaar
- Troukoek en kolwyntjies: Elizna Basson