Lucas & Carien se plaas-sprokie

Lucas en Carien se plaas-sprokie het afgespeel op die bruidegom se grootword-plaas.  Hulle groot dag was omring deur hul familie, vriende en alles wat mooi is.  Die paartjie se dekor het mooi aangepas by die buitelug gevoel en het bygedra tot die ontspanne atmosfeer wat hulle wou skep.  Hulle wou blomme die oorhoofse tema van die dag maak en het besluit om dit op ongewone manier te inkorporeer.  Hulle het blom-patroon kussinkies vir al die dames gegee as dankie-sê geskenkies.  Die paartjie het baie blomme gebruik op die bruidstafel om ‘n fokuspunt te skep en enkel-stam blomme binne potte op die gaste tafels geplaas.

Die bruid het gefokus op fyn detail soos die materiaal-rose op haar rok en helderkleurige blompatroon-skoene wanneer dit kom by haar uitrusting vir die dag.  Haar bruidsmeisie se rok was ook ongewoon in die sin dat dit afgewyk het van die tendens om saamgestel te wees met baie eenvoudige kleure en style.  Die bruidegom het natuurlik netjies gelyk in sy donkerblou pak en strikdas vir die spesiale dag.  Wees ook seker om onder te kyk na die pragtige foto’s wat geneem is tydens die eerste dans terwyl al die gaste “sparklers” vashou.  Lees onder meer van die paartjie se pragtige storie asook hul raad en herinneringe van hul groot dag.

Wat was jul troudatum en hoe oud was beide van julle op dié dag?


Ons het getrou op die 6de Januarie 2018.  Lucas was 26 en Carien 25.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons albei het op die PUK geswot en het elke dag verby mekaar geloop sonder die wete dat ons later regtig lief sou raak vir mekaar.  Ons het albei in ‘n koshuis gewoon wat net ‘n paar treë van mekaar af is en het vir die eerste keer in ons tweede jaar mekaar ontmoet… ek is deur ‘n vriend aan Lucas voorgestel, omdat ek agter hom moes aanry na ‘n Gospel-opvoering genaamd “Passions” in Johannesburg.  Eers ‘n jaar na die ontmoeting het hy my vir koffie gevra en dit was vir seker die lekkerste koffie wat ons al twee sal onthou.

Hoe het julle verloof geraak?


Lucas en sy vriend het vroeg die Saterdagoggend op 18 Maart 2017 ‘n spesiale plekkie by die see, my GROOT liefde, gaan soek. Dié spesiale plek het hulle bo-op ‘n groot rots by Llandudno se strand gevind. Op die rots was daar ‘n groot bos blomme en ‘n bottel sjampanje wat vir ons gewag het. Lucas se vriend moes heel middag agter ‘n ander rots lê en wag sodat hy die oomblik op kamera kon vaslê.  Lucas het voor die tyd met al ons nabye vriende gereël om ons by ‘n restaurant teen die strand van Kampsbaai te ontmoet. Daar is, skemerkelkies in die hand, lekker gelag, gevier en gekuier.

Hoe het julle die venue gekies?


Lucas het op ‘n pragtige plaas net buitekant Viljoenskroon grootgeword. Ons het nie eers tweekeer gedink om te wonder waar ons die onthou-dag wil hou nie. Lucas se pa het sy grootste, mooiste stoor afgestof en sy implemente ‘n entjie verder gebêre.  Bo-op ‘n koppie wat ‘n uitsig het oor die hele plaas, is daar ‘n wit kerkie met groot glas-oop skuifdeure gebou – perfek vir die aflê van ons beloftes aan mekaar en aan God.  Die gaste is met wildbesigtiging-voertuie met die kronkel-grondpad na boontoe gebring, as getuies.

Wat was die inspirasie agter jul dekor?


Blomme, blomme en nóg blomme!  Ons albei hou van ‘n kleurvolle lewe… en ons wou graag dat dié kleurvolheid dié dag seëvier. Ons wou baie graag ons gaste met oulike onthou-dinge bederf. Daarom was daar ook spesiale geskenkies wat deel uitgemaak het van die dekor, soos die  blomkussings wat op elke vrouegas se stoel was, wat hulle huis toe kon vat en ‘n naamkaartjie op elke plek wat ‘n regte onthoublom sal word as hy geplant word. Elke gas moes lekker kon kuier en tuis voel. Die talle kerse op die tafels en ingebuigde lepels teen die stoor se sinkmure en liggies en vlaggies oral het tot die warm huislikheid bygedra.

Is daar ‘n storie agter jul ringe?


My ring het Lucas skelm-skelm by ‘n juwelier in die Kaap laat maak…  Ek het die ring se prentjie vir hom aangestuur, en hy het my met presies so n ring verras! Dis ‘n vintage-ring met ‘n groot diamant in die middel en 9 kleintjies rondom. Lucas se ring is ‘n silwer tungsten-ring waarin ek die koördinate van die kerkie en ‘n Bybelvers aan die binnekant laat graveer het.

Wat was die merkwaardigste oomblik van die aand?


Omdat die venue op hulle plaas was, het almal ingespring om te help en hard gewerk om die dag spesiaal te maak.  Na ons die dansbaan geopen het en vir die eerste keer rustig kon sit en rondom ons kyk, was dit só ongelooflik om te sien hoe almal die aand regtig geniet en om vir die eerste keer die volle prentjie te kon sien.  Dit was só mooi, almal het gelag en alles was net perfek!

Vertel ons meer oor jul fotograaf en videograaf


Kyla Lottering is ‘n jong fotograaf van Mpumalanga wat ons opgespoor het nadat ons na verskeie vriende se troufoto’s gaan kyk het. Die styl van haar foto’s was dié wat ons die meeste opgeval het. Sy en haar man laat ‘n mens dadelik op jou gemak voel en hulle is regtig baie vriendelik en professioneel.

Wat sou julle verander indien moontlik?


Moenie die dag voor jou troue werk nie…ontspan en geniet die laaste aand voor die GROOT DAG.  Behalwe die dit sou ons eintlik niks wou verander nie…regtig, dit was perfek!

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Geniet mekaar in die tyd, dit is só kosbaar! Beplan saam, lag saam, stres saam en deel die opwinding met almal om julle. Dit kom net één keer in jou lewe, moenie dit vergeet nie!  Moet ook nie vergeet waaroor dit regtig gaan nie, ’n belofte voor almal tussen julle twee en God.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Ons begroting was… so min as moontlik om alles op ons spesiale dag vir ons en ons 114 gaste in die mooiste herinneringe te omskep.  Ons het begroot om nie meer as R100 000 te spandeer nie en ons het daarby gehou!

Was julle met wittebrood gewees?


Lucas het dit alles self beplan en my eers vertel waarheen ons gaan toe ons al op pad was.  Ons eerste stop was by die mooie Drakensberge met die mooiste poele vir ons om heeldag te kon swem asook ‘n prentjie-mooi waterval!  Ons volgende bestemming? Sodwana! Lucas het beslis ons liefde vir duik en snorkel in ag geneem! Daarom was snorkel heel bo-aan ons doen-lysie en doen ons dit sommer tweekeer! Na ‘n paar dae het ons vinnig in Dullstroom oornag, waar ons sommer geleer het hoe om te “fly fish.” Ons laaste stopplek was Sun City, waar ons elke oomblik van elke dag  goed benut het deur alles te doen wat daar te doen is. Dit was uniek, lekker en so ‘n ongelooflike tyd saam.

[section=Klik hier vir diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]