Die bruid en bruidegom het ʼn informele samekoms gehad in die buitelug. Johann het sommer met die intrapslag ʼn paar reëls gebreek en besluit om ʼn pak en das te vermy. Proteas het geseëvier op hul groot dag en is te siene in die blomme sowel as ander dekor. ʼn Eenvoudige en rustieke blom wat vinnig ʼn groot impak kan maak op die dag. Jeandre het ook self ingespring en plante gebruik vir tafeldekor; Iets wat bruide kan onthou as jy ʼn spesifieke prentjie in jou kop het van hoe die dekor moet lyk.
Lees onder ook meer oor hoe die paartjie se seremonie verskil het van die ander seremonies en wat die paartjie alles by hul groot dag ingesluit het om dit spesiaal te maak. Ons hoop julle geniet die die “anderste” troue soveel en kry dalk inspirasie om self ook af te wyk van die tradisionele.
Wat was julle troudatum en oud was julle op dié dag?
23 September 2017; Johann 31 en Jeandre 29
Hoe het julle mekaar ontmoet?
Jeandre se bure het ons aan mekaar voorgestel in Januarie 2014. Ek en Johann het oor en weer gesels, een Sondag oggend het hy kom kuier met ʼn bottel Four Cousins wyn, ons het daardie dag 12ure aan een gesit en gesels en lekker gelag en die res is geskiedenis.
Hoe het julle verloof geraak?
Jeandre het in 2016 vir ons ʼn week bespreek in die Drakensberge. Daar was nog sneeu op die berge van die vorige week. Ons het gery tot op ʼn uitkykpunt om foto’s te neem van die sneeu. Jeandre het begin fotos neem, ek het omgedraai om vir Johann te soek en met die staan hy op sy knieg en vra die groot vraag.
Hoe het julle die venue gekies?
Ons wou graag ʼn mooi trou venue gehad het, maar nie styf en ongemaklik mooi nie. Die trou venue was splinternuut gebou en het die WOW faktoor gehad waarna ons gesoek het, met ʼn sakpas pakket wat alles ingesluit het. Ons was opsoek na ʼn kapel wat buite is en ook ʼn woud gevoel gehad het en Jeandre wou graag kandelare gehad het in die lokaal. Ons is nie ʼn oomblik spyt oor ons trou venue keuse nie, hulle het uit hulle pad gegaan met die kleinste details wat dit net meer spesiaal gemaak het.
Wat was die inspirasie agter jul dekor?
Jeandre wou nog altyd proteas gehad het as deel van die dekor, sy het besluit op kleure en aan idees gedink wat goedkoop is, mooi gaan lyk maar tog ook uniek gaan wees. Vlootblou, sagte pienk en grys saam met proteas was vir ons ʼn mooi elegante kombinasie. Jeandre het roosmaryn en woestyn-rosies gebruik vir die ruikers op die tafels en ook in die ouers se ruikers.
Vertel ons meer van jul ringe
Johann het ʼn plein silwer en hout ring en Jeandre het ʼn fyn ring wat mooi op haar hand pas met ʼn klomp fyn steentjies.
Wat was die merkwaardigste oomblik van die aand?
Dis baie moeilik om net een oomblik uit te sonder. Toe ek in die paadjie afgestap het, dink ek nie ek het al so vinnig geloop om by my toekomstige man te wees nie. Ons toesprake was vir my anders, ons het nie ʼn seremonie meester gehad nie, ek en Johann het self die toesprake, heildronk en bedankings gedoen. Dan, die dans tussen my en my nuwe man en ook die dans met my Pa was oomblikke wat ek nie sommer sal en wil vergeet nie.
Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.
Ons fotograaf is Jeandre se niggie wat ook ons verlowings fotos geneem het. Sy het ʼn gawe om net die regte, mees spesiaalste oomblikke vas te vang. Sy deel ook ons gevoel om spesiale familie oomblikke vas te vang wat ons vir nog baie lank sal koester.
Wat sou jul verander indien moontlik?
Ons sou graag die diens korter wou gemaak het en die aand langer.
Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?
Geniet elke oomblik daarvan, die beplanning gaan so vinnig verby. Selfs die dag – as ek vroeër kom opstaan net om nog meer van die dag te kon onthou en inneem, sou ek. Maak die dag vir jou en jou man spesiaal, dit gaan tog oor julle twee. Een verskaffer waarop julle nie moet afskeep nie, is ʼn fotograaf. Dis oomblikke wat vasgevang word, wat nooit weer terug gekry kan word nie.
Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?
Ons het nie regtig ʼn vaste begroting gehad nie. Omdat ons venue se pakket soveel ingesluit het, het ons net ekstra geld spandeer op my rok en Johann se uitrusting, ekstra blomme, ons hare en grimering die fotograaf en die platejoggie. Die glas bottels wat gebruik was as houers vir die blomme het ons tussen vriendinne en familie bymekaar gemaak. Jeandre het ook ʼn paar van die dekor op die tafel self gemaak . Ons het besluit om te kyk waar ons kostes kan spaar en eerder op ons wittebrood te spandeer.
Vertel ons meer van jul Wittebrood
Een van Jeandre se vriendinne is ʼn reisagent, sy het vir ons ʼn paar opsies uitgewerk vir die begroting wat ons vir haar gegee het. Ons het besluit om vir 10 dae Thailand toe te gaan. Ons het begin in Patong … Daarna na twee ander eilande toe gegaan waar ons heerlike skemerkelkies en kosse geniet het. Ons het behoorlik ontspan na die besige en opwindende tyd voor die troue.
[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Sumarie Photography
- Venue: De la Mas Venue
- Grimering: Theola Booyens
- Dekor & Blomme: Deco Rent
- Hare: Therese Westcott
- Rok: Rachel Fourie
- Skoene: Zellies