Ons skop hierdie maand af met ‘n plaastroue in die Noord-Kaap. Rayn en Monique het hul droomdag ‘n realiteit gemaak deur self in te spring en hul idees te laat realiseer. Die paartjie het op ‘n plaas by Rostevor getrou en behoorlik seker gemaak om alle gedeeltes van die plaas te benut. Vanaf ‘n seremonie in die kelder tot die foto’s in die natuur, hierdie troue wys werklik die skoonheid wat ‘n plaastroue kan bied. Die dekor was eenvoudig en het ruimte gelaat om steeds die omgewing soos dit natuurlik is, te kan waardeer. Gaan kyk beslis na die interessante bruidstafel binne die skuur waar hul onthaal gehou is. Die paartjie het dit reggekry om ‘n klassieke troue te hou in ‘n venue wat sentiment aan die bruid het en die geleentheid ekstra spesiaal maak.
Geniet die uitsonderlike foto’s en inspirasie onder. Jy sal definitief ‘n paar nuwe idees vir jou droomdag hê hierna.
Hoe het julle ontmoet?
Ons was van graad agt af saam op skool en was vir Tien jaar lank groot pêlle voordat ons verlief geraak het. Sy sagte hart maar harde karakter en lekker lag is my gunsteling eienskappe van hom. Ek dink die jare lange bederf van my kant af het hom mak gemaak, maar hy reken dis my mooi hart wat hom gewen het!
Wat was die styl van jul troue?
Ons wou ‘n troue hê wat anders was, ‘n liefdes-fees. Meer as ‘n tradisionele troue en wat ons persoonlikhede kon weerspieël. Ek het ‘n industriële tema gekies as basis omdat dit gemaklik is en ruimte gee om met idees te speel. Ek het baie tyd op Pinterest spandeer, maar ek het meeste van my idees gekry deur te dink hoe kan ek goed op die plaas gebruik om iets besonders te maak en geld te spaar. My pa was ook ‘n groot bron van inspirasie. Hy is ‘n “dink-buite-die-boks”-tipe mens en gelukkig vir my, ook baie handig! Ons het meeste van die dekor self gemaak. Ek het op Rostrevor groot geword en ek het die mooiste herrinderinge daar gebou. Dit was nog altyd waar ek graag sou wou trou. Ek het geweet dit gaan ‘n groot uitdaging wees om die plaas in ‘n venue te omskep, maar die harde werk was definitief die moeite werd. Die ou klipmuur, perdestalle, wingerde en wynkelder het definitief die taak vergemaklik om die lekker atmosfeer te skep!
Waarheen was julle vir wittebrood?
Ons was by Maritim Crystal Beach in Mauritius wat vir ons die perfekte wittebrood was! Ons kon soveel goed doen en die mense daar is ongelooflik! Die aktiwiteite se pryse was regtig billik en ons het alles probeer: “ondersese loop”, “parasailing”, snorkel, skubaduik, “reg-op-staan-roei”, “glas-bodem boot vaart.” Ons het van die kleiner eilande besoek en selfs ‘n dag ‘n bromponie gehuur en op gevoel ‘n groot deel van die eiland verken.
Wat sou jul verander as jul kon?
Daar sal altyd iets wees wat nie presies gebeur soos jy dit beplan het nie en ek dink jy moet die opskuif voor die tyd maak dat dit nie jou hele dag omvêr gooi nie. Die dag gaan regtig so vinnig verby. Ek was baie kalm en het net elke oomblik probeer inneem en geniet. As daar een ding is wat ek sou anders doen dan sou ek vir Rayn geluister het toe hy gesê het: “trou in vellies” – my voete was teen vier-uur die oggend sò seer!
Wat is julle advies aan ander wat hul troue beplan?
Ons het baie van die reëlings self probeer reël en eers teen die einde begin werk uitdeel. Dis net te veel detail as jy ‘n hele venue moet “skep” en ek sou vroeër hulp gevra het as ek dit kon oordoen. Ek het ook baie maal aangeneem die diensverskaffers wat ek gebruik het dink soos ek, maar dis beter om vir elke persoon wat iets doen ‘n lysie te gee met sy/haar verantwoordelikhede vir jou eie gemoedsrus.
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Go Urban Photography
- Videograaf: The Spiffy Chap
- Trou rok: Julie Wedderburn Bridal
- Hare: Alicia Robinson van Melted Toffee
- Grimering: Chrizanne Swanepoel
- Koördinering: Edmund Beukes van XL Events
- Blomme: Rozelle Erasmus (my boetie se meisie) en haar ma, Hazel van Dyk
- Beligting en Dekor: DrapeInc.
- Stoele en borde: Tentrent Upington
- Eetgerei en glase: Wedding & More Kimberley
- Spyseniering: Aretha van Rooyen (voorgereg en hoofgereg); roomys masjien gehuur by Elsa Stander; Hollandse stroopwafels vir poeding deur Delicious Dutch Foods en my troukoek was deur ‘n vriendin gebak (omdat ek gesê het ek sal net ‘n koek hê as iemand dit vir my gee!).