Hier by Mooi Troues is ons opgewonde om Fanie en Bernice se winter plaastroue met ons lesers te deel.
Fanie het gedink dat hy sy groot liefde sou kon vind deur die bekende Boer soek ʼn Vrou faam, maar uiteindelik het Bernice sy hart gesteel met ʼn kort en kragtige boodskappie oor Facebook. Die twee het in Junie 2017 besluit om dit offisieel te maak en hul lewens as getroudes saam te stap.
Hulle groot dag is gehou by Die Grand venue en het, soos verwag, baie elemente van die plaas bevat om seker te maak dat dit hul leefstyl weerspieël. Die dag is gevier tesame met 100 van hul naastes. Die dag het spesiale elemente bevat wat self gemaak is deur vriende en familie. Let op die dekor-items soos die servette en plekmatjies wat persoonlike besonderhede tot die dag byvoeg.
Wees seker om meer te lees oor die dekor as ook die slim raad wat die paartjies het vir ander wat hul troue beplan. Die blomme was pragtige en het nie net die tradisionele rose bevat wat baie te siene is op troues nie. Die rangskikkings was ook van so ʼn aard dat tafels nie oorvol gelyk het nie. Dit is beslis iets om gedagte te hou vir jou tafeldekor!
Githe-Meret Hancke Koertzen is ʼn professionele grimeerkunstenaar gebaseer in Jeffreysbaai met meer as 20 jaar in die skoonheid bedryf. Sy spesialiseer in bruids grimering. Laat sy jou spesiale dag in ʼn onvergeetlike herinnering te omskep.
Geniet die pragtige foto’s en put inspirasie uit die paartjie se troufees.
Hoe het julle ontmoet?
Bernice:
Dit is eintlik bietjie van ʼn snaakse storie. My Ma en Pa is getroue Boer soek ʼn Vrou kykers – hulle mis dit nooit! Ek aan die anderkant het dit omtrent nooit gekyk nie. In seisoen ses van die program wat in 2013 gewys het, het ek toe een aand dit saam met my ouers gekyk. Daar was ʼn skattige jong man wat dadelik my oog gevang het. Hy was aantreklik, baie reguit met die mooiste bruin oë. Ek sê toe ewe aan my ouers “Daardie is darem maar ʼn oulike Boer, ek sal nou nie omgee om hom te ontmoet nie.” My ma sê toe ek moet vir hom skryf, maar dit was glad nie my idee nie!
ʼn Jaar later in 2014 toe die nuwe seisoen uitgesaai word, onthou ek vir Fanie van die vorige seisoen en besluit toe ek gaan hom soek. Na ʼn lang gesukkel om vir Fanie te vind, het ek uiteindelik op Facebook op hom afgekom. Ek het vir hom ʼn boodskap gestuur van slegs een sin “Jy praat oulik.” Van daar af het die gesprekke oor die foon plaasgevind en Fanie het binne die eerste week vir my kom kuier. Ek het die week daarna vir hom gaan kuier op die plaas en van daar af het ek geweet ons gaan eendag trou.
Fanie:
Ek het net geweet wat ek wou hê, en alles wat ek wou gehad het, was sy. Alles waarvan ek gedroom het in ʼn vrou het sy. Pragtig, goeie kop op haar skouers, gemaklike aanpasbare mens, oop en eerlik. Om te weet dat ek elke dag huis toe kan kom en weet my beste maatjie wag vir my by die huis maak alles die moeite werd. Hoe weet mens wie is jou trou vrou? Daardie persoon wat jou daardie warm gevoel gee binne jou. Die een langs wie jy elke aand aan die slaap wil raak en elke oggend langs wakker wil raak. Toe ek haar die eerste keer ontmoet, het het ek daardie gevoel gekry. Ek het geweet dit is my trou vrou.
Wat was die styl van jul troue en hoe het julle die venue gekies?
Die styl van ons troufees was rustiek, maar tog warm en intiem. Elegant met baie blomme, asook kristal en glas detail. Natuurlik die Plaas element was ook belangrik. Ons het in die middel van die winter getrou in Patensie in die Oos-Kaap by Die Grand. Gelukkig vir ons was ons winterdag toe ʼn lieflike warm dag.
Die Grand lê ons na aan die hart. Goeie vriende van Fanie besit die venue. Nog voor ek geweet het dis vriende van Fanie, het ek die plek op die internet gesien en ek was mal daaroor! Toe Fanie sê hy ken die mense het ek geweet dit is verseker ons trou-plek. Omdat dit in die winter was, was daar natuurlik geen ander kleur in my kop as Boergondië nie. Vir my gevolg het ek op grys besluit. Vir die elegante deel, die marmer patroon en ligte blospienk. Om die plaastema mooi deur te volg, het ek toe besluit om elke tafel ʼn naam te gee in plaas van ʼn nommer.
Fanie boer in Aberdeen, die plaas waarop ons bly se naam is Geduld. Dus was die hoof tafel se naam Geduld. Daarna het ek die kampname op die plaas gevat as elke tafel se naam: Hammelkamp, Beesfontein, Koperberg, Wildeals, Damkamp ens. Fanie het natuurlik vreeslik baie daarvan gehou! Ons het heerlike boerekos gehad op die troue met selfs skaapvleis al die pad van Geduld af.
Ons troukoek was ook ʼn groot hoogtepunt van die dag en het soveel detail opgehad om perfek by ons tema te pas. Dit het net so asemrowend gesmaak soos dit gelyk het!
Fanie se Ma en ʼn goeie vriendin Tannie Carina het vir ons oulike handgemaakte grys servette gemaak. Dit het ʼn baie oulike embleem met ons voorletters gevat, asook ʼn strikkie in Boergondië wat die “tie the knot” metafoor verteenwoordig, opgewerk.
Fanie en sy strooijonkers het Vlootblou gedra met Boergondië dasse om by die strooimeisies te pas wat ook Boergondië rokke gedra het. My trourok was baie elegant met kant afwerkings van bo tot onder. Ek het baie inspirasie op Pinterest gevind.
Vertel ons meer oor jul wittebrood
Fanie het my verras met ʼn wittebrood in Mauritius en dit was ongelooflik. Ons het goed gedoen en plekke gesien, ek kan nie eens almal op noem nie, maar dit was letterlik die beste tyd ooit. Ons het in Mauritius se winter gegaan so dit het bietjie gereën aan die kant van die eiland waar ons was, maar dit het ons nie gestop om te swem nie. Die beste deel van die wittebrood vir my was toe ons per boot van een kant van Mauritius na die ander gegaan het en by eilandjies gestop het. Ons kon snorkel, het ʼn massiewe waterval besoek en het ʼn lieflike kreef-ete op die strand gehad. Dit is ʼn ongelooflike mooi plek en daar is so baie om te doen, ek sal verseker weer gaan.
Wat sou jul verander het as jul kon?
Daar is letterlik nie een enkele ding wat ek of Fanie sou verander nie. Alles was perfek van die venue, die blomme, die koek – elke aspek van ons troue het ons asems weggeslaan. As ons nou werklik moes iets verander sal ons albei wens ons kon ʼn hele naweek lange troue gehad het en dat Fanie se Pa Fanie Snr ook kon deel wees van sy seun se groot dag.
Watter advies het julle aan ander wat hul troue beplan?
Geniet net elke liewe oomblik, moet nie teveel stres oor nie klein goedjies nie, niemand sien dit eers raak nie. Luister na mekaar, hoor wat elkeen se idee is en wat julle soek – hê ʼn “safe word”, ons sʼn was Mielies, elke keer as een van ons bietjie moeilik raak of teveel stres het die ander een net Mielies geskree en dan het ons asem gehaal en net herstel na normaal voordat ons te wild gaan. Fanie is eintlik die enigste een wat Mielies gebruik het.
Vertrou jou verskaffers, want hulle weet wat hulle doen. Jy hoef nie te stres oor of alles reg gaan lyk soos jy wil hê nie, as jou verskaffers weet wat hulle doen sal alles perfek wees en is dit nie nodig om te bekommer nie.
Waardeer mekaar die persoon met wie jy trou gaan die res van jou lewe daar wees hy/sy soek net so graag soos jy ʼn perfekte dag om veraltyd te onthou so luister na sy/haar opinie en waardeer mekaar se moeite en insigte.
- Bruid Grimering: Githe-Meret Hancke Koertzen Professional Makeup Artist
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Anneli Young
- Venue + Dekor: Die Grand
- Troukoek: Cakes by Danika (Danika Scheepers)
- Trourok: Olivelli Bloemfontein
- Troupak: Edgars
- Strooimeisie rokke: YDE
- Skryfbehoeftes: My Creative Factory
- Spyseniering: Heidi Muller
- Platejoggie: DJ Mann & Everlasting Memories