Die Karoo is ʼn streek wat deesdae almal se oog vang en besonders is vir die meeste ons. Pieter en Clarise het op hul troudag perfek hierdie skoonheid vasgevang met hul straattroue in die klein dorpie, Hanover. Die twee het dit reggekry om hul troue in die straat te kon hou en het boonop dit net so elegant te laat lyk as van die top venues! Hul dekor was eenvoudig en het meestal gebruik gemaak van stringe feetjie-liggies en die omliggende skoonheid van die dorpie en natuur. Die natuurskoon is ook sterk teenwoordig in die foto’s.
Pieter en Clarise se fotograaf het perfek die samesyn en geluk vasgevang tydens die troue. Sy het seker gemaak dat elke element wat deel gevorm het van die dag, ook vasgelê is in die fotosessie. Die paartjie het hope inligting oor hul groot dag verskaf en is beslis ʼn moet lees vir toekomstige paartjies wat advies nodig het. Die paartjie brei uit oor alles van hul begroting tot hul ringe en die trourok. As jy ʼn soortgelyke idee ingedagte het vir jou grootdag, is hierdie beslis ʼn artikel om nie te mis nie!
Hoe het julle mekaar ontmoet?
Dit was ‘n romantiese dag wat deurgebring is op Facebook terwyl dit buite gereën het. ‘n Vriendskap-versoek het gelei tot ‘n koffie afspraak wat weer uiteindelik gelei het tot ‘n “Sal jy asseblief met my trou?”. Ons voel aangetrokke tot mekaar omdat beide van ons ‘n liefde vir mense en vreugde deel, ons geniet dit om te kan lag.
Hoe het julle verloof geraak?
Die verlowing het plaasgevind op een knie. Ons het besluit om die Heuwelsig opgaardam te besoek op my verjaardag. Om die opgaardam te bereik moes ons wel oor ‘n baie hoe sekuriteit heining klim..heeltemal onwettig ons weet! Ons het bo-op die opgaardam geklim wat uitgekyk het oor die stadsliggies, na ‘n tydjie het Pieter gesê dat hy graag vir my wil bid. Ek het my kop teen sy bors geleun en kon hoor dat sy hart ongelooflik vinnig geklop het. Ek het maar aangeneem dat hy bietjie hoogtevrees gehad het en niks daarvan gemaak nie. Die oomblik toe hy Amen sê het hy ewe skielik op een knie gegaan en ewe skierlik het ek ook hoogtevrees gehad.
Wat was die inspirasie agter jul dekor?
Ons #DarlingstraatTroue was geïnspireer deur die liedjie Sonneblom uit Bethlehem. Ons wou die skoonheid en opregtheid van die Karoo uitbeeld. Jan Sauer van die Hanover Boetiek Gastehuis het voorgestel dat ons gebruik maak van sy gastehuis oorkant die kerk vir die onthaal , dit was egter effens te klein gewees en daaruit het die idee gespruit van ‘n straat troue wat ons eindelose opsies gegee het. Met die kerk en gastehuis in die agtergrond kon die troue nie anders as om fenomenaal te lyk nie! Alfred vanaf Melikhaya Event Concepts het die straat gevul met ongelooflike dekor items vir die straat onthaal. Ons kon staat maak op mekaar se idees en die uiteinde was meer wonderlik as wat ons kon droom.
Hoe het julle die venue gekies?
Ons droom was om iets buitengewoon te hê wat die gees van die Karoo teen toon sou stel. Die straat onthaal het ook die simboliese pad wat ons al saam gestap het vir ons so mooi uitgebeeld.
Vertel ons meer van jul ringe
Clarise se ring was ontwerp deur Pieter en dit het haar smaak en karakter perfek aangevul. Pieter se ring was ‘n geskenk wat deur Clarise gekoop is in Prague, hy het so baie daarvan gehou dat hy besluit het om dit te kies as sy trouring.
Wat was die merkwaardigste oomblik van die aand?
Die hele dag, begin tot einde, was vir ons merkwaardig! Ons gunsteling oomblik was die oomblik toe ek in die paadjie afstap na Pieter. Pieter was oorweldig met emosie en net daar het ek geweet dat hierdie die beste paar tree van my lewe sou wees. My pa was in ‘n baie ernstige ongeluk gewees sowat 14 maande voor ons troue, hy was in ‘n rolstoel gewees tydens ons verlowing. Hy het daarna verskeie operasies ondergaan en het hard geoefen om weer te kan loop sodat hy saam met my sou kon afstap in die paadjie. Dit was ‘n ongelooflike voorreg.
Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf
Ons het ‘n uitstekende fotograaf gehad wat ongelooflik talentvol is. Sy was nie net ons fotograaf nie, maar het ook ‘n lewenslange vriendin geword vir ons. Landi het deur al die moeite gegaan om vroeg by ons troue te wees en het baie goed met al die gaste oor die weg gekom omdat sy so vriendelik is. Sy het selfs die ekstra myl gegaan en fotos van ons geneem terwyl ons op wittebrood was toe ons haar ontmoet het vir ‘n skemerkelkie. Fotografie was ‘n prioriteit vir ons en Landi was baie professioneel en het elke aspek van ons troudag vasgevang, ons drome het waar geword toe sy al die spesiale oomblikke vasgevang het. Ons sal altyd dankbaar wees vir die ongelooflike dienste wat sy vir ons gebied het.
Vir ons videografie het ons vir Carl Viloria van Spiffy Chap gebruik, ons het elke oomblik geniet daarvan om deel te wees van Carl Jan se kreatiewe proses.
Wat sou julle verander indien moontlik?
Ons weersomstandighede was nie van die beste nie, dit was ‘n baie winderige dag gewees. Die spyseniering-dienste wou die troue verskuif na die stadsaal, maar ons kon gelukkig steeds by die straat onthaal bly, dit het op die ou einde karakter bygevoeg tot die dag.
Wat is jul advies aan ander paartjies?
Dis ongelooflik lekker om jou toekomstige man deel te maak van die proses, vra sy opinies en maak gebruik van sy idees, jy kan dalk aangenaam verras wees oor sy voorstelle! Moenie konformeer tot die tradisionele idees nie, voeg jou eie kreatiwiteit tot die dag, dis julle spesiale dag! Moet ook nie geld mors op dinge wat nie regtig belangrik is vir julle nie.
Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?
Ons het 150 gaste genooi na die troue en het ‘n begroting van R100 000 gehad, ons het op die ou end R105 000 spandeer op ons dag. Die helfte van die troue het ons self betaal, maar het geld op verskeie maniere gespaar. Ons het nie konfetti gekoop nie, ons het self olyfblare gepluk vanaf ons bure se olyfbome, ons het ook nie ‘n troukoek gehad nie omdat ons nie regtig die tradisionele gebaar wou volg om die koek te sny nie. Omdat ons nie strooijonkers of strooimeisies gehad het nie, het ons baie geld in die opsig gespaar.
Clarise se pa was die dominee vir ons troue en haar grimering was gedoen deur Pieter se skoonsuster. Musiek in die kerk, asook die dansvloer opening was behartig deur vriende van ons. Ons het ook gebruik van kerksaal verniet gekry omdat Clarise se pa ‘n werknemer by die NG Kerk is. Pieter se ma het ook die lapel blomme vir sy pak self gehekel. Clarise se suster het ook die dankie-se kaartjies ontwerp vir die gaste asook alle ander skryfbehoeftes. Al was ons begroting ‘n groot kopseer toe ons aanvanklik begin het met die beplanning, was dit moontlik om heelwat kostes te bespaar. Ons was ook wonderlik om ongelooflike mense in ons lewens te hê wat ons gehelp het met die dag.
Vertel ons meer van jul wittebrood
Dit was so ‘n verreikende ervaring gewees om deur ons pragtige land saam te kon toer en soveel wonderlike mense te kon ontmoet. Ons het begin toer by een-straat stad in Klaarstroom waar ons vir Koos Roets, ‘n bekende Afrikaanse direkteur, daarna het ons na Boggomsbaai gegaan, ons het hier in ‘n huis gebly wat vriende vir ons geboek het vir ‘n paar dae as trougeskenk. Dis ook hier waar ons die fotograaf ontmoet het vir ‘n skemerkelkie en ons wittebrood fotos kon neem. Hierna het ons na Waenhuiskrans gegaan en van die wonderlike vissermanne van Cassiesbaai ontmoet.
Hierna het ons na Strand gegaan wat ons ook as ‘n trougeskenk gekry het vanaf ons vriende, hier het ons die Kaap verken en daarna na Paternoster gegaan. Nadat ons die kus verken het, het ons die Namakwaland verken met ‘n oornag op die Kamieskroon plaashuis, ons het hier binne ‘n kliphuis gebly. Voordat ons daar aangekom het, het ons byna uit petrol geraak, maar het gelukkig ‘n boer ontmoet wat ons ‘n liter petrol gegee het net om tot op Bitterfontein te kon kom! Ons het die wonderlike wittebrood afgesluit by die Augrabiese watervalle. Dit was ‘n ongelooflike ervaring!
[section=Klik hier vir diensverskaffers]
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Organictales
- Venue en spyseniering: Hanover Boutique Guest House
- Kerk: NG Kerk Hanover
- Spit: Jacques van Zyl
- Munisipaliteit (toestemming om ʼn straat troue te hê)
- Videograaf: The Spiffy Chap
- Grimering: Louisé Cockeran
- Hare: Monique
- Rok: Moda
- Musiek: DJ Brakkies
- Trou-uitnodigings: Meraci
- Dankie-sê kaartjies: Ademarie Haasbroek (sister)
- Prys en aanbidding: Meiring de Wet (vriend)
- Tjellis: Lara Snyman (vriend)