George & Savannah se Joodse troue

Die Mooi Troues span was besonders opgewonde om hierdie troue aan julle te kan wys.  Vandag deel ons George en Savannah se Joodse seremonie.  Hierdie paartjie se troue was 100% ‘n refleksie van hulle as ‘n paartjie en individue.  Hulle het seker gemaak dat elke element gekonnekteer kan word aan hulle en nie net bygevoeg is as ekstra dekor nie.  Hulle het ‘n klein en intieme troue gehad met 50 van hul naaste vriende en familie.  Die fotografie is behartig deur Wiaan Coffee Photography wat die paartjie se deernis en emosie perfek vasgevang het, asook alle spesiale oomblikke afgeneem het.

Wees ook seker om die foto’s van die seremonie te sien.  Hierdie is werklik ‘n seremonie waar dit merkbaar is hoe tradisie deel vorm van die dag asook hoe spesiaal dit vir die paartjie is om hul lewens saam te begin.  Gaan loer ook by die dekor foto’s om te sien hoe die paartjie eenvoudige onderborde gebruik het om ‘n groot fokuspunt op die aand te wees as dekor.

Hoe het julle ontmoet en wat trek jul aan tot mekaar?


Ons het op 14 ontmoet deur wedersydse skoolvriende, wat oortuig was dat ons uitgeknip is vir mekaar. Ons het egter eers twee jaar later met hul saamgestem!

George: “Sy was anders. Ek weet elke man dink dit seker van sy vrou, maar sy was, en is, besonders. Ek sal tot die dag van my dood nooit vergeet hoe sy ‘n neon groen skoenveter in haar hare gedra het die dag wat ons ontmoet het nie. Dit het gevoel of my siel daai dag tot ruste gekom het, waar dit vroeër soekend was na iets waarvan ek nie eers bewus was nie. Sy het stelselmatig my heel beste vriendin geword, en dit sou ek sê is die eienskap wat my die meeste tot haar aangetrek het. Sy het my huisie geword.”

Savannah: “George is onwrikbaar in sy beloftes, eerlik en hardwerkend. Sy geloofs oortuiging is sentraal in sy lewe, hy geniet my eksentrisiteit, verstaan my alternatiewe grappies en voor alles was hy my beste vriend, en is nogsteeds.”

Wat was die styl van jul troue?


Die styl van die troue was “ons”. Ons wou hê dat die troue ‘n uitdrukking sou wees van ons persoonlikhede en belange, dit is deurgevoer in alles vanaf die seremonie tot die dekor.

Savannah sê dat sy aan die begin baie van Pinterest gebruik gemaak het vir inspirasie, maar teen die einde het meestal staat gemaak het op Instagram. Sy het ook inspirasie getrek van troues wat sy onlangs bygewoon het, insluitende haar beste vriendin s’n.

Vertel ons meer oor julle wittebrood


Ons het Oudtshoorn, Stilbaai, Knysna en Wildernis besoek oor ‘n tydperk van twee weke.  Tenspyte daarvan dat ons al agt jaar in ‘n verhouding is, was dit ons eerste vakansie op ons eie, en as sulks was dit ‘n ongelooflike avontuur.   Van die asemrowende Cango Grotte wat ons albei vir die eerste keer beleef het, tot papnat reën in ons tentjie in Knysna se oerwoude, was dit regtig ‘n ervaring wat ons sal koester tot ons oudag.

Vir die van julle wat n wittebrood in die Kaap beplan, ongeag watter tyd van die jaar, vat baie warm goed! Ons het hopeloos te min baadjies en langmou-klere saamgevat.  Een van ons hoogtepunte was om saam sandkastele te bou laat in die aand op wildernis se strand.

Wat sou julle verander indien moontlik?


Alhoewel alles nie volgens plan verloop het nie, het die dag sy eie perfeksie gevorm, en ons sou niks verander nie.

Advies aan paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Moenie probeer om almal te akkommodeer nie, julle kan buitendien nie.

Kry ‘n Trou Aftiklys om seker te maak dat jy by al die belangrike aspekte uitkom.

Laastens wees eg aan jouself, maar wees ook gewillig om mee te gee op onderwerpe wat nie noodsaaklik is vir jou nie.

Diensverskaffers