Ted & Lexi se spesiale troue in Mpumalanga

Ted en Lexi se troudag was presies wat hulle ingedagte gehad het.  Nie net omdat hulle goed beplan het nie, maar omdat hul venue spesiaal gebou was vir die twee!  Lexi se ouers het die ekstra myl gegaan om te verseker dat die twee ‘n troue het wat hulle nooit sal vergeet nie.  Hulle het die venue van niks af gebou nie, en ook met hand uitgesoekte afwerkings afgerond.  Maar moenie te gou jaloers word nie, want hierdie venue is ook nou beskikbaar vir ander bruide en te kry onder aan die artikel by ons lys van diensverskaffers.

Ted en Lexi het uit hul pad gegaan om spesiale elemente deel te maak van hierdie dag soos die goue pere wat as naamkaartjie houers gebruik word.  Lees onder ook die rede agter die gebruik van pere as dekor elemente.  Die minimalistiese voorkoms plaas die fokus op die pragtige venue.  Dit gee ‘n skoon en kalm gevoel aan hierdie feestelike geleentheid.  Wees seker om nie die dekor mis te kyk as jy hou van ‘n oorwegend wit kleurskema met ‘n tikkie kleur vir elegansie.

Vertel ons van jul ontmoeting en die eienskappe wat julle na mekaar aangetrek het?


Ted en ek het ontmoet deur gemeenskaplike vriende se verjaarsdag partytjie in Stellenbosch.  Ons was aan mekaar voorgestel deur ‘n gemeenskaplike vriend daar, het lekker begin gesels en vinnig agter gekom ons het so baie ingemeen.  Die eerste ding wat my aangetrokke tot Ted laat voel het was sy energie en lus vir die lewe, hy het ook baie goeie maniere gehad, is vol pret met ‘n groot liefde vir diere.  Sy dans passies en ekstrovert persoonlikheid was ook vir my aantreklik.  Soos hulle sê, die kanse is goed dat jy met iemand gaan trou wat soos jou pa is.

Ek was aanvanklik aangetrokke tot Lexi omdat sy die sagste hartjie gehad het.  Sy het die kamer laat ophelder met haar vriendelike glimlag en groot bruin oë.  Sy het ook so ‘n kalm en liefhebbende persoonlikheid.

Wat was die styl van die troue en waar het jul julle inspirasie gevind?


Die styl van ons troue was ‘n kombinasie van klassiek, vroulik en plaas-styl troues.  Ons wou iets minimalisties met baie groen blom-elemente wat gemeng is met goud en wit.  Dit het ook uitgedraai presies soos ons gedink het dit moet lyk.  Ons het die pere, wat Ted opgevlieg het vanaf Kaapstad (200 pere!), goud gespuit met spuitverf en gebruik om die naamkaartjies van die gaste aan vas te bind.  Die pere het reguit vanaf Ted se familie plaas gekom wat dit bietjie meer spesiaal vir ons gemaak het.  Die storie agter die venue is baie uniek.  My ouers en broer het besluit om die Watershed Venue te bou spesiaal vir my en Ted nadat ons verloof geraak het.  Dit was gebou op my ouers se plaas op die Sabie pad naby Hazyview bo-op ‘n koppie wat ‘n 360 grade uitkyk het oor die Sabie Vallei.

Met die dat ek groot geword het op die plaas, was die koppie nog altyd my gunsteling plek.  Ted het my gevra om sy meisie te wees hier op die koppie en daarna het hy ook my gevra om sy vrou te word hier op die koppie presies drie jaar later.  Ons was so bevoorreg om ook ons troue hier te kon hou 16 maande later.  My pa, ma en broer het self die venue ontwerp en gebou uit niks.  Van die pragtige Indonesiese voordeur waarvoor hulle vir maande gesoek het tot die waterval muur in die ontvangs area en koper afwerkings en yslike kristal kandelare wat my broer gebou het met sy eie hande, hierdie is regtig een van die mooiste venues in die laeveld.  Dis gebou met soveel liefde.

Was julle met wittebrood?


Ons het in Junie na Mauritius gegaan vir ons wittebrood.  Dit was so spesiaal om tyd saam te kon spandeer as man en vrou na die besige maande voor ons troue en wel die besige tyd tydens die troue!  Ek sou sê ‘n wittebrood is beslis ‘n moet, dit hoef nie baie uitspattig of baie ver weg te wees nie, solank dit net êrens net julle twee saam is waar julle kwaliteit tyd saam kan spandeer as ‘n paartjie en bietjie opvang met mekaar.

Wat sou jul verander het as jul kon?


Hierdie was ‘n moeilik vraag vir ons omdat die dag werklik so perfek uitgedraai het, begin tot einde!  As ons een of twee dinge kon verander sou dit wees om al die foto’s, behalwe die familie foto’s, voor die seremonie te laat neem het sodat ons meer tyd met ons familie en vriende na die seremonie kon spandeer.  Ons sou ook graag ‘n videograaf wou gehad het.  Ons het pragtige  foto’s om ons te herinner aan die groot dag, maar ‘n video vang soveel meer van die dag vas soos die toesprake en seremonie, dit sou ook so spesiaal gewees het om die eerste dans weer te herleef deur ‘n video.

Advies wat julle aan ander paartjies kan gee wat besig is om hul troue te beplan?


Die moeilikste ding vir ons gedurende die beplannings proses was om ons gastelys saam te stel.  Ons familie is ongelooflik groot en ons het beide soveel vriende en familie wat ons graag by die troue wou hê.  Gee julself as paartjie genoeg tyd om hierdie lys saam te stel, praat oor die gaste waaroor julle onseker is en gee redes waarom julle hulle graag by die troue sal wil hê.  Vir my as die bruid het dit die dag soveel meer spesiaal gemaak om êrens te trou waar ek sentiment gehad het aan die venue.

[section=Klik hier vir meer diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]