As jy ook ‘n passie het vir vliegtuie en alles wat daarmee saamgaan, sal hierdie fotosessie beslis in jou smaak val! Francois en Leané het besluit om hul verlowings foto’s by vliegtuie te neem weens Francois se groot passie vir vlieg en vliegtuie. Lees onder meer hieroor, asook oor hul besonderse ontmoeting en hoe die twee bymekaar uitgekom het. Maak ook seker om die paartjie se slim idee vir trou geskenke te lees; Beslis iets wat alle paartjies sal wil implementeer!
Vertel ons hoe het julle ontmoet?
In ons hedendaagse lewe voel mens soms of daar nie meer iets soos ‘n feëverhaal bestaan nie. Ons storie is ‘n moderne feëverhaal. Ek, Leané, het so gebid vir my lewensmaat. Ek het later vir die Here gevra of hy asseblief net ‘n engel voor my deur sal aflewer, wat Hy wel gedoen het. Intussen, min wetend, het Francois ‘n foto iewers van my gesien en vir die Here gebid dat hy die vrou in die foto wil ontmoet. Omtrent vier maande daarna het die Here die ontmoeting moontlik gemaak. Francois se verhouding en liefde vir die Here asook sy eerlikheid en integriteit het my dadelik aangetrek.
Vertel ons die inspirasie agter die verlowing fotosessie?
Francois het ‘n ongelooflike passie vir vliegtuie en vlieg. Daarom was dit sy groot droom om ons verlowings fotosessie daar te hou. Dit is ook iets anders en uniek en ons hou daarvan om goed uniek te doen. Die uitstekende fotograaf, Chané van La’ane Photography, was ook vuur en vlam vir die idee. Sy het al ons pragtige en spesiale oomblikke so mooi vasgevang.
Vertel ons meer van julle verlowing?
Ons verlowing was ‘n groot verrassing en ek het dit glad nie verwag nie. Ek moes eintlik die naweek van ons verlowing gewerk het, dus het ek niks vermoed nie. Ek is bederf met ‘n massering by die ongelooflike Phantom Forest Eco Reserve en later die middag met sjampanje op die ongelooflikste uitkykpunt oor Knysna. Dit is hier wat Francois op sy knie afgegaan het en die groot vraag gevra het. Hy het gevra of ek bereid is om die pad saam met hom en die Here te stap in geloof, hoop en liefde. Hy het so gebewe op daai knie, dat ek bang was hy val om. Na hierdie wonderlike en romantiese oomblik het ons ‘n ses-gang maaltyd geniet.
Vertel ons wat is jul droom troue?
Ons droom troue gaan by die sprokie mooie Villa Castollini, by Brenton on Sea, plaasvind. Ek is ‘n absolute romantikus en sprokiesverhaal mens en hierdie plek val so reg in my kraal. My en Francois se troue se kleurskema is meestal roos goud wat baie elegant is en inskakel by die romantiese gevoel. Ons troue is absoluut ‘n viering van liefde en genade ,asook die groot geskenk dat God ons vir mekaar gegee het. Al ons naaste mense gaan deel in die vreugde wanneer ons ons liefde en drome saamvoeg om een toekoms te skep. Ons het dan ook ‘n unieke trou-geskenk idee. Die idee is dat elke paartjie twee bottels goeie rooiwyn met ‘n mooi brief, gedig of raad aan die bruidspaar gee. Die gedagte agter dit is om elke jaar ‘n paar bokse oop te maak. Een bottel te drink en dan die ander bottel saam met die paartjie wie s’n dit is te geniet.
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: La’ane Photography
- Grimering en hare: Wilna Allpass